Solidarteit Wêreld
2018 – Uitgawe 1 In Beweging
3D-drukkers Sol-Tech bly aan voorpunt
Deur Michelle | 12 Maart 2018

Sol-Tech, die Solidariteit Beweging se tegniese beroepsopleidingskollege, het pas hul eerste 3D-drukkers aangeskaf om studente in die gebruik van dié opwindende tegnologie op te lei. Hoewel opleiding in 3D-tegnologie nie ’n vereiste in Sol-Tech se kursusse is nie, is die aanskaf van hierdie toerusting net nóg ’n manier hoe die kollege wil seker maak hul studente se opleiding is van wêreldgehalte.  

Dit is geen geheim nie dat Sol-Tech oor die afgelope 10 jaar baie sukses bereik het deur hoë gehalte tegniese opleiding in verskeie ambagte, gepaardgaande met uitnemende praktiese toepassing van hierdie kennis.  

Een manier waarop Sol-Tech voortbou op hierdie reputasie van hoë kwaliteit en sukses is deur aan die voorpunt van tegnologie te bly. Daar word deurentyd navorsing gedoen oor wat studente 'n voorsprong sal gee in hul industrie. Die nuutste industriële tegnologie wat ál meer kommersieel raak, is 3D-drukwerk en Sol-Tech het nie op hulle laat wag om in te spring en die meeste te maak van hierdie nuwe geleentheid nie. 

“Ons is opgewonde daaroor dat Sol-Tech weereens op die voorpunt van tegnologie is met die aankoop van 3D-drukkers,” sê Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech. Hoewel 3D-drukkers gebruik kan word vir ’n groot verskeidenheid doeleindes, het Sol-Tech die gaping gesien wat dit kan vul in ambagte soos dié van passer-en-draaier asook  gereedskapmaker, waar daar gereeld prototipes vervaardig moet word. 

“Hoewel opleiding in die gebruik van 3D-drukkers nie tans ’n voorgeskrewe kurrikulumvereiste is nie, sal dit die studente wat dit baasraak, beslis 'n voorsprong gee. Dit is juis wat Sol-Tech suksesvol maak: opleiding wat studente ’n voorsprong te gee deur 'n ambag aan te vul met addisionele, hoë gehalte opleiding in skaars vaardighede,” verduidelik Van Deventer.  

Sol-Tech wil nou al gereed wees vir die veranderinge wat tegnologie inhou omdat dit opleiding ook sal beïnvloed. Om 'n 3D-drukker te kan gebruik, moet die operateur die regte rekenaarprogramopleiding hê, en dit kan selfs 'n spesialisrigting word. Passer-en-draaiers en gereedskapmakers sal, soos hulle tans CNC-programmatuur gebruik om onderdele reg uit te frees, die 3D-drukker se sagteware moet gebruik om digitaal 'n onderdeel te ontwerp wat laag-vir-laag deur die drukker opgebou word.  

Die 3D-drukkers sal ook die tyd wat dit passer-en-draaiers en gereedskapsmakers tans neem om onderdele te vervaardig en aanmekaar te sit, aansienlik verminder: Tydens die drukproses word groter gedeeltes van die onderdele reeds as ’n eenheid vervaardig deur die 3D-drukker, in plaas daarvan dat elke gedeelte van die onderdeel afsonderlik gemaak en dan aanmekaar gesit word, om maar een voordeel te noem.  

“Sol-Tech sal altyd groot klem plaas op sy ambagsopleiding, maar vanjaar is die droom vir Sol-Tech om opleiding selfs verder uit te berei tot ander moontlike rigtings en kursusse,” sê Van Deventer.   

Wat is 3D-drukwerk? 

Konvensionele draai- en freeswerk, waar oortolllige materiaal verwyder word, word ’n “subtractive manufacturing process” genoem, terwyl 3D-drukwerk ‘n “additive manufacturing process” genoem word. 3D drukkers gebruik onder andere plastiek, keramiek, hout en ’n verskeidenheid metale (wat deur hitte- of lasersmeltprosesse saamgevoeg word) om voorwerpe te vervaardig. 'n 3D-drukker werk baie soos 'n rekenaardrukker: Jy het 3D-prentjies op 'n digitale tekenprogram, net soos jy teks op ‘n woordverwerkingsprogram het.  Pleks daarvan om woorde op papier te druk, gaan die 3D-drukker 'n stappie verder deur ’n verskeidenheid lae filament laag-vir-laag op mekaar te druk totdat ’n voorwerp gevorm is.  

Met hierdie tegnologie kan jy ’n driedimensionele model van feitlik enige voorwerp uitdruk. Die druk van biologiese materiale soos vel, kraakbeen en ander selle is reeds moontlik, hoewel baie navorsing in die area nog nodig is voordat dit kommersieel vervaardig kan word. Wie weet, iewers in die toekoms mag dit dalk wees dat dokters ’n nuwe hart vir mense sal kan druk.  

Hierdie is nie wetenskapfiksie nie – bekostigbare 3D-drukkers is reeds in Suid-Afrika te koop (soos dié wat Sol-Tech aangekoop het) en die Amerikaner Chuck Hull het 3D-drukwerk reeds in 1983 uitgevind.  

Hoe werk dit? 

3D-drukkers werk op verskillende maniere, maar die basiese konsep is dieselfde. ’n Rekenaarprogram gee die opdragte wat die drukker laat werk. Sommige 3D-drukkers gebruik ’n soort plastiek om die modelle te druk, terwyl ander poeiermengsels gebruik. Die driedimensionele voorwerp word dan lagie vir lagie opgebou. Intreevlak-drukkers neem redelik lank om ’n voorwerp te druk, hoewel dit steeds vinniger as “subtractive manufacturing” is. 

Die 3D-druk-industrie sal, na raming, binne die volgende 10 tot 15 jaar ’n $105 miljard-industrie word en sal nie veel langer deur klein besighede en entrepreneurs geïgnoreer kan word nie. 

Reusagtige 3D-drukkers is selfs al gebruik om huise te bou!  

Bron: Hoezit www.hoezit.co.za  

  • 84
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close