Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 5 In Beweging
AfriForum lank nie klaar met Grace Mugabe
Deur Michelle | 27 September 2017

Deur Alet Rademeyer

Grace Mugabe, die Zimbabwiese presidentsvrou, mag dalk veilig terug op eie bodem wees ná die aanrandingsvoorval waarby sy onlangs betrokke was, maar die stryd om haar tot verantwoording te roep, duur voort.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en die burgerregte-organisasie se regspan is van mening dat Mugabe vervolg moet word.

Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum, sê ’n hersieningsaansoek om die kwessie van diplomatieke immuniteit tersyde te stel, gaan in die hof gebring word.

Die Suid-Afrikaanse regering het diplomatieke immuniteit aan Mugabe verleen kort nadat sy klaarblyklik ’n jong vrou, Gabriella Engels (20), in ’n hotelkamer in Sandton met ’n elektriese koord aangerand het.

In regskringe is die algemene gevoel dat Mugabe glad nie vir diplomatieke immuniteit in aanmerking kon kom nie omdat sy na bewering in Suid-Afrika was om ’n mediese ondersoek te ondergaan. Sy was nie vir amptelike sake (die SAOG-beraad) in die land soos wat voorgehou word nie. Boonop kan diplomatieke immuniteit nie opgeëis word ná ’n gewelddadige daad nie.

Die Mugabe-voorval het internasionaal aandag op Suid-Afrika gevestig en daar is talle vrae oor die Suid-Afrikaanse regering se hantering van die saak, veral in die lig van die beskerming wat die regering vroeër aan Omar al-Bashir, omstrede president van Soedan, verleen het.

Die Internasionale Strafhof (ISH) in Den Haag, Nederland het bevind dat die Suid-Afrikaanse regering sy plig jammerlik versaak het deur Al-Bashir nie tydens sy besoek aan Suid-Afrika in Junie 2015 te arresteer nie.

Dít en die jongste vergrype is ’n skandvlek op die land se naam en wys in die algemeen op die immorele en eensydige optrede van die regering, wat ook in die Mugabe-krisis die geval blyk te wees. Die regering was vermoedelik met ’n groot toesmeerdery besig wat Mugabe se immuniteit betref. Druk deur haar man, pres. Robert Mugabe, en moontlike dreigemente van SAOG-leiers om aan die beraad in Augustus te onttrek, het waarskynlik die deurslag gegee vir Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge en samewerkende regering, se vinnige afkondiging van diplomatieke immuniteit in die Staatskoerant.

Benewens ’n aansoek vir die tersydestelling van immuniteit vir Mugabe, hou adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, ook die optrede van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) dop. Indien die NVG nie binne 90 dae besluit om Mugabe te vervolg nie, is daar die moontlikheid van privaat vervolging om ’n skadevergoedingseis namens Engels teen Mugabe in te stel.

Prof. Hennie Strydom, dosent in internasionale reg aan die Universiteit van Johannesburg (UJ), het in ’n insiggewende artikel oor die debakel geskryf Engels het ’n grondwetlike reg dat geregtigheid moet geskied nadat sy aangerand is. Indien dié reg geskend word deur die toestaan van immuniteit, rus die onus op die Suid-Afrikaanse regering om te verduidelik waarom hy dit gedoen het. Indien regeringsamptenare egter geen verduideliking gee nie, kan hulle aanspreeklik gehou word.

Sover moontlike optrede teen Mugabe betref, kan ’n siviele eis teen haar ingestel word wat ook beslaglegging op eiendom wat sy in Suid-Afrika besit, kan insluit.

  • 2
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close