Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 4 Spreekbuys
Agt goue reëls om 'n sukses van jou loopbaan te maak
Deur Wian | 02 Augustus 2019

Dit is vir elke mens moontlik om ’n sukses van sy of haar loopbaan te maak. Die wel en weë van Solidariteit se meer as 180 000 lede het vir FLIP BUYS die geleentheid gebied om ’n deeglike studie te maak van die vereistes vir loopbaansukses. Hy het vir jare lank noukeurig gekyk na die redes waarom sommige mense bo uitkom en ander nie. Hy som sy gevolgtrekkings hieroor op in agt goue reëls om ’n sukses van jou loopbaan te maak.

  1. Vervul jou roeping

Baie mense se loopbaan vat net nooit vlam nie omdat hulle nie besig is om hul roeping uit te leef nie; hulle werk maar net. As Christen weet ek dat elke mens ’n lewensroeping het, en dat dit noodsaaklik is om so gou moontlik uit te vind wat dit is.

’n Mens sonder roepingsbesef werk al sugtende net om te leef, en leef nie om met lewensvreugde te werk nie. Daarom is dit belangrik dat jongmense nie ’n studierigting of werk kies vir die geld nie. Die “regte” beroep vir die verkeerde mens lei tot mislukking. Jy sal die meeste geld verdien in die veld waarin jy die beste is en waartoe jy geroepe voel. Geld is die beloning vir goeie dienslewering. Moenie mik op die geld nie, mik daarop om ’n verskil te maak. As jy dit regkry, sal jy goed daarvoor – ook in geldelike terme – beloon word. Vervul jou roeping, nie iemand anders s’n nie!

  1. Verdere studie die beste opbrengs op ’n belegging

Mense vra soms wat die beste belegging is, soos eiendom of aandele. Die regte antwoord is dat die beste opbrengs op belegging baie beslis in ’n mens se eie opleiding is. ’n Persoon wat geld en tyd in sy eie opleiding belê, word oor en oor in geldelike terme en lewensgehalte daarvoor vergoed in sy of haar werklewe. Opleiding kos geld en baie opoffering, maar mense sonder opleiding het baie keer nie geld vir kos nie, en moet baie harder werk en meer opofferings maak sonder die vooruitsig op ’n beter lewe. Hulle moet lewenslank werk vir hul geld, en verdien nooit genoeg dat hul geld vir hulle kan werk nie.

Daar is ’n nou verband tussen jou studie en jou roeping. Daarom moet jy sorg dat jy jouself toerus vir jou totale roeping, en nie net vir jou beroep nie. Prakties beteken dit dat jy nie net die minimum moet doen om jouself te kwalifiseer nie. Nie een van ons wil geopereer word deur ’n dokter wat net 50% gekry het nie. Begin deur jouself toe te rus met die beste opleiding beskikbaar, presteer so goed jy kan daarin, maar werk ook aan ’n positiewe lewenshouding, opbouende waardestelsel, en mens- en lewensvaardighede. ’n Afgeronde mens met ’n goeie opleiding kan selfs in teenspoed volhard, en is gewaarborg van uiteindelike sukses.

Moet ook nie altyd net na die “makliker” rigtings kyk nie; onthou – hoe moeiliker die studie, hoe hoër die uiteindelike opbrengs. Leer dus vir jouself ’n toekoms oop, dit kom nie vanself nie. Dawerende sukses word altyd voorafgegaan deur stille voorbereiding. Onthou ook dat daar nie goeie of slegte rigtings is nie. Sommige is miskien goed vir ander mense, maar sleg vir jou, of andersom. Die beste tuinier met ’n passie vir tuine sal lekkerder werk, ’n landwye tuinbesigheid opbou, en baie meer geld maak as ’n mediese spesialis wat elke oomblik van sy werk haat en flou word as hy bloed sien! Onthou, jy is nooit te oud om te leer nie.

  1. Werk aan jou sterk punte

Daar is ’n baie eenvoudige reël vir sukses: vind uit waarin jy goed is, en word die beste daarin. Dit beteken dat jy aan jou sterk punte moet werk, pleks daarvan om die hele tyd jou swak punte te probeer verbeter. Dit help nie ’n briljante rugbyspeler probeer heeltyd sy swak krieket verbeter nie. Hy sal net sy plek in die Springbokspan verloor, en ook nie die nasionale krieketspan haal nie. Niemand is briljant in alle rigtings nie.

Sommige mense kom gou agter wat hul sterk punte is, verbeter dit dan deur harde werk, oefening en studie, en kom só vinnig bo uit. Ander neem jare om hul sterk en swak punte te ontdek, en fokus nie op dit waarin hulle die beste is nie. Hul loopbaan is dan soos ’n vliegtuig wat heen en weer op die aanloopbaan ry maar nooit opstyg nie.

Dit beteken nie dat jy moet toelaat dat jou swak punte jou laat struikel nie. Omring jou byvoorbeeld met mense wat jou swak punte aanvul met hul sterk punte. Dink maar aan hoe Aäron namens Moses moes praat.

  1. Volg jou passie

Die gemiddelde mens werk sowat 40 jaar, en moet dan daarna leef op die vrugte van daardie loopbaan. Dis ’n baie lang tyd om iets te doen waaroor jy nie absoluut gaande is nie. As jy nie weet wat jou passie in die lewe is nie, is daar twee dinge wat jy kan doen om uit te vind. Gaan vir goeie beroepsleidingtoetse, of kyk na wat jy graag in jou vrye tyd doen. Die mees suksesvolle mense is dié wat betaal word om te doen waaroor hulle buitendien dol is! Passie is daardie petrol in die tenk wat jou tot bo gaan dryf.

  1. Leer jouself ken

Ons sien soms makliker ander mense se foute of mooi eienskappe raak as ons eie. Volwassenheid hang nou saam met selfkennis. Iemand wat hom- of haarself ken, weet wat hul aanleg, belangstellings en sterk punte is en wat nié. Hulle aanvaar hulself, is lief vir hulself (maar nie verlief op hulself nie!), en is gemaklik in hul eie velle.

Baie mense misluk in hul loopbane ten spyte van 'n hoë intelligensie, goeie kwalifikasies, harde werk en groot dryfkrag. Hulle word in diens geneem te danke aan hul vaardighede, maar word weer ontslaan weens hulle emosionele onvolwassenheid of karakterfoute. Daarom sê ervare personeelbestuurders dat 'n “goeie” vakature beter is as ’n slegte aanstelling!

Dit is soms verbasend dat mense in hul middeljare nog rondsoek en sukkel om die regte pos te kry. Dit gebeur gewoonlik omdat hulle hulself nie ken nie. Wanneer 'n goeie mediese spesialis wat nie kan bestuur nie as hoof van 'n hospitaal aangestel word, kry die hospitaal 'n swak bestuurder en verloor die mediese professie 'n goeie spesialis. Dis 'n verloor-verloor-situasie.

  1. Lewenslange leer

In vandag se vinnig veranderende wêreld, verouder kennis en ondervinding blitsvinnig. Daarom verstaan mense, wat jare lank suksesvol was, nie hoekom hulle skielik begin sukkel in hulle werk nie. Stagnasie is die dood in die loopbaanpot.

Prakties beteken dit dat ’n kwalifikasie wel ’n goeie en noodsaaklike wegspringplek is, maar dit is nie ’n gewaarborgde wenpaal nie. Die wêreld staan nie stil nie, daarom kan jy ook nie. Suksesvolle maatskappye en mense besef dit ook, en daarom is lewenslange leer vandag die “in-ding”. Moenie sug en dink dit beteken jy moet lewenslank nagte om leer vir nog grade nie. Op universiteit of kollege leer jy om te leer. Formele studies is en bly altyd goed, maar met kursusse, konferensies, boeke of net ’n leeringesteldheid kan jy baie ver kom. Inteendeel, die “universiteit van die lewe” is onontbeerlik vir sukses. En onthou, hou jou oë en ore oop; algemene kennis is toe nie so algemeen nie!

  1. Verander van werk en beroep

In die ou tyd het 'n mens vir ’n werk studeer toe jy jonk was, en dan lewenslank dieselfde werk by dieselfde plek gedoen tot met jou aftrede. Later het dit verander, en het mense in hul loopbaan gemiddeld ses keer van werk verander. Maar die wêreld verander al vinniger, en talle mense verander vandag nie net ses keer van werk nie, maar ook nog drie keer van beroep! Dit beteken jy kan nie meer bekostig om vir ’n werk te leer nie, jy moet leer om te leer. Dis nie nodig om bang te wees vir die toekoms nie, hou net jou opsies en jou (lerende) oë en ore oop.

  1. Werk aan jou werk

Net die beste maatskappye oorleef in vandag se mededingende wêreld. Daarom kan geen maatskappy oorgerus raak nie, en ook nie enige werknemer nie. Daarom – werk aan jou werk, moenie net elke dag werk toe kom en jouself afsloof nie. Die enigste verskil tussen 'n groef en 'n graf is die diepte. Probeer om nie net harder te werk nie, werk slimmer.

Die belangrikste van alles: geniet jou werk, en bly leer!

 

 

  • 10
  •  
  •  
Redakteursbrief

Dit voel vir my of ’n mens hierdie tyd van die jaar ’n ekstra hupstoot nodig het om uit die bed uit op te staan en jou kragte bymekaar te skraap om die dag aan te pak. Dit het nie net te doen met die koue daarbuite nie: Ek merk op dat almal om my […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close