Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 5 In Beweging
Akademia open studiesentrums in PE en Namibië
Deur Michelle | 29 September 2017

Akademia brei in 2018 uit na die Oos-Kaap en Namibië wanneer studiesentrums in Port Elizabeth en Windhoek hul deure vir voornemende studente open. Dít bring Akademia se voetspoor op 13 studiesentrums te staan.

Port Elizabeth se studiesentrum is op die terrein van Akademia se vennoot, die Voortrekkers, geleë, terwyl Windhoek se sentrum in die pragtige fasiliteite van die Kultuurgemeenskapsentrum by die monument geleë is. Aansoeke vir studies in 2018 by dié twee sentrums kan nou gedoen word.

Paul Vogel, Akademia se operasionele bestuurder, verduidelik dat daar versoeke vanuit Namibië se Afrikaanssprekende geledere gekom het om ’n studiesentrum in die buurland te open. “Die Namibiese Afrikaanse Privaatskole Organisasie (Napso) het Akademia besoek om die voorstel te bespreek, waarna ons goedkeuring van die Namibiese regering gekry het. Nou het voornemende studente in Namibië die geleentheid om hul kwalifikasies teen 'n bekostigbare prys plaaslik te verwerf, in plaas daarvan om die groot onkoste van studies in Suid-Afrika aan te gaan,” verduidelik hy.

Dié twee nuwe studiesentrums sal op presies dieselfde wyse as hul Suid-Afrikaanse eweknieë funksioneer, met studente wat verpligte nauurse klasse by die interaktiewe studiesentrum bywoon. Die sentrums is met moderne videokonferensie-tegnologie toegerus en gratis internettoegang is beskikbaar om studente toegang tot die Spens, Akademia se unieke aanlyn ondersteuningstelsel en biblioteek, te gee.

 

Watter kwalifikasies word aangebied?

Akademia fokus op toeganklike en bekostigbare moedertaalonderrig wat plaaslik en internasionaal relevant is. Die geakkrediteerde programaanbod en praktiese, beroepsgerigte kwalifikasies bied aan studente die geleentheid om eersteklas hoër opleiding en opvoeding te ontvang, om daardeur 'n bydrae in sowel sy gemeenskap as die wêreld te lewer.

Studente kan tans vir BCom-grade in ondernemingsbestuur, bestuursrekeningkunde, ekonomie en regte, en finansiële beplanning inskryf. Hoër sertifikate in rekeningkunde en kantooradministrasie word ook aangebied, asook 'n gevorderde diploma in projekbestuur. Intussen word kwalifikasies op die gebied van regsgeleerdheid, rekeningkunde, verpleegkunde en sosiale wetenskappe ook ontwikkel.

 

Hoe werk die onderrigmodel?

Akademia se onderrigmodel kombineer ’n klaservaring met afstandsonderrig. Alle klasse is regstreeks in verbinding met mekaar, sowel as met een van vier professionele ateljees by Akademia se hoofgebou waar die dosent gesetel is. Studente sien op een groot skerm die klasnotas, en op ’n tweede skerm word die dosent lewensgroot vertoon.

Kontaksessies duur ongeveer vyftig minute, en studente kan aan die klas deelneem deur eenvoudig ’n hand op te steek en ’n vraag te vra. Sagteware bring outomaties so ’n student na die voorgrond van die videovoer in ander klasse, byna asof die vraag in dieselfde lokaal gevra is. Op soortgelyke wyse kan die dosent vrae aan enige student in enige van die klasse rig, en word die bespreking regstreeks oor studiesentrums heen gedeel en ervaar.

Die ateljees vanwaar die dosente klasse aanbied, is met gevorderde tegnologie ingerig. Voor die dosente verskyn al die verskillende klasse op groot televisieskerms, waar hulle studente kan identifiseer vir vrae en opdragte. Digitale penne verseker dat wat die dosente ook al op die papier voor hulle skryf, oorgedra word na die skerms in studiesentrums. Terselfdertyd is klank- en videoingenieurs deurentyd in die beheerkamer besig om klank, video en ander tegnologiese aspekte te monitor en te optimaliseer.

Ná die klasse word die opnames geredigeer en binne enkele dae op Akademia se digitale leerruimte, die Spens, vir studente beskikbaar gestel. Hier kan studente video-opnames van die klasse aflaai, argiefmateriaal bestudeer, of selfs net die klankbaan op hul selfone laai om later weer as ’n podsending te luister.

  •  
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close