Solidarteit Wêreld
2016 – Uitgawe 4 Spreekbuys
Alle Arbeid is Adel
Deur Michelle | 18 Augustus 2016

‘n Paar jaar gelede kom praat ‘n groep ouers met Steve Scott, president van die vakbond, oor jong witmense wat nie werk op die myne kry nie. Die ouers voer aan dat die onderste twee derdes van poste op myne in die praktyk vir “swartmense gereserveer” is. Die myne se kwotabeleid bepaal dat swartmense in die boonste derde van poste aangestel moet word omdat daar gepoog word om die bevolkingsamestelling in die boonste derde te weerspieël. Aan die ander kant kry jong witmense nie poste in die grootste deel van die werksmag – die onderste tweederdes – nie. Die ouers wou by Steve weet hoe hul kinders dan ooit tot die werksmag sal kan toetree, aangesien hulle nou aan die bo- en onderkant uitgesluit word.

In ons rasverdeelde land is sulke rassesake nie maklik om te hanteer nie, maar Steve gaan bespreek dit met die Bestuurshoof van ‘n groot myn. Na raadpleging met al die betrokke vakbonde besluit die betrokke myn om ‘n twintigtal wit jongmense ‘n kans in die intreeposvlakke te gee. Steve roep hulle bymekaar en verduidelik dat die pad boontoe onder begin. Hy sê ook dat dit die eerste keer is dat die myn wittes in die onderste poste aanstel, en dat daar haakplekke kan wees, maar dat vasbyters hul pad boontoe kan oopwerk.

Toesighoudend

Toe die jonges na hul eerste skof boontoe kom, wag Steve hulle in om te hoor hoe dit gegaan het. Die meeste jonges praat en gesels opgewonde oor hul ervaring, maar een jongman lyk taamlik bekaf. Steve herken hom as ‘n seun wat nie sy skoolloopbaan voltooi het nie, maar wat graag werk wou hê. Hy stap nader en vra uit oor die dag se werk. Die jongman se antwoord het Steve sprakeloos gelaat: “Oom, eintlik het ek ‘n meer toesighoudende pos gesoek.” Steve se verbasing was opreg. Hier is iemand sonder matriek of enige ervaring, maar wat op sy eerste werksdag ‘n “toesighoudende” pos wil hê!

Apartheid-werksmag

Hierdie geval is nie uniek nie. Koos de Beer, ‘n hoofraadslid van Solidariteit, vertel dat dieselfde by ‘n staalfabriek gebeur het. Baie wit jonges wil nie heel onder begin nie. Hulle beskou daardie poste as “swart” poste en meen die werk en die vergoeding is minderwaardig. Natuurlik kan 'n mens nie veralgemeen nie. Daar is baie jong wittes wat enige kans aangryp om in ‘n werksplek in te kom om hulself te bewys. Daar is egter ongelukkig ook baie wat nog in die ou rasgebaseerde apartheid-werksverdelings vaskyk.

Dis natuurlik nie net sommige jong witmense wat nog met “rassebrille” na werk kyk nie. Dis nog ‘n algemene praktyk onder wit en swart volwassenes en werkgewers wat onbewustelik apartheid in die werkplek voortsit. Hulle beskou die intreeposvlakke as steeds net vir swartmense bedoel. Dit skep ‘n groot struikelblok vir flukse jonges om in die werksmag in te kom, en is vernederend vir swartmense wat die verdeling van poste gegrond op witmense bo, swartmense onder, as ‘n oorblyfsel van apartheid sien.

Dit wys ook die skynheiligheid van die voorstaanders van rassekwotas duidelik uit. Die Minister van Arbeid kla vreeslik oor topbestuursposte oorwegend wit is, en voer aan dat apartheid daar nog voortgesit word. Hierdie poste maak egter minder as 3% van die land se werksmag uit. Aan die ander kant is sy doodstil oor die grootste deel van die werksmag waar “swart werksreservering” in die praktyk geld. 

Cappuccino

Dit is so dat apartheid die land se werksmag volgens ras skeefgetrek het. Suid-Afrika se werksmag het soos Cappuccino gelyk: die boonste kwart wit en die onderste driekwart swart. Die rassekwotas het die boonste kwart verander volgens die “verteenwoordigendheidsformule” van transformasie. Hiervolgens moet die werksplek in die boonste posvlakke die bevolkingsamestelling weerspieël volgens die formule van 80 swart, 9 wit, 9 bruin en 2 Indiër. Hierdie “Transformazi-Nazi’s” is egter oneerlik. Die Wet bepaal uitdruklik net dat die posvlakke waar swart groepe “ónderverteenwoordig” is, “reggestel” moet word. Daar is geen plig op die staat of maatskappye om die groot meerderheid posvlakke waar swart groepe “oorverteenwoordig” is, te “transformeer” nie.

Dit bring mee dat die gevolge van apartheid aan die bokant reggestel moet word, maar in die onderkant voortgesit mag word. Dit is onbillik, want die hele arbeidsmark behoort genormaliseer te word.

Geleenthede

Daarmee word nie bedoel dat ons saamstem met die onbillike rassepraktyke wat onder die naam van “regstelling” gepleeg word nie. Om dieselfde onbillikhede aan die onderkant van die werksmag aan die bokant net “om te keer”, gaan ook nie reg wees nie. Ons pleit bloot vir billike geleenthede vir wit jongmense, omdat ons glo aan hul wilskrag en vermoëns om hulleself op te werk. Die beste bewys dat daar niks met ons jonges se “koppe én hande” verkeerd is nie, is die duisende skoolverlaters wat ‘n paar jaar gelede met groot onderskeiding in Brittanje handewerk gedoen het. Die “weersin” van sommige jong wittes téén handewerk is ook ‘n baie onlangse verskynsel. Daar het byvoorbeeld tot in die laat tagtigerjare ‘n sterk “Blanke Bouwerkersvakbond” onder leiding van die vuurvreter Gert Beetge bestaan. Dis egter nie net ‘n “wit” verskynsel nie; talle bruinmense kla ook dat baie van hul jongmense nie meer edele handewerkberoepe soos messelaars wil volg nie.

Swakker opgelei

Die statistikus-generaal het die land onlangs regop laat sit met sy stelling dat die swart jeug vandag swakker opgelei is as hul ouers onder apartheid. My waarneming is dat dit ook met wit jongmense die geval is. Die boonste 25% is grootliks dieselfde of hoër opgelei as hul ouers, maar die meerderheid is swakker opgelei – ‘n vroeë aanduiding van komende armoede. Hierdie vlakke van opleiding weerspieël die skeefgetrekte opleidingstelsel in die land. Daar is nog top universiteite, maar die ou tegniese kolleges en die magdom opleidingsentrums van sakereuse is òf baie swak, òf gesluit, òf nie toeganklik vir wit en bruin kinders nie. Daarby is die Seta-stelsel ook sterk op ras gebaseer en kry wit jongmense nie hulp by die Nasionale Vaardigheidsfonds waartoe hul ouers maandeliks bydra nie. Maatskappye se rasseteikens vir opleidingsposte plaas in die praktyk ‘n verbod op die aanstelling van jong wit aansoekers.

Oplossing

Die oplossing vir hierdie probleem is drieledig. Eerstens moet die onderkant van die apartheid-arbeidsbestel verander word om toegang vir jong wittes te gee. Tweedens moet die apartheid-arbeidskultuur verander word sodat intreevlakwerk nie tot ‘n sekere ras beperk is nie. Jong wittes, werkgewers én die samelewing sal hierdie kopskuif moet maak. Derdens sal geleenthede vir intreevlakwerk en opleidingsgeleenthede, ook vir wit en bruin jongmense, geskep moet word. Die werksmag moet genormaliseer word sodat jong wittes wat heel onder begin, ook soos Ben Schoeman en Ian McRae van ouds die hoofde van onderskeidelik die Spoorweë en Eskom kan word.

 

 

 

  • 8
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Ons het hierdie jaar weer afgeskop met gedeeltelike duisternis weens Eskom en beurtkrag. Die ongerieflike beurtkragskedules was op almal se lippe en Facebook-profiele. Dit tref ‘n mens mos reg in die middel van die besigste tyd ná werk, wanneer jy moet kos maak, kinders bad of gou daardie bondel wasgoed in die wasmasjien moet gooi […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close