Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 4 Nuuswaardig
Anderkant die meerderheidswaard
Deur Michelle | 10 Augustus 2017

Foto krediet:

Kollektiewe selfmoord nie opsie nie; selfvertroue wel 

Deur dr. Dirk Hermann

Aan die suidpunt van Afrika bly ’n klein groepie mense. Hulle is van Afrika, maar sommige Suid-Afrikaanse politici beskou hulle as vreemdelinge. Hulle het nie ’n ander blyplek nie, maar sommige Afrikane sien hulle as synde van ’n ander plek. Hulle is ’n minderheid, maar in die oë van talle is hulle ’n gediskrediteerde minderheid. Daar word van dié groepie gesê dat alle probleme begin het toe Jan van Riebeeck hier aangekom het. Is dié verwysing kodetaal daarvoor dat alle probleme eintlik wit mense se skuld is? Daar moet ’n oplossing vir “probleme” gevind word.

Dié klein groepie mense het getrek, geveg en in konsentrasiekampe gesterf. Hulle het ná die Anglo-Boereoorlog en die armoede van die 1930’s opgestaan. Toe, 115 jaar gelede, het hulle ’n vakbond gestig om hulle in onsekere tye te beskerm. Vandag is dié vakbond Solidariteit en doen hy dieselfde – hy beskerm.

Minderheid, maar merkwaardig

Dié klein minderheid is ’n merkwaardige groepie wat ’n eie taal ontwikkel en ’n moderne staat gevestig het. Hulle moes as ’n klein minderheid dikwels veg om oorlewing en het ’n geskiedenis van krisis en trauma agter die rug. Hulle moes die vernedering wat die koloniale moondheid Brittanje hulle aangedoen het herhaaldelik beleef. Hulle moes in Afrika oorleef.

Ná 1994 was die klein groepie min in getal en ongewild. Die meerderheid het ’n meerderheidsideologie begin implementeer en die klein groepie was blootgestel – baie blootgestel. Hulle was ’n ongewilde minderheid in ’n groot meerderheidsomgewing. Die implikasies daarvan was verbloem deur ’n Springbokrugbytrui wat deur Mandela gedra is, maar implikasies het mettertyd al hoe duideliker geword.

Die meerderheidsideologie het na alle vlakke van die samelewing begin oorspoel. Die klein groepie het nie meer vriende gehad nie. Blade Nzimande het op ’n SAKP-kongres gesê: “White worker, you are on your own.”

Op sosiale media is hulle beledig en ontmens. Mense in gesagsposisies het begin sê dat wit mense vreemdelinge is en Afrikaner-boytjies hulself moet gedra. Dubbele standaarde wat rassisme betref, het algemeen begin voorkom, maar die wêreld was stil daaroor. Die sosiale struktuur het dit as aanvaarbaar geag.

Die meerderheid bedryf ’n klipharde rassestelsel onder die dekmantel van regstellende aksie: Die meerderheid se getalle moet op alle posvlakke weerspieël word. Die minderheid is uitgedruk, maar volgens die gemeenskapnorm is dit aanvaarbaar.

Die klein minderheid het vervreemd begin voel. Hulle het magteloos en betekenisloos begin voel. Hulle is alleen. Die stelsel het hulle uitgedruk. Hulle het geen morele kapitaal gehad om dit te beveg nie.

Hul getalle is getel. As daar te veel van hulle op die telkaart verskyn, kan maatskappye nie punte kry nie. Hulle is nie meer opgelei nie, want hul opleiding het nie punte getel nie. Hul jongmense is toegang tot studiebeurse of internskappe ontsê, want dit sou nie punte verwerf nie.

Hulle sukkel om werk te kry – nie weens dit wat hulle kon doen of nie kon doen nie, maar wel op grond van hul voorkoms. Ten spyte van die geïnstitusionaliseerde rassisme waaraan hulle onderwerp is, is hierdie minderheid steeds uitgebeeld as die rassiste in samelewing.

Valse klagtes oor rasse-uitsprake is aan die orde van die dag. Die howe het begin om die rasse-ideologie hul eie te maak. Die klein minderheid het begin om die grofste sake wat met ras verband hou, te verloor. ’n Oop seisoen het vir die minderheid aangebreek.

Solidariteit – plek van veiligheid

Die klein groepie was alleen, maar het wel iets gehad – mekaar. Hulle het Solidariteit gehad – dit is al. Solidariteit is die plek van veiligheid vir die minderheid. Solidariteit het vir hulle opgestaan en het hoop gebring. Solidariteit het geveg en gebou en doen dit steeds. 'n Regsfonds is gevestig om in die howe te veg en ’n Boufonds om te bou. Die minderheid het niemand in die werkplek gehad wat vir hulle kon opstaan nie, maar hulle het Solidariteit.

Solidariteit het begin oplei daar waar nie opgelei word nie en Sol-Tech, Akademia, S-leer en die Solidariteit Helpende Hand Studiefonds het die lig gesien.

Solidariteit het al hoe meer gegroei, maar in die arbeidswêreld was dinge nie anders as in die res van die land nie. Suid-Afrika is ’n meerderheidswêreld met drempels waaraan voldoen moes word. In die politiek kan ’n party erken word as dit 0,3%-steun toon, maar in die arbeidswêreld geld drempels van 30% tot 50%. Dit het 'n bedreiging vir Solidariteit ingehou.

Dít wat die klein groepie gehad het, word toe bedreig. Die paradoks was dat hierdie voertuig van die minderheid meerderheidsdrempels moes bereik om te kan oorleef. Daar is van hulle verwag om kollektiewe selfmoord te pleeg om te keer dat hulle nie vermoor word nie.

“Pasop, jy word wat jy werf,” het ’n ou vakbondstrydros altyd gewaarsku. Plek-plek het Solidariteit gesien wat die prys van die kantelpunt is wanneer daar buite sy tradisionele mark gewerf word – dit sluit in gewelddadige stakings, eise om wit organiseerders te vervang, druk op die vakbond se godsdienskarakter, druk om die taal te verander, wat natuurlik ook die verandering van kultuur sou meebring. Die prys is te hoog, want wat op die lang termyn op die spel is, is die wese en opdrag van Solidariteit en ’n wêreld van alleenwees vir die minderheid.

Ben Freeth, ’n boer van Zimbabwe, het vir Solidariteit kom vertel hoe die wêreld lyk van ’n wit Afrikaan wat alleen staan. Wit mense in Zimbabwe het geen organisasie gehad wat na hul belange kon omsien nie. Hy het kom verduidelik hoeveel sterker die klein groepie in Suid-Afrika is omdat hulle instellings soos Solidariteit het.

Intussen het Solidariteit in ’n Beweging van 18 instellings en meer as 400 000 lede ontwikkel. Dit het baie hoop vir die klein groepie gebring. Tot ’n groot mate het Solidariteit dít geword wat tussen hoop en wanhoop gestaan het.

Hy het erkenningsooreenkomste heronderhandel en hy was hof toe vir erkenning op grond van belang. Hy het samewerkingsooreenkomste gesluit en erkenning deur verhouding en invloed behou. Hy was die leier op die gebied van arbeidsverhoudinge, en sy organiserende personeel en verteenwoordigers was op die voorpunt van kennis. Hy het van kollektiewe instrumente gebruik gemaak soveel hy kon, maar hy het geweier om selfmoord te pleeg. Hy het homself nie begin opoffer ter wille van drempels nie. Hy het besef dat as hy dít sou doen, dit in elk geval sy einde sou beteken.

Solidariteit weet wie hy is

Solidariteit weet wie hy is en wat sy opdrag is. Hy moet vir die klein minderheid ’n toekoms bou waar hulle vry, veilig en voorspoedig is – en die werkplek is die beginplek daarvoor. Kollektiewe selfmoord is dus nie ’n opsie nie; selfvertroue wel. Dit lei tot lewe.

Daar is nuut gedink en nuut gedoen anderkant die swaard van die meerderheid. As Solidariteit nie die meerderheid het nie, wat het hulle? Hulle het mekaar. Só het Solidariteit die idee van beroepsgildes begin ontwikkel.

Gildelede is gewone Solidariteit-lede wat op al die Solidariteit-voordele geregtig is. Gildes bied bloot bykomende voordele vir lede wat by spesifieke gildes ingeskakel het.

Die klein minderheid is deur gildes oor werkplekke heen in beroepsgroeperings georganiseer. Só word enkelinge ’n gemeenskap. Die klein minderheid het hulself sterk gemaak. Maatskappye hoef nie beroepsverenigings te erken nie, dit word deur Solidariteit erken. Solidariteit het op dié wyse begin om self beheer oor sy toekoms te neem.

Beroepsverenigings het ’n nuwe uitkyk op die wêreld van werk gebring.

Iemand moes verantwoordelikheid vir ons jongmense neem en net die gemeenskap self kan dit doen. Beroepsgildes bied aan jongmense toegang tot ’n bepaalde beroep. Binne gildes tree ouer mense as mentors vir nuwelinge in die beroep op, bied vakansiewerk en internskappe aan hulle. Só word ’n netwerk gevorm om werk aan jongmense te verskaf. Studiefondse is begin en jongmense het ’n broodnodige hupstoot gekry. Die krag van mekaar is ontdek.

Die grootste produk van beroepsgildes is nie iets waaraan gevat kan word nie, maar bloot die wete dat daar aan 'n toekoms gebou word ook vir die volgende geslag. Die gildes se sukses hang af van sy vermoë om kulturele kapitaal te mobiliseer, nie bloot ’n fooi-vir-diens-benadering nie.

“Gilde” geleentheid

Deur S-Leer bied beroepsgildes voorgesette opleiding in Afrikaans aan hul lede. Danksy S-Leer kan lede verpligte voortgesette opleiding en ontwikkeling en VOO- (CPD-) punte in hul eie taal ontvang en verwerf. Die opleidingsessies is ook ’n saamkomplek waar lede kan tuis voel. Mense voel weer dat hul lewens betekenis het. Die opleiding gaan altyd met waardeoordrag gepaard.

Die gildes het begin om as waghond vir die professie op te tree. Die bydrae wat die gildes lewer, is groter as die blote somtotaal van die klein minderheid. Die gildes is ook ’n netwerk waardeur gildelede mekaar kan ondersteun.

Die beroepsgildes staan in ’n mooi interaktiewe verhouding met Solidariteit se opleidingsinstellings.

Elke studieprogram van Sol-Tech en Akademia is ’n voedingsbron vir die gildes. S-Leer gaan verantwoordelik wees vir die voortgesette leer van Sol-Tech- en Akademia-alumni wat by gildes betrokke raak. Op dié wyse word die naelstring met die Solidariteit Beweging nooit geknip nie.

Gildes het ook verantwoordelikheid geneem om mentorskappe, internskappe en toegang tot werk aan Sol-Tech- en Akademia-studente te bied.

Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum help skole om uitnemend te wees en staan leerlinge met beroepsbeplanning by. Die skoleondersteuningsentrum skep ’n natuurlike geleentheid en kanaal om ’n jongmensgilde te skep.

’n Jongmensgilde kan studente en jongmense help om die oorskakeling van skool en studies na werk suksesvol te oorbrug. Deur dié gilde kan jongmense met loopbaanbeplanning, onderhoudvoering, die opstel van CV’s gehelp word. Deur die ander gildes kan lede van die jongmensgilde toegang tot werk kry. Op sy beurt kan die jongmensgilde ’n kanaal word om Solidariteit en die gildes se ledetalle aan te vul. ’n Jongmensgilde is deel van die antwoord op die onsekerheid wat jongmense oor die toekoms ervaar.

Soos die jongmensgilde kan ander gildes rondom spesifieke belange ontwikkel word, byvoorbeeld ’n vrouegilde om vroue in die werkplek by mekaar uit te bring en saam te snoer. So ’n gilde kan vroue vanuit Solidariteit se Christelike grondslag en fokus op die gesin ondersteun om ’n balans tussen gesin en werk te vind. ’n Gilde wat mense met gestremdhede in die werkplek saamsnoer om hulle op dié wyse sterker te maak, bied ook baie moontlikhede en maak baie sin.

Gildes het ’n nuwe wêreld vir Solidariteit geskep. Mense wat buite Solidariteit se tradisionele wêreld geval het, is skielik nou toeganklik. Dít wat Solidariteit se bedreiging was, het nou sy grootste geleentheid geword: Solidariteit het ’n kragtige werknetwerk gevestig.

Dr. Dirk Hermann is bestuurshoof van Solidariteit.

Redakteursbrief

Deur Cilleste van Dyk Ons sal self. Hierdie drie woorde kan baie arrogant klink sonder die regte konteks. Solidariteit sê: Ons sal self, nie omdat ons dink dat ons dinge alleen of deur ons eie krag sal regkry nie, maar omdat dat daar geen ander opsie is vir ’n voorspoedige toekoms nie. Daarom sê ons […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close