Solidarteit Wêreld
2014 - Uitgawe 3 Spreekbuys
Arbeid: Omskep die probleem in oplossing
Deur Michelle | 25 Junie 2014

Die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse arbeidersbeweging is grootliks ’n weerspieëling van die groter geskiedenis van die land. Die rede hiervoor is dat werkers weens hul getalle en vakbonde deur hul ekonomiese en politieke invloed ’n groot rol in die verloop van gebeure in ’n land speel. Dit het die bekende hervormer van die tagtigerjare se arbeidsbedeling, prof. Nic Wiehman, laat sê dat gebeure op die arbeidsterrein landsgebeure altyd met ’n dekade vooruitloop, skryf Flip Buys.

Daarom het prof. Wessel Visser, arbeidshistorikus van Stellenbosch, in ’n boek oor die Mynwerkersunie geskryf dat hulle in die twintigste eeu ’n invloedryke rol in die Suid-Afrikaanse politiek en ekonomie gespeel het. Net so het Cosatu sedert sy stigting in 1985 ’n deurslaggewende invloed op landsgebeure gehad.

Cyril Ramaphosa, leidende politikus, eertydse leier van die NUM en nou adjunkpresident, het met Cosatu se ontstaan gesê dat die stryd in die werkplek nie geskei kan word van die groter politieke stryd in die land nie. Sy siening was dat swart werkers se omstandighede nie wesenlik sou verander tensy daar ’n politieke bewindsverandering kom wat hulle sou bevoordeel nie. Daarmee het hy die toon aangegee vir die belangrike politieke rol wat Cosatu voor 1994 gespeel het, en waardeur die swart arbeidsmag in werklikheid die vryheidsmag vir swart mense geword het. 

Arbeidsgeskiedenis

Suid-Afrika het net meer as ’n eeu gelede begin industrialiseer, toe daar op groot skaal begin is met die ontginning van minerale in die land. Daar was nie opgeleide mynwerkers in die land om die nuwe myne te bedryf nie, daarom het die destydse mynbase geskoolde werkers uit Brittanje ingevoer wat ná hul aankoms vakbonde op die Britse patroon begin het. Dit was in reaksie op die uitbuiting van werknemers wat veral kenmerkend van die eerste dekades van enige nywerheidsrewolusie is.

Hierdie vakbonde het ’n deurslaggewende rol gespeel om na die bloedige 1922-staking die destydse Nasionale Party aan bewind te stem, wat tot beter beskerming vir wit werknemers gelei het. Ná die Tweede Wêreldoorlog het wit werkers en hul vakbonde aan die Witwatersrand weer ’n groot rol gespeel in die Nasionale Party se oorwinning in die 1948-verkiesing. Swart werkers het nie oor amptelike vakbondregte beskik nie, wat tot die beskuldiging gelei het dat die land deur die uitbuiting van goedkoop swart arbeid geïndustrialiseer het. 

Afsonderlike ontwikkeling

Ná die Nasionale Party se bewindsoorname in 1948 het die party sy apartheidsbeleid mettertyd verfyn en het dr. Hendrik Verwoerd in die laat vyftigerjare begin met ’n beleid van “afsonderlike ontwikkeling.” Hierdie beleid was daarop gemik om wit en swart mense apart te hou, met die doel om afsonderlike lande vir elke etniese groep te ontwikkel soos in ander wêrelddele die geval was. Dit het egter nie gewerk nie, omdat die politieke doelwitte van afsonderlike lande gebots het met die instroming van swart mense wat in die vinnig groeiende ekonomie kom werk het.

Die ekonomie het in die sestigerjare so vinnig gegroei dat daar selfs ’n tekort aan ongeskoolde arbeiders ontstaan het, waarna mynwerkers uit byvoorbeeld Malawi, Mosambiek, Lesotho en die destydse tuislande ingevoer is. Goedkoop swart arbeid was destyds die beleid.

Die werkers wat uit die tradisionele gebiede nader getrek het, het gelei tot ’n groot toename in swart mense wat permanent rondom wit stede gewoon het. Die arbeidstelsel het die land met sy beleid van afsonderlike ontwikkeling só afhanklik van swart arbeid gemaak dat die beleid nie volhoubaar was nie.

Die apartheidsarbeidspraktyke van swart arbeid het oor geslagte heen die vestigingspatrone van Suid-Afrikaners onherroeplik verander en tot ’n geïntegreerde samelewing gelei. Omdat swart mense nie politieke regte gehad het nie, het hulle hulself in vakbonde georganiseer en ’n stryd vir politieke regte begin. Omdat wit mense in die minderheid was, het dit onvermydelik tot ’n swart meerderheidsregering gelei. So moes die politieke werklikheid uiteindelik die knie buig voor die getallewerklikheid, en het die arbeidsmag in 1994 tot politieke mag vir swart mense gelei. 

Sosialisme deur mag

Baie arbeidskenners het voorspel dat swart vakbonde ná 1994 die politiek sou los en net op arbeidsake sou fokus, omdat swart mense nou politieke regte gekry het. Hierdie “kenners” het egter nie sosialistiese vakbonde se ideologie of strategie begryp nie. Sosialiste het sedert Karl Marx se tyd al van ’n “tweefase-rewolusie” gepraat. Die eerste fase was die demokratiese politieke rewolusie, wat politieke mag ten doel gehad het. Dit is in 1994 bereik. Die tweede fase is om die politieke mag daarna te gebruik om ekonomiese mag te bekom, wat die instelling van sosialisme deur staatsmag beteken.

Die val van kommunisme het baie politieke kenners verkeerdelik laat glo dat hierdie ideologie nou dood is. Dit was wel ’n groot slag vir sosialiste wêreldwyd, en het gelei tot ’n grondige herbesinning onder talle sosialistiese denkers. Die meeste het aanvaar dat rewolusionêre geweld, volle nasionalisering, sentrale beplanning en ortodokse kommunisme nie meer werkbaar was nie.

Die mislukking van kommunisme in die Ooste het egter min verander aan hierdie ideologie se sentrale idee van gelykmaking en die twee fases van ’n politieke en ekonomiese omwenteling. Rewolusie is met transformasie vervang en wapens met wette en ’n welsynstelsel, maar die ANC en sy sosialistiese bondgenote glo steeds aan die herverdeling van welvaart volgens proporsionele bevolkingsgetalle. Dit kan gesien word in die al radikaler regeringsbeleid oor rassewetgewing, grondverdeling, privaat besit, ongelykheid en swart beheer deur middel van die staatsideologie van transformasie tot alles “verteenwoordigend” is. 

Tweede opstand

Die siening dat sosialisme moet volg op politieke mag staan steeds sentraal in die oplaaiende konflik op arbeidsgebied, spanning in Cosatu en die ANC, die bykans daaglikse militante protesaksies oor munisipale dienslewering en die opkoms van radikale groepe soos Julius Malema se EFF. Dit lyk of die sentrale verskilpunte bloot gaan oor die spoed en metodes om sosialisme in te stel, en nie of dit moet gebeur nie. Daar is wel nog ’n sterk groep in die regering wat ’n gemengde ekonomie in plaas van volle sosialisme voorstaan.

Hierdie groep glo dat sakelui gebruik moet word om werk en welvaart te skep, maar dat die staat ’n groter rol moet speel om die ekonomie te beheer en te herverdeel. Die gevolge van wat lyk na ’n hernieude radikalisering van arbeid en sekere vakbonde skep egter groot probleme vir veral swak geskoolde werknemers. Indien sakeleiers hierdie arbeid as ’n bepalende risiko vir besigheid begin sien, gaan hulle al meer meganiseer en al minder in die ekonomie belê. Daarom is die herlewing van sosialisme ’n groot bedreiging vir swart werkers en vir die miljoene werkloses in die land. 

Sosialisme

Die wêreldbekende Amerikaanse politieke wetenskaplike prof. Francis Fukuyama het reeds in 1993 die volgende belangrike standpunt hieroor gestel: “The main obstacle to black social modernization in the future may well be the belief in socialism on the part of the ANC and its communist allies. Socialism has always presented itself as a higher and more progressive form of social organization than capitalism. But in the contemporary world, socialism has been revealed to be an obstacle to social and economic modernization – the hallmark of a certain kind of backwardness that needs to be overcome, just like illiteracy and superstition. The countries of Eastern Europe are now moving rapidly backward into the future, undoing the legacy of forty years of dictatorship and socialist planning. Let us hope that South Africa, as it makes the necessary transition to democracy, does not move forward into the past.” 

Drie omwentelings

Suid-Afrika se werkmag ondergaan tans ’n totale omwenteling weens drie redes: Tegnologie wat swak geskoolde werkers toenemend vervang, die regering se strenger arbeidsbeleid wat werkskepping al meer strem, en die skerper rassewetgewing wat meer en meer tot onbillike diskriminasie teen wit werknemers as die “nie-aangewese groep” lei. Daarbenewens het die DKD-saak bewys dat die bruin en Indiër minderhede ook al meer onder dieselfde diskriminasie gebuk gaan.

Solidariteit se beleid

Kragtens ”affirmative action”[i]-wetgewing hoef rasseteikens net te geld in die boonste derde van die arbeidsmark waar swart mense onderverteenwoordig is, en nie in die onderste sowat twee derdes waar blankes onderverteenwoordig is nie. Die een struikelblok wat jong wit mense sal moet oorkom, is die ou apartheidsarbeidskultuur se siening dat laer posvlakke minderwaardige werk is. Dit kom uit ’n tyd toe swart ongeskooldes feitlik alle laaggeskoolde werk gedoen het.

Om toegang tot die werkplek te kry, sal jong blankes die uitdaging moet aanvaar om onder te begin en hulle dan op te werk. Geen werk is minderwaardig nie – solank ’n mens net jou bes doen en verder leer sodat jy boontoe kan vorder. Hierdie arbeidskultuur wat lae intreeposte as minderwaardig sien, sal moet verander. Op die ou end was daar niks so duur soos goedkoop swart arbeid nie. Solidariteit sal ’n nuwe arbeidskultuur moet bevorder van “arbeid is adel”, soos die oumense gesê het.

Solidariteit wil vorentoe beweeg, omdat dit nie sal help om in die verlede vas te steek nie. Ons wil steeds aan die voorpunt van die geskiedenis wees en daar bly. Net soos die wêreld en die land verander, sal vakbonde ook moet verander as hulle en hul lede wil oorleef. Die enigste pad vorentoe is met ’n goed opgeleide, produktiewe, betroubare en goed betaalde arbeidsmag. Daarom is ons strategie om ons lede met ’n goeie werk te help, deur hulle by te staan om deur goeie opleiding hul volle vermoë te verwesenlik.

Arbeid was nog altyd ons land se probleem. Die uitdaging is om dit te omskep in die oplossing.

Soos prof. Visser dit in sy boek oor ons geskiedenis stel, is ons vakbond se vermoë om by meer as een geleentheid by gedurig veranderende sosiopolitieke en ekonomiese omstandighede en eise aan te pas, inderdaad sy behoud oor ’n tydperk van meer as eenhonderd jaar.


[i] Die Engelse term ”affirmative action” word gebruik omdat die Afrikaanse term “regstellende aksie” die indruk skep dat hierdie onregverdige wetsbepaling bloot ’n regstellingsaksie is en dus regverdigbaar is.

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Dit voel vir my of ’n mens hierdie tyd van die jaar ’n ekstra hupstoot nodig het om uit die bed uit op te staan en jou kragte bymekaar te skraap om die dag aan te pak. Dit het nie net te doen met die koue daarbuite nie: Ek merk op dat almal om my […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close