Solidarteit Wêreld
2018 - Uitgawe 5 In Retrospek
AS ’N OUMA EN ’N JUFFROU BEGIN SWOT
Deur LJ | 18 September 2018

Dis ysig in my klas. Swygend staar die teddies in die hoek my aan. Die kinderboeke staan ongelees op die rak. Stoele en tafels is silwerskoon. Daar is rolstoele op die mat waar kinderlywe moes gespeel het. Dis vakansie, maar ek sit by my tafel, voor my rekenaar, kombers oor my skouers teen die koue. ’n Koffietjie stoom langs die sleutelbord om my suwwe brein te maak werk. My klas is die enigste plek waaraan ek kon dink waar daar stilte is; waar die eise van die alledaagse lewe net vir ’n paar ure halt kan roep.

Dis nou of nooit. As hierdie ouma nie in hierdie wintervakansie haar meestersgraadverhandeling flou veg nie, gaan sy vir seker soos Simson die hele ding se pilare omtrek en morsdood vergaan onder die druk. In my lewe het ek nog nie so hard gewerk, so hard gedink, so baie gelees, soveel ongenadige kritiek verduur, soveel kere voor begin nie. Ek het al gehuil, goed neergegooi, amper myself ook op die vloer neergegooi, by almal gekla wat wou hoor, asook by almal wat nie wou hoor nie. Ek lê snags slapeloos en worstel met woorde en gedagtes. Donker soggens rol ek kreunend uit die bed en gaan sit weer voor my skootrekenaar. Die enigste proses wat ek hiermee kan vergelyk, verduidelik ek aan my dogters, is kraam. ’n Lang en pynlike kraam …

Ek skryf, skrap, begin weer, skryf, gaan stap ’n ent, kom sit weer. Eindelik begin ligte aangaan, temas na vore kom, idees uit die chaos verrys. Die stemme van die mense wat my met hulle ervarings vertrou het, klink weer en weer op in my werk. Beelde sweef voor my terwyl ek skryf. Daar is die koshuis vir blinde en swaksiende kinders waar die woord HOME skewerig langs die deur geskryf staan. Kinders wat dalk een keer per kwartaal huis toe gaan. Daar is die groot geboude, joviale blinde onderwyser wat vertel van sy uitdagings op universiteit. Daar is ’n jong man met ’n kierie en ’n hond wat woedend ’n sigaret gaan rook op sy woonstel se stoepie voordat hy kan klaar vertel hoe mense sy waardigheid aangetas en hom verneder het.

Ek het nie geweet dat navorsing so ’n groot verantwoordelikheid is, dat daar soveel lae betekenisse in ’n enkele sin kan wees nie. Studie het my geleer van die wêrelde van mense wat voorheen net dowwe skadufigure op die rand van my bestaan was. Studie is meer as net ’n stuk papier waarmee jy jou slim en belangrik hou. Studie is ’n manier waarop jy kan bydra daartoe dat mense wat nodig het om gesien en gehoor te word, uit die bladsye van jou werk sigbaar en hoorbaar raak. Studie maak jou nederig. Studie maak jou taai. Studie leer jou dat jy eintlik nog niks weet nie.

Die aand nadat ek al die rompslomp rondom die inhandiging uiteindelik afgehandel en die pakkie amptelik ingegee het, val ek uitgeput op my bed neer en kyk na my deurmekaar kamer, waar ek maande gelede iets probeer orden het. En toe bid ek dat my Vader my werk aanvaarbaar sal vind. “… en bevestig die werk van ons hande oor ons, ja, die werk van ons hande, bevestig dit!”

Die skool het weer begin. Die weer het gedraai. Die sonnetjie skyn warm by my klasventers in. Die teddies lê deurmekaar. Boekies word gelees. Tafels het verfmerke op. Kinderlywe is op die mat. Blokkies word uitgepak. My lewe keer terug na normaal. Ek is weer net ’n juffrou. Dis ’n verligting, amper ’n vorm van ontspanning, om net my skoolwerk te doen. Nooit weer nie, vertel ek myself. Genoeg was genoeg. Ek het myself byna bokveld toe gewerk.

Tot ek een middag, toe die teddies weer op hulle plekke sit en die tafels afgevee is, voor my lessenaar sit en peinsend ’n enkele sinnetjie op my rekenaar tik …

Hmmm … net die regte onderwerp vir ’n PhD …

  •  
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close