Solidarteit Wêreld
2018 – Uitgawe 6
Bankkosteverslag | Verbruikers baat by mededinging
Deur Michelle | 08 November 2018

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se jaarlikse bankkosteverslag het vanjaar 'n paar verrassings opgelewer. Weens die BTW-verhoging moes banke noodgedwonge pryse verhoog en dit het die weg gebaan vir hewiger mededinging, soos om bankfooie tot op die been te sny.

Die SNI se bankkosteverslag maak gebruik van vier transaksieprofiele waarvolgens kliënte voorgestel word. Die 12- en die 17-transaksieprofiel fokus op 'n kliënt met basiese bankbehoeftes. Om die middelklasverbruiker voor te stel, word die 25-transaksieprofiel gebruik. Die 30-transaksieprofiel word gebruik om die hoërvlakkliënt uit te beeld.

Elkeen van die profiele word gekenmerk deur die verskillende behoeftes waaraan die onderskeie kliënte se bankrekeninge moet voldoen en banke maak dus dienooreenkomstig voorsiening vir verskillende soorte aanbiedings.

Metodologies het die SNI die verslag vanjaar so 'n klein bietjie aangepas. Geen bank vra meer enige fooie vir kaartaankope nie en dié transaksie is derhalwe uit die verslag verwyder.

Twee nuwe transaksietipes is bygevoeg ten einde 'n goeie weerspieëling van die gemiddelde kliënt se profiel per maand te gee. Die eerste is dat feitlik elke bank nou 'n fasiliteit bied waardeur geld per selfoon, eWallet, en so meer aan 'n kliënt gestuur kan word. Hierdie transaksiekoste is by feitlik alle profiele gevoeg.

Die tweede “nuwe” transaksietipe is dat elke bank deesdae die opsie bied om lugtyd vir 'n selfoon deur hul elektroniese platforms te koop. Dit is 'n transaksie wat verbruikers gereeld aangaan en dit is derhalwe ook by die transaksieprofiele gevoeg.

Basiese bankdienste

In die 12-transaksieprofiel is die verrassing dat Old Mutual 'n kortkop voor die ander banke geëindig het. Die bankkoste op hierdie vlak is ongelooflik mededingend en Old Mutual is net-net in die eerste plek met die laagste koste. Dit is egter nie die volle verhaal nie. Capitec is steeds die enigste bank wat rente op 'n saldo in 'n tjekrekening betaal. Indien hierdie rente as inkomste teen die bankkoste verreken word, dan is Capitec die goedkoopste indien 'n saldo van so min as R222,68 in die bankrekening gehandhaaf word.

 Middelklasaanbod

Die 25-transaksie-aanbod is die meeste banke se vlagskipaanbod. Dit is die eerste vlak waar gebondelde opsies kostedoeltreffend raak. Die meeste banke bied 'n eenvoudige bondelopsie vir die middelklaskliënt wat op sy basiese behoeftes gerig is.

Kliënte wat tevrede is met eenvoudige bankdienste sonder enige nonsens sal Capitec by verre die goedkoopste vind. Met sy eenrekeningaanbod wat fooie per transaksie hef, is Capitec by verre die goedkoopste. Indien verbruikers op dié vlak baie transaksies uitvoer, kan 'n bondelopsie beter wees. Omdat kliënte op dié vlak 'n hoër inkomste het wat hulle in hul rekening hou, maak die rente wat Capitec bied dié bank se aanbod nog meer mededingend. Met 'n saldo van R5 000 sal jou bankkoste ongeveer R68,22 per maand beloop.

Hierdie vlak raak ook die vlak waar kliënte begin kyk na meer as net koste. Banke weet dit en het reeds begin meeding in hul aanbod van lojaliteitsprogramme. Hoewel FNB, wat bankkoste betref, slegs in die vierde plek is naas Capitec, Standard Bank en Nedbank, bied dit, wat lojaliteitsprogramme betref, die goedkoopste opsie danksy toegang tot eBucks. Dit is 'n aanbod wat goeie waarde vir kliënte bied as hulle die lojaliteitsprogram kan benut.

Hoërvlakkliënte

Kliënte wat in hierdie kategorie val, is hoëfrekwensieverbruikers, met stewige verdienstes. Hierdie kliënte is tradisioneel nie so pryssensitief wat hul bankkoste betref nie en lojaliteitsprogramme, diensvlakke en ander ekstras (soos goedkoper motorhuur of dienste by lughawens) speel 'n groot rol.

Standard Bank se Prestige Rebate-rekening gee 'n kliënt afslag op sy bankkoste indien hy 'n saldo van R10 000 in sy bankrekening hou. Dit is nie 'n totaal onrealistiese opsie vir hierdie inkomstevlak nie. Indien 'n kliënt op dié vlak sou besluit om R10 000 sonder rente in sy rekening te hou, dan is die Standard Bank-opsie die goedkoopste.

Buiten enige ander sodanige aansporings, kom Nedbank se Savvy Bundle in as die goedkoopste opsie. 'n Mens moet wel daarop let dat alle bankrekenings in die kategorie besonder mededingend is – en elke kliënt gaan vir homself moet besluit watter ekstras 'n rekening vir hom die moeite werd gaan maak.

Slegs op fooie geneem, is Old Mutual en Capitec aansienlik goedkoper as alle ander rekenings in dié profiel, maar hulle bied geen ekstras of lojaliteitsprogramme aan nie. Vir kliënte vir wie ekstras nie belangrik is nie, bly dit steeds goeie opsies om te oorweeg.

 Gevolgtrekking

Old Mutual het in die laeinkomstevlak met 'n goeie aanbod vorendag gekom. Capitec behoort egter steeds 'n beter opsie te wees indien 'n saldo van so min as R222 gehandhaaf kan word.

Hoewel bankkoste weens die BTW-verhoging toegeneem het, is dit steeds in reële terme aansienlik goedkoper om van bankdienste gebruik te maak as wat dit agt jaar gelede was.

Dit wys weereens dat mededinging in 'n vryemarkstelsel die verbruiker laat wen.

  •  
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Ons het hierdie jaar weer afgeskop met gedeeltelike duisternis weens Eskom en beurtkrag. Die ongerieflike beurtkragskedules was op almal se lippe en Facebook-profiele. Dit tref ‘n mens mos reg in die middel van die besigste tyd ná werk, wanneer jy moet kos maak, kinders bad of gou daardie bondel wasgoed in die wasmasjien moet gooi […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close