Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 4 Nuuswaardig
Beginselvaste vernuwing op 115 jaar!
Deur Michelle | 10 Augustus 2017

Deur Juran van den Heever

Solidariteit vier vanjaar sy 115de verjaarsdag en bewys al sedert 1902 dat hy g’n gewone vakbond is nie. Hy kry dit voortdurend reg om hom by gedurig veranderende sosio-politieke en ekonomiese eise en omstandighede aan te pas. Dit is die geheim van Solidariteit se innoverende sukses en die organisasie se behoud oor meer as ’n eeu.

Solidariteit het oorspronklik net ná die Tweede Vryheidsoorlog ontstaan as die Transvaal Miners’ Association, wat later die Mynwerkersunie (MWU) geword het. Hierdie Mynwerkersunie is die afgelope dekade en 'n half omskep en uitgebou tot Solidariteit en later tot die huidige Solidariteit Beweging, wat bestaan uit 18 gemeenskapsorganisasies, met 800 werknemers, sowat 2 000 deeltydse verteenwoordigers en bykans 400 000 lede.

Dit maak van Solidariteit die oudste en die nuutste vakbond in die land. Dit is ’n merkwaardige prestasie vir 'n organisasie om vir meer as 'n eeu te oorleef – en veral om ná 115 jaar sterker as ooit te wees. Die meerderheid vakbonde, ondernemings, partye en kultuurorganisasies kan dit nie regkry in so ‘n onstuimige land nie, en het onder die golwe van die geskiedenis verdwyn.

Dis merkwaardig dat die MWU nie onherkenbaar aangepas het en soos talle ander organisasies verdwyn het nie. Ons verandering was nie om oor te gee nie. Die geheim van ons suksesvolle verandering is opgesluit in die laaste boodskap van oudpres. Paul Kruger. Hy het gesê: “Neem die beste uit die verlede, en bou dan jou toekoms daarmee.” Ons moet dus die negatiewe dinge uit die verlede los, op die positiewe fokus en daarmee die toekoms bou.

Kruger se formule vir suksesvolle aanpassing kom neer op beginselvaste vernuwing. Maar Kruger het ook die belangrike taak van elke geslag beklemtoon met die volgende woorde: “Die krag van die huidige geslag lê nie in sy roem op die dade van die vorige geslag nie, of die moontlikhede van die toekomstige geslag nie, maar dit lê daarin dat hy die brug bou om die verlede en die toekoms aan mekaar te bind.”

Daarom is ons taak om soos brugbouers op te tree: Ons moenie in die verlede vassteek nie en terselfdertyd nie die verlede te vergeet nie; ons moet ’n brug bou tussen dit wat verby is en dit wat kom.

Ons droom is om ’n toekoms te skep waarin ons as kultuurgemeenskap ook blywend, vry, veilig en voorspoedig in Afrika kan voortleef. Dan sal ons ’n volhoubare bydrae tot die welstand van die land en al sy mense kan lewer. Ons glo ’n minderheid moet homself nie laat tel nie, maar laat weeg, want ons weeg swaarder as ons getalle. Gewig word bepaal deur die vlakke van onderwys en opleiding, werkywer, ondernemerskap, produktiwiteit en kultuurkrag waardeur ’n gemeenskap verantwoordelikheid vir homself neem.

Die MWU en later Solidariteit sou nie alleen die omwentelings in die land oorleef het nie.  In 'n meerderheidsomgewing waar die vakbond 'n minderheid verteenwoordig, moes daar nuut gedink en nuut gedoen word anderkant die swaard van die meerderheid. As Solidariteit nie die meerderheid het nie, wat het hulle? Hulle het mekaar. So het Solidariteit die idee van beroepsgildes begin ontwikkel, en staan ons vandag weer voor 'n nuwe fase. Die Solidariteit Beroepsgilde is gewone Solidariteit-lede wat op al die Solidariteit-voordele geregtig is. Die gildes bied bloot bykomende voordele vir lede wat by spesifieke gildes ingeskakel het.

Die gildes is 'n helpmekaargemeenskap wat werknemers in verskeie bedrywe in Suid-Afrika help om in hul loopbane vry, veilig en voorspoedig te wees. Die gildes help jongmense om dié spesifieke beroepsrigting te betree, is 'n waghond vir die bedryf en help met persoonlike ontwikkeling deur voortgesette opleiding vir die beroep te verskaf. Die gildes lê veral klem op meesterskap – nie net in lede se onderskeie dissiplines nie, maar ook in die gemeenskap.

  •  
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close