Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 2
Bekommerd? Bereken, beplan, bóú toekoms
Deur Michelle | 25 April 2019

Deur Connie Mulder

Suid-Afrika is ’n land waar die toekoms dikwels donker lyk, al tref die grootste storms ons nie sommer nie. Soos Jan Smuts gesê het, hier gebeur nie die beste goed nie, maar ook nie die ergste goed nie. In 2019 lyk die toekoms besonder onheilspellend, en daar is verskeie faktore wat ’n mens met reg bekommerd maak.

Ons beleef ’n oplewing in ras-nasionalisme, veral vanaf die ANC en die EFF. Beide partye het enige voorwendsel dat hulle nierassig is, laat staan, en vry nou openlik na slegs swart stemme. Soos die verkiesing nader storm, raak die ras-retoriek al hoe feller en word minderhede al hoe meer die sondebokke vir alles. Uiteindelik sien ’n mens die gevolge van hierdie ras-nasionalisme nie in die uitsprake van politieke leiers nie, maar veel eerder in die gebrekkige hantering van hierdie uitsprake deur instellings. Die MRK se oorgawe aan Julius Malema in sy nuutste bevinding is ’n aansienlik beter aanduiding van hoe ver ons in die pad van ras-nasionalisme af is as enige toespraak deur Malema.

Onteiening sonder vergoeding hang soos ’n swaard oor die Suid-Afrikaanse ekonomie. Die debat rondom onteiening het die publiek, en in besonder minderhede, gelaat met wonde en merke soos die “demokratiese” proses net bo-oor almal gestoomroller het. Dit lyk amper onstuitbaar dat die regering wel die Grondwet gaan wysig om grond te kan steel.

Terselfdertyd is die regering besig om Suid-Afrika volstoom in die rigting van kommunisme te stuur. Ons regering jaag ’n nasionale gesondheidsversekering, gratis tersiêre onderwys, nasionale minimumloon en dalk selfs ’n ontwapende burgery na.

Gegewe al hierdie donker wolke wat saampak, is ’n mens met rede bekommerd. Tog is daar verskeie ligpunte en is die stryd geensins verlore nie.

Eerstens moet ’n mens besef dat hierdie die verstektoestand van die Afrikaner is. Ons is nog altyd ’n minderheid, ons was nog altyd gekonfronteer deur onoorkombare probleme en krisisse, en ons het nog elke keer oorleef.

Dink jouself in: Jy is een van ’n handjievol bittereinders in 1902, wat baklei teen byna ’n halfmiljoen opgeleide troepe uit die magtigste ryk in die wêreld in daardie stadium. Tog het ons oorleef.

Of dink hoe jy voel terwyl jy in 1837 in ’n ossewa-laer sit en wag dat die Zoeloes op julle toeslaan. Jy het familie verloor by die slagtings van Bloukrans en Weenen. Jy wag eintlik vir die aand wat dit jou beurt is. Tog het ons nie hoop verloor nie, en het ons daar, wonderbaarlik, oorleef.

Hoewel ons groot krisisse vandag beleef, is dit nie iets wat ons nié gaan oorleef nie. Ons het nog altyd; ons is uit dieselfde lap gesny as die bittereinders en Voortrekkers.

Tweedens moet ons besef dat daar ’n wesenlike verskil is tussen wat die ANC-regering wíl doen, en wat die ANC-regering kán doen. Wette is blote stukke papier indien die vermoë om dit af te dwing, ontbreek. Ons het nou al telkemale gesien hoe die ANC-regering se vermoë om wette toe te pas of te regeer net totaal ontoereikend is.

E-tol is ’n goeie voorbeeld waar die regering bloot nie die wet toegepas kry nie, want hulle kan nie. Die feit dat kinders steeds in puttoilette verdrink, hoewel die regering al herhaaldelik verklaar het hulle wil puttoilette uitwis, dui ook op hulle onvermoë. Geen mens in Suid-Afrika wil hê dat ’n kind in ’n puttoilet verdrink nie. Die ANC-regering wil werklik die probleem aanpak en uitwis, maar hulle kan bloot nie.
Dieselfde onvermoë tref ons ook in beurtkrag. Die regering wil regtig graag die ligte aanhou, veral so kort voor ’n verkiesing. Die feit dat ons fase 4-beurtkrag slegs twee maande voor ’n verkiesing gehad het, is ’n aanduiding van hoe verskriklik die regering se regeringsvermoë verdwyn het.

Hierdie onvermoë om te regeer, gaan nie verdwyn wanneer dit by onteiening sonder vergoeding kom nie. ’n Regering wat nie handboeke by skole kan aflewer of die ligte kan aanhou nie, gaan ongelooflik baie sukkel om iets so kompleks soos onteiening sonder vergoeding gestruktureerd te kan toepas.

Wat is dan die oplossing? Eerstens – moenie die probleme en krisisse ignoreer nie. Net omdat jy nie vir ’n golf kyk nie, beteken nie hy gaan jou nie omslaan nie. Neem kennis van die komende krisisse en probleme en dink na oor die moontlike gevolge.

Dan begin jy realisties beplan. Met al die komende krisisse en ander faktore ingereken, maak jy goeie en werkbare planne om hierdie golf uit te swem en te oorleef, en selfs beter af te wees na die tyd.

Derdens moet jy bou. Planne wat net op papier bly, is nutteloos. Hierdie goeie beplanning moet dan toegepas word in die wêreld. Die Solidariteit Beweging se groter konsentrasiestrategie is so ’n goeie, werkbare plan – een waar jy ’n direkte verskil kan maak – dat jy net moet betrokke raak.

Die toekoms onder die ANC-regering lyk donker, en as jy toelaat dat die ANC jou toekoms bou, dan gaan dit donker wees. Gelukkig sit ons met ’n goue geleentheid in die volgende dekade waar ons die groeiende gaping tussen wat die regering wíl doen en wat die regering kán doen kan vul met dit wat óns wil doen en gaan doen.

’n Regering wat nie sy eie toekomsplanne kan uitvoer nie, kan ook nie ons toekomsplanne keer nie.

Nou is die tyd om te kyk na hoe donker die toekoms lyk, te beplan aan ’n beter toekoms, en dan bloot daardie beter toekoms te bou.

  • 1
  •  
  •  
Redakteursbrief

Met die Covid-19-inperking steeds volstoom aan die gang, bring ons vir jou nóg ’n inperkingsuitgawe op jou rekenaarskerm, hierdie keer met gemak saamgestel asof dit al jare lank so gedoen word. Almal het die nuwe manier van doen se ritme nou reeds bemeester, met sommige wat intussen terug is by die werk terwyl ander nog […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close