Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 3
Beursstudente | Geleentheid sonder gelyke
Deur Michelle | 14 Junie 2019

Deur Mia Slabbert

“Die dag toe ek graad vang, het my 94-jarige oupa in die gehoor gesit en hy het met groot trots vir my hande geklap, want ek is die eerste lid van ons familie wat uiteindelik graad gevang het. Hierdie gevoel kan ek vir niemand beskryf nie, want ek weet ek sou dit nooit kon behaal as dit nie vir die Solidariteit-beurskompetisie was nie. Ek is vir die eerste keer werklik opgewonde oor my toekoms.”

Só vertel ’n borrelende Alicia Groenewald (22), een van drie Solidariteit-beursstudente wat in 2015 as wenners van die jaarlike Solidariteit-beurskompetisie aangewys is. Sy het onlangs haar graad in BCom Ondernemingsbestuur by Akademia behaal. Die opwinding op haar gesig en op dié van Elisha Pienaar (22), ’n beursstudent wat ook hierdie graad ontvang het, is aansteeklik waar hulle in ’n koffiewinkel in Pretoria oor hul ervaring en drome as gegradueerdes gesels.

Hulle albei het ná skool in DVD-winkels in die Moot gewerk, maar kan nou die deur van hulle toekoms met outoriteit oopmaak.

“Ek was nog altyd ’n persoon wat op skool alles gegee het en ek was gereeld een van die toptienleerders, maar ek weet as dit van my ma en pa se finansies afgehang het, sou ek nooit in my lewe die kans gekry het om te gaan studeer nie, al is hulle ongelooflik lief vir my. Ek is so dankbaar vir die geleentheid, want ek sou tien teen een vir ewig in ’n DVD-winkel hier in die Moot moes werk. Nou, met my graad, lê die wêreld vir my oop en ek kan eenvoudig nie my opwinding beheer nie,” het Pienaar gesê.

Die twee vriendinne loop al ’n lang pad saam van hul laerskooldae af en het mekaar op hoërskool verantwoordbaar gehou, asook deur hulle studies by Akademia. “Ek het so baie geleer. Die feit dat Engelse begrippe in Afrikaans vir ons verduidelik is, het die wêreld se verskil gemaak en die praktiese ervaring by ’n regte maatskappy het my die moed gegee om te begin droom oor my eie vermoëns as ’n bekwame, professionele werknemer. Ek weet dat dit wat ek die afgelope paar jaar by Akademia geleer het, my in staat gaan stel om eendag merkwaardig tot die ekonomie by te dra en dis moeilik om my dankbaarheid hiervoor in woorde vir mense te verduidelik,” het Groenewald bygevoeg.

Volgens Groenewald het sy op skool baie aande huilend aan die slaap geraak omdat sy geweet het haar ouers sal nie vir verdere onderrig op universiteit kon betaal nie. “Dit was regtig ’n hartseer tyd, want jy hoor van jou vriende en vriendinne wat plek kry by ’n universiteit en dit was regtig hartseer. Hierdie beurs was ’n baie groot geleentheid vir my,” het Groenewald gesê.

Vir Pienaar hou die volgende vyf jaar reis in en beplan sy om met haar graad Engels vir studente reg oor die wêreld te leer. “Vir die eerste keer kan ek werklik droom oor geleenthede buite Pretoria en hoewel ek nog nooit eers in die Kaap of oorsee was nie, is daar nou niks wat my keer nie. Ek kan net vir Solidariteit baie dankie sê daarvoor.”

Solidariteit se jaarlikse beurskompetisie gee verligting te midde van studentebetogings en finansiële druk. Solidariteit het besluit om die beurskompetisie van stapel te stuur sodat studente by ’n veilige tersiêre instelling kan studeer. ’n Beurs word aan drie gelukkige voornemende studente toegeken en Solidariteit-lede sowel as hul afhanklike kinders tot op die ouderdom van 21 jaar kan daarvoor kwalifiseer.

Die beurs dek alle klasse aangebied deur Akademia ter voltooiing van jou studies. Sou jy ’n vak druip, is jy egter self verantwoordelik vir die koste om die spesifieke vak te herhaal. Sou jy die hele jaar druip, verval jou beurs en is jy as beursnemer verantwoordelik om die studiebeurs se uitstaande bedrag vir die spesifieke jaar terug te betaal.

Die beurs dek alle studiegidse en handboeke wat Akademia vir jou studies verskaf. Hierdie bepaling sluit handboeke vir die graadkursus wat nie deur Akademia verskaf word nie, uit.

Jy ontvang ook ’n tabletrekenaar waardeur jy toegang kry tot die e-studente-ondersteuningstelsel, die aanlyn biblioteek, al jou toetse en werkopdragte asook ondersteunende studiemateriaal. Een tabletrekenaar word uitgereik vir elke kwalifikasie waarvoor jy inskryf en sal vir die standaardtydperk van die betrokke studie (een of drie jaar onderskeidelik) hou.

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Dit voel vir my of ’n mens hierdie tyd van die jaar ’n ekstra hupstoot nodig het om uit die bed uit op te staan en jou kragte bymekaar te skraap om die dag aan te pak. Dit het nie net te doen met die koue daarbuite nie: Ek merk op dat almal om my […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close