Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 6 My Geld
Bitcoin: Borrel of belegging?
Deur Michelle | 16 November 2017

Deur Appie Pienaar

In ’n vorige uitgawe van Solidariteit Tydskrif het ons ’n bietjie agtergrond gegee oor Bitcoin, waar dit vandaan kom en hoe Suid-Afrikaners te werk kan gaan om dit op www.luno.com te verhandel. In hierdie artikel ondersoek ons die vraag of Bitcoin, soos Oudtshoorn se volstruisveerbedryf van ’n honderd jaar gelede, maar net nog ’n borrel is wat wag om te bars. ’n Google-soektog na “Bitcoin bubble” lewer sowat 9,6 miljoen resultate op. Daar kan dus min twyfel wees dat talle ontleders is wat tans teen ’n borrel in die Bitcoin-mark waarsku.

Twee van die beroemdste borrels wat deesdae gereeld weer geopper word in gesprekke waar dit oor die stygende waarde van Bitcoin gaan, is Nederland se tulpebolle-krisis van die sewentiende eeu, en die borrel wat met die draai van die vorige eeu in die volstruisveerbedryf ontstaan het. 

Tulpe uit Amsterdam

Tulpe is in 1593 uit Turkye ingevoer na Nederland toe. Dit het baie spoedig ’n gewilde blom geword wat goed aangepas het by die koue klimaat van Nederland. In ’n stadium het die mosaïekvirus onder die tulpe uitgebreek. Hierdie virus het nie werklik skade aan die plante aangerig nie, maar die gevolg van die virus was verskillende kleurvariasies en vlamme wat in die tulpe na vore gekom het. Hierdie afwyking was besonder gewild onder tuiniers, en omdat die afwyking slegs deur die bolle van die betrokke plant voortgeplant kon word, het die spesifieke bolle van plante met die afwyking se prys drasties begin styg. Vooruitkontrakte waar kopers onderneem om astronomiese pryse vir tulpbolle te betaal wanneer dit ‘n jaar later beskikbaar is, het ontstaan. In ’n stadium is pryse van soveel as ’n span osse en selfs ’n stuk grond vir ’n enkele tulpebol betaal. Hierdie situasie was uiteraard nie volhoubaar nie en soos wat die bolle meer geraak het, het die prys in Februarie 1637 in duie gestort en het beleggers groot bedrae geld verloor.

Oudtshoorn se volstruisbedryf

Die volstruisveerbedryf het sy stormloop tussen 1890 en 1914 beleef. Volstruisvere was hoogmode in Europa waar dit deel van die rykes se kleredrag uitgemaak het. Dit was veral gewild as versiering vir vrouehoede. Joodse handelaars het die vere in Suid-Afrika, waar die volstruisbedryf sterk gevestig was, aangekoop en oor die hele wêreld versprei. In ’n stadium het ’n kilogram vere duurder gekos as ’n kilogram goud. Teen 1914 het die mode oorgewaai en het die bedryf in duie gestort. Skatryk boere wie se lewenstyl op die volstruisbedryf geskoei was, het in ’n kort tydjie totaal verarm. 

Is Bitcoin die volgende borrel?

Dit is natuurlik nie moontlik om met akkuraatheid te voorspel wat in die toekoms met Bitcoin se prys gaan gebeur nie. Die vraag is of daar oor twintig of dertig jaar van nou af nog Bitcoin verhandel gaan word. Indien dit nie die geval is nie, is daar beleggers tussen nou en dan finansieel gaan seerkry.

Ek noem graag twee aspekte wat in gedagte gehou moet word:

Eerstens is ’n drastiese, irrasionele styging in die prys van ’n item tekenend van ’n produk wat homself in ’n borrel bevind. Dit dui gewoonlik op die aanwesigheid van beleggers wat bloot spekuleer. Daar is dus nie noodwendig ’n verwagting van opbrengste of inkomste nie, slegs kapitaalgroei. Die belegger belê in die kommoditeit in die hoop om dit teen ’n hoër prys te verkoop, sonder om ag te slaan op die vermoë van die kommoditeit om inkomste te genereer. Die tulpe-krisis is ’n tipiese voorbeeld hiervan. Hieraan gemeet bevind Bitcoin homself waarskynlik wel in ’n borrelmark.

Tweedens word daar dikwels genoem dat daar geen sogenaamde onderliggende waarde aan Bitcoin bestaan nie. In hierdie opsig, meen ons, verskil Bitcoin wesenlik van kommoditeite soos tulpebolle of volstruisvere. Beide tulpebolle en volstruisvere was aanvanklik skaars items, maar in die lange duur kon die aanbod onbeperk uitgebrei word. Blombolle kon op plase vermeerder word, en jong volstruisies uitgebroei en grootgemaak word. Bitcoin, aan die ander kant, se aanbod is beperk tot 21 miljoen Bitcoin. Boonop is dit baie duur en tydsaam om nuwe Bitcoin te skep of te myn. Hierdie is ’n belangrike beginselverskil tussen Bitcoin en vorige borrelmarkte. Tereg is daar ontleders wat Bitcoin met goud vergelyk. Ook in goud se geval is daar ’n beperkte, vasgestelde hoeveelheid op aarde, en raak dit al hoe duurder om goud te ontgin. Soos goud, het Bitcoin ook die potensiaal om as veilige hawe vir geldeenhede in onsekere tye te dien.

Slegs die tyd sal leer of Bitcoin hom ook in ’n borrelmark bevind. Die reël bly steeds dat beleggers nie meer geld in Bitcoin moet belê as wat hulle kans sien om te verloor nie.

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Hierdie uitgawe van Solidariteit Tydskrif is amper so geskiedkundig soos die laaste paar maande waarin elkeen van ons gekonfronteer is met die Covid-19-pandemie wat die wêreld basies tot stilstand gebring het. Dit sal die eerste keer wees wat die tydskrif nie gedruk word nie. Daar was tot dusver, met 107 uitgawes agter die blad, nog […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close