Solidarteit Wêreld
2016 – Uitgawe 6 Spreekbuys
Bouers is wonderWERKERS!
Deur Michelle | 11 November 2016

Die sterkste krag op aarde is nie ’n atoombom, 'n vliegdekskip of ’n vuurpyl nie. Dis ’n idee waarvoor die tyd ryp geword het. Dis idees wat die wêreld verander, wat mense in beweging bring, wat geweldige kragte ten goede of kwade losmaak. Niks is ook so hewig soos die stryd om idees nie. Vir my word die twee botsende idees in die land gesimboliseer deur die vuurhoutjie wat wil brand en breek, en die troffel wat wil bou, skryf FLIP BUYS.

Suid-Afrika word geteister deur idees soos radikale transformasie wat al groot dele van die land laat verval het, of soos #feesmustfall wat besig is om universiteite te vernietig. Maar die vraag is, hoe kan die idee van vernietiging gestuit word? Die geskiedenis het hard en duidelik die antwoord hierop gegee. ’n Idee kan net deur ’n ander en beter idee gestuit word. Dit kan nie gekeer word deur tenks en vliegtuie, politieke mag of militêre krag nie.

Val en verval

In wese gaan die kern van die idee wat besig is om ons land te verniel oor “val” of afbreek. Universiteite moet val, alles moet val. Ons het oor die afgelope jare gesien hoe talle top instellings afgebreek is of geval het as gevolg van politieke idees. Dink net hoeveel eens goed funksionerende dorpe vandag nie meer behoorlik funksioneer nie, hoeveel skole nie meer kinder kan leer nie, hoeveel hospitale gevaarlik vir jou gesondheid is, hoeveel kolleges nie meer ambagslui oplei nie, hoeveel polisiekantore nie meer burgers kan veilig hou nie, en hoe mense in hoë posisies die reg verkrag.

Hierdie verval in die land maak baie mense so negatief dat hulle nie meer ’n toekoms sien nie en die land wil verlaat. Hulle besef dat die idees wat hierdie verval dryf so sterk is dat dit nie maklik omgekeer kan word nie. 

Gemeenskapskrag

Solidariteit het egter die afgelope jaar begin om ’n beter idee op die tafel te plaas, en dit is die idee van #bou. Ons het verlede jaar ’n Bouplan 2020 aangekondig, en het vanjaar die boustene in plek begin sit om ’n toekoms te bou. Ons uitgangspunt is dat politieke magloosheid nie magteloosheid beteken nie. Die geskiedenis leer ons dat gemeenskapskrag sterker is as staatsmag; dat mense wat saamstaan en saamwerk, meer regkry as onbekwame regeerders.

Ons gryp hierdie idee nie uit die lug nie, dis deel van ons geskiedenis. Ons het dit net weer herontdek en begin gebruik. Prof. Wessel Visser, ’n historikus van Stellenbosch, het ’n paar jaar gelede ’n studie van die vakbond se geskiedenis oor meer as ’n eeu gemaak. Sy gevolgtrekking was die rede vir ons blywende sukses oor meer as honderd jaar was dat ons by historiese draaipunte nog altyd die noodsaaklike aanpassings kon maak. Hierdie vermoë om ons organisasie te vernuwe, was volgens hom die rede waarom die vakbond ’n groot rol in die maak van die geskiedenis van die land kon speel. Ons was nie net toeskouers nie, ons het dinge laat gebeur.

Ons voorouers het ’n onontwikkelde land op die onderste punt van ’n onderontwikkelde vasteland ontwikkel. Hulle was nie supermense nie, maar gewone mense, wat in ongewone omstandighede buitengewone prestasies behaal het. Natuurlik het hulle ook foute gemaak, maar dit word verdwerg deur hul prestasie om aan die leiding te staan van die projek om die grootste ekonomie in Afrika op te bou. 

WonderWERK

Mense het al gesê dit sal ’n wonderwerk verg om ’n oplossing vir ons probleme te bewerkstellig. Dit is beslis reg. Maar wonderwerke val nie uit die lug nie, mens spel dit wonderWERK! Wonderwerke word gebou, dit gebeur nie vanself nie. Ons het in 2016 gesien hoe duisende mense wat saamwerk wonderwerke kan verwesenlik. Dink byvoorbeeld aan Sol-Tech wat ons ’n skrale tien jaar gelede begin het – net met tienrande! Maar dit was die tienrande van duisende lede wat gaandeweg miljoene rande geword het wat nodig was om Sol-Tech tot ’n top kollege uit te bou. Dieselfde met Solidariteit Helpende Hand se studiefonds: Ons het tien jaar gelede met niks begin nie, maar kon met behulp van duisende lede se klein bydraes reeds 5 000 studente met hul studies help! Solidariteit se resep is om “grootgeld met kleingeld” te maak, en dit dan te gebruik om wonderwerke te bou. Sonder staatsgeld, sonder groot skenkings, net met gemeenskapskrag! 

Troffel pleks van vuurhoutjie

Vir my is daar twee simbole wat die idees verteenwoordig wat teen mekaar staan. Die een is die vuurhoutjie, wat deur kriminele kinders gebruik word om in ’n oogwink af te brand wat talle dekades gevat het om te bou.

Daarteen staan die troffel as simbool van ons bou-idee, wat die duisende bakstene wat nodig is om ’n toekoms te bou een vir een op mekaar stapel. Daarom, laat die afbrekers maar met hul vuurhoutjies brand en breek, ons sal bly bou en beskerm. Nog geen groot prestasie in die wêreld is bereik deur afbreek nie, want wonderwerke word gebou. Ons het in 2016 die grondslag vir ons toekoms gelê. Kom laat ons in die nuwe jaar dan verder aan hierdie wonderwerke bou, want bouers is wonderwerkers!

  • 1
  •  
  •  
Redakteursbrief

Sedert 1902 glo Solidariteit in werk en om mekaar te help. 117 jaar later is dit steeds Solidariteit se hartsbegeerte om mense te help om 'n goeie werk te bekom en te behou. Ons uitdagings word ongelukkig groter, en dus moet ons planne nóg groter word. Solidariteit spits hom toe op werkgeleenthede – en watter […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close