Solidarteit Wêreld
2020 – Uitgawe 4 My Gesin
Covid-19: Skool toe of tuisskool?
Deur Lize-Mari | 14 September 2020

Foto krediet: iStock

Deur Wilmarie Brits

Covid-19 en die grendelstaat bied talle nuwe uitdagings vir skole, onderwysers en leerders. Die besluit om jou kinders te midde van die pandemie skool toe te stuur of eerder tuis te hou, rus swaar op die skouers van byna elke ouer.

Die antwoord is om te doen wat die beste is vir jou kinders in belang van hulle toekoms. Die proses om terug te keer skool toe, is nie meer so eenvoudig soos ná ’n skoolvakansie nie. Daar is nou ’n nuwe, vreemde skoolomgewing wat elke kind anders sal ervaar.

Jeannette Ceronio, ’n opvoedkundige sielkundige van die Wesrand, meen dat ouers nie die psigologiese impak van Covid-19 en die inperking op hul kinders moet onderskat nie. Dit behoort die belangrikste oorweging te wees wanneer ouers besluit of hulle hul kinders gaan skool toe stuur of eerder tuis onderrig.

Prof. Mignon McCulloch van die Suid-Afrikaanse Pediatriese Vereniging voel sterk daaroor dat ouers hulle kinders met ’n geruste hart kan skool toe stuur omdat navorsing toon dat kinders nie die virus maklik aansteek of erg daardeur geraak word nie. Sy meen dat teruggaan skool toe ’n positiewe uitwerking op kinders se emosionele welstand het terwyl die inperking ’n destruktiewe uitwerking op hulle het. Dit is egter nie so eenvoudig nie.

Volgens Ceronio sal kinders sonder enige psigologiese uitdagings maklik aanpas by die nuwe normaal, maar vir kinders wat reeds sukkel, kan dit baie uitdagend wees. Sy meen dat die dra van gesigmaskers byvoorbeeld ’n struikelblok kan wees vir kinders met leesprobleme of ’n gevoel van benoudheid kan skep by kinders wat met angstigheid sukkel. Die ouderdom van jou kind speel ook ’n rol in jou besluit.

Erika Basson, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg, meen op haar beurt dat die handhaaf van sosiale afstand jonger kinders se emosionele ontwikkeling nadelig beïnvloed. “Op die skoolterrein leer kinders om sinvol te sosialiseer en verhoudings te bou asook hoe om hul emosies te beheer. Die proses kan egter nie plaasvind met al die afsonderingsmaatreëls wat ingestel is nie”.

Hoewel kinders volgens artikel 3 van die Skolewet verplig is om skool by te woon, het ouers die keuse om nie hul kinders skool toe te stuur nie, mits hulle vir privaat onderrig by die huis registreer.

Ouers moet egter in gedagte hou dat indien hulle besluit om hul kinders vir die res van die huidige skooljaar te onttrek, sal hulle die graad moontlik in 2021 moet herhaal en moet heraansoek doen vir ’n plek by hul skole.

Elke kind is uniek en daarom reageer hulle verskillend op die nuwe normaal. As ouer ken jy jou kind en sal jy die regte besluit kan neem.

Redakteursbrief

Deur Cilleste van Dyk Ons sal self. Hierdie drie woorde kan baie arrogant klink sonder die regte konteks. Solidariteit sê: Ons sal self, nie omdat ons dink dat ons dinge alleen of deur ons eie krag sal regkry nie, maar omdat dat daar geen ander opsie is vir ’n voorspoedige toekoms nie. Daarom sê ons […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close