Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 4 Spreekbuys
Dekolonisasie: die stryd duur voort
Deur Michelle | 10 Augustus 2017

My oupa was nie geletterd nie, maar hy was geleerd. As jong oorlewende van die Barberton-konsentrasiekamp het hy nie veel formele onderwys in of na die oorlogsjare gekry nie. Maar Oupa het homself geleer deur alles wat voorkom te lees. Teologiese werke was sy groot belangstelling. Die swaarkry van die konsentrasiekamp en die Britte se verskroeideaardebeleid het diep in sy klere gesit, en Oupa het ’n wrewel in die Britse kolonisasie gehad. Sy geslag se lewenstaak was ’n stryd teen Britse oorheersing en vir dekolonisasie. Die mylpale op daardie pad was die erkenning van Afrikaans in 1925, die totstandkoming van Afrikaanse skole, universiteite, besighede en ander organisasies, die oorwinning van 1948 teen die pro-Britse Jan Smuts, en die kersie op die koek, Republiekwording in 1961.

Oupa is gebore in Johannesburg, maar het nie van die stadslewe gehou nie. Hy het gevoel hy pas nie by die destydse Britse kapitalistiese stelsel in nie. Prof. Dan O’Meara kon van Oupa gepraat het toe hy in sy boek Volkskapitalisme gesê het “the structure of South African capitalism offered few opportunities to those whose home language was Afrikaans. The economy was dominated by ‘imperialist’ interests. Its language was English, and Afrikaans-speakers were powerfully discriminated against. Promotion and advancement required both proficiency in a foreign language – that of a conqueror – and virtual total acceptance of the structure of values dominant in the economy.”

1922-staking

Nog sout in Oupa se wonde was toe hy tydens die 1922-staking by Wanderers toegesluit is deur “Smuts se polisie”. Jare na die oorlog moes ek vir Oupa ‘n posseël by die poskantoor op Barberspan koop. Toe ek met die seël aankom, was Oupa vererg toe hy sien dat Jan Smuts op die seël is. Hy het brom-brom die seël gelek en opgeplak, en gekla “nou moet ek nog Smuts se dinges lek ook” – darem met ‘n glinster in die oog na my kant toe.

Oupa was nou nie juis ’n voorslagboer nie; hy het meer van die boeke in sy studeerkamer gehou as van die boerdery. Toe een van sy kinders vir hom ’n boek van die Nederlandse teoloog Karl Bart bring, het hy dadelik daarmee verdwyn. Die volgende oggend vroeg moes Ouma en die kinders dorp toe gaan. Ouma het net een kyk na die lesende Oupa gegee, en een van die seuns gevra om sy stoel in die middel van die lusernland te gaan sit. Dis al manier hoe sy kon verseker dat Oupa sou onthou om die beeste uit die lusern te hou. Maar Ouma het steeds nie die vrede vertrou nie, en gesorg dat sy vinnig by die huis terugkom. Toe sy die vreedsame prentjie sien waar Oupa in die middel van die wuiwende lusern sit en lees met die vretende beeste rustig reg rondom hom, kon sy maar net floutjies met die hand waai.

Dekolonisasie

Tot Oupa se groot vreugde het twee van sy seuns predikante geword. Die oudste seun se gemeente was in Kenia, en die ander een in Zambië. Ons familie het ‘n voorsmakie van dekolonisering gekry toe albei ná die onafhanklikheid van hierdie lande moes terugkeer na Suid-Afrika. My ouers se geslag se “groot projek” om die dekolonisasie van Afrika voort te sit, deur die land weer soos voor 1910 te ontbondel en swart tuislande tot onafhanklikheid te laat ontwikkel, het nie geslaag nie. Inteendeel, dis deur die ANC as “’n spesiale soort kolonialisme” beleef. Daarom was die Suid-Afrikaanse oorgang van 1994 veral vir Afrika-nasionaliste die finale oorwinning oor kolonisasie. Baie witmense het dit aanvanklik ook as ’n bevryding beleef, veral toe oudpres. Mandela almal verseker het daar sal nooit weer oorheersing van die een groep oor die ander wees nie.

Herkolonisasie

Maar die optimisme dat die nuwe demokrasie sou lei tot vryheid vir almal, het na sowat twee dekades plek gemaak vir ’n nuwe herkolonisasiebeleid. Hierdie keer word die kolonisasie “transformasie” genoem. Die strategie is om met ’n rasseformule genaamd “verteenwoordigendheid” met 80% swart, 9% wit, 9% bruin en 2% Indiër-Afrikane oorheersing oor die hele land te verseker. So het die 1994-“wonderwerk” wat tot meerderheidsregering met minderheidsbeskerming moes lei, maar weer meerderheidsoorheersing geword.

Die ironie is dat ons nou al meer hoor hoe hierdie herkolonisasie in die naam van dekolonisasie gevoer word. Universiteite moet byvoorbeeld “gedekoloniseer” word, maar dit beteken in praktyk net ‘n nuwe Afrikanistiese herkolonisering. Westerse wetenskap, wit akademici en -studente, en westerse simbole moet plek maak vir die Afrikanisering van universiteite. Afrikaans en Afrikaanssprekendes word uitgeskuif om die herkolonisasie moontlik te maak, en die enigste koloniale oorblyfsel is Engels as landstaal.

Dekolonisasie

Maar elke geslag is verantwoordelik vir sy eie tyd. Oupa se geslag het die land gedekoloniseer, en ons kan baie by hulle leer. Hulle het nie Engelse koloniale universiteite, banke en maatskappye oorgeneem nie, maar ‘n landswye netwerk Afrikaanse universiteite, banke, maatskappye en organisasies gebou. Daarom moes ons bloot hulle resep afstof en vernuwe. In ’n nuwe era waar ons mense op grond van hulle ras of taal uitgesluit word van geherkoloniseerde maatskappye, werksplekke, universiteite en dorpe, moet ons net die dekolonisasieproses van ons voorouers herhaal en weer ’n netwerk kultuurinstellings oprig. Nie met die doel om ander mense uit te sluit nie, maar om te sorg dat ons ook ingesluit word. Dat ons ook deel van ’n vrye toekoms is, en nie die permanente onderhorige oorheersdes van ons nuwe koloniseerders nie. Hierdie keer is dit nie ’n stryd teen die Britste “verskroeide aarde” nie, maar teen ‘n korrupte en onbevoegde regering wat groot dele van die land laat verval en verskroei. Ons voorouers het hulself gedekoloniseer; ons kan dit ook doen. Ons is niemand se onderdane nie, en is net so geregtig op die grondwetlike beloftes van vryheid, gelykheid en menswaardigheid soos enigiemand anders.

  •  
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close