Solidarteit Wêreld
2018 – Uitgawe 6
Denel | ‘Ja, salarisse is in gedrang’
Deur Michelle | 08 November 2018

Deur Cilleste van Dyk

Solidariteit het aan die einde van September formeel van Denel verneem dat salarisbetalings weens ʼn kontanttekort vanaf Oktober 2018 in die weegskaal is. Dit volg nadat Denel, wat weens 'n geskiedenis van wanbestuur in finansiële verknorsing is, in September nie betyds salarisse aan senior personeel betaal het nie.

Denel het ook opsies oor korttyd, salarisbesnoeiings en die beskikbaarstelling van vrywillige skeidingspakkette (VSP’s) aan vakbonde voorgelê om kommentaar daarop te lewer. Die opsies kan volgens Denel uitkoms bied wat die korttermynbeskikbaarheid van kontant betref.

Volgens Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, het Denel se bestuur vakbonde versoek om die voorstelle te oorweeg, kommentaar daarop te lewer en/of teenvoorstelle in te dien.

“Dié voorstelle, asook die moontlikheid dat salarisse nie betaal gaan word nie, is uiters kommerwekkend, veral aangesien ons steeds wag op terugvoer van die maatskappy oor die vordering wat met forensiese ondersoeke gemaak word, die moontlike stappe wat daaruit kan voortvloei en die uitstaande finansiële ouditverslae. Dit is betreurenswaardig dat nóg Denel nóg sy direksie antwoorde op vakbonde se vrae oor hierdie kwessies kan bied,” het Botha gesê.

Solidariteit het intussen 'n petisie begin waardeur Denel-werknemers hul stem kon laat hoor om die besware wat hulle met die maatskappy en Denel se direksie het, te lug en om beswaar te maak daarteen dat ander remedies, buiten voorstelle wat onskuldige werknemers raak, nie oorweeg word nie. Solidariteit het hierdie petisie op 17 Oktober as deel van 'n dag van vreedsame protes by Denel aan die direksie oorhandig.

Solidariteit sal graag met Denel wil saamwerk om moontlike oplossings te vind om die maatskappy weer winsgewend te maak.

Tyd is van kardinale belang in hierdie situasie – hoe langer daar gesloer word met ondersoeke en die afhandeling van prosesse hoe meer word Denel in die moeilikheid gedompel.

“Dis verregaande dat 'n maatskappy wat hom in die verlede al telkens aan bedenklike finansiële optrede skuldig gemaak het van sy werkers verwag om in goeder trou voort te gaan met hul werk terwyl hulle nie weet wanneer hul volgende salaristjek inbetaal gaan word nie,” sê Botha.

Volgens Botha het etlike honderde Denel-werknemers hul stem in Solidariteit se aanlyn petisie laat hoor en die besware wat hulle oor die maatskappy en Denel se direksie het, gelug. “Hierdie werkers wil nou ook deur middel van 'n vreedsame protesaksie die maatskappy van hul misnoeë bewus maak,” het Botha gesê.

Solidariteit-lede het saam met lede van Uasa, Numsa en Limusa aan die aksie deel neem.

  •  
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close