Solidarteit Wêreld
2020 – Uitgawe 4 Bedryfsnuus
Denel moet opdok ná roekelose optrede
Deur Lize-Mari | 14 September 2020

Foto krediet: iStock

Deur Wilmarie Brits

Sedert die arbeidshof op 4 Augustus beslis het dat Denel alle uitstaande kontraktuele en statutêre verpligtinge teenoor sy werknemers teen nie later nie as 7 Augustus moet nakom, het die staatsbeheerde wapenvervaardiger steeds geen betaling gemaak nie.

Solidariteit was genoodsaak om die arbeidshof te nader nadat die wapenreus slegs ’n gedeelte van sy werknemers se salarisse vir Mei betaal het. Sommige personeellede het tot so min as 20% van hul salarisse ontvang, verduidelik Helgard Cronjé, sektorkoördineerder van verdediging en lugvaart by Solidariteit. Werknemers moes boonop gedeeltes van hul salarisse vir Junie, Julie en Augustus ook inboet.

Volgens Cronjé het Denel sedert April vanjaar versuim om sy statutêre verpligtinge teenoor sy werknemers na te kom deur nie inkomstebelastingaftrekkings en ander aftrekkings aan derde partye oor te betaal nie.

Die uitspraak, wat elektronies deur regter A van Niekerk gelewer is, beveel Denel om nie net sy kontraktuele en statutêre verpligtinge na te kom nie, maar ook sy werknemers se uitstaande salarisse vir Mei, Junie en Julie ten volle te betaal.

Denel se aankondiging dat hy weens die inperkingsmaatreëls nie sy werknemers se salarisse kan betaal nie, het ’n wrang smaak in die mond van Solidariteit en honderde werknemers gelaat. Cronjé meen dat Denel en die staat as aandeelhouer roekeloos met hul werknemers omgegaan het. “Geskiedkundige probleme het veroorsaak dat Denel hom in hierdie penarie bevind en nie werknemers kan betaal nie. Dié probleem het nie ontstaan as gevolg van Covid-19 nie, maar as gevolg van jare lange vrot bestuur, korrupsie en staatskaping.”

Hoewel Solidariteit verheug is dat die uitspraak in die guns van Denel se werknemers is, kom dit nie as ’n verrassing dat Denel steeds nie die uitstaande geld aan die werknemers betaal het nie. Volgens Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit, erken Denel se direksie dat hulle die geld skuld, maar sê dat hulle nie die geld het om die betaling te maak nie.

Solidariteit is bekend daarvoor dat hy nie terugdeins wanneer sy lede onregverdig behandel word nie, en nie skroom om die hof te nader wanneer dit noodsaaklik is nie. Hierdie geval is geen uitsondering nie. Solidariteit se regspan het reeds begin met die opstel van sy minagtingsaansoek en is in die proses om lasbriewe teen die wapenreus uit te reik en te bekragtig, sodat daar op sy bates beslag gelê kan word.

“Die eens trotse Denel is in ’n baie moeilike situasie as gevolg van swak bestuur, wat ongelukkig die norm geword het en werknemers benadeel. Dit sal nie geduld word nie. Denel se werknemers is geregtig op die salarisse waarvoor hulle hard gewerk het, en daarom sal ons nie ophou veg om Denel aanspreeklik te hou vir die agterstallige betaling nie,” het Van der Bijl gesê.

 

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Deur Cilleste van Dyk Ek skryf vandag die derde opeenvolgende brief vir julle vanuit my woonkamer-kantoor, maar tog voel dit vir my soos ’n keerpunt. Ons is uiteindelik op vlak 2 van die inperking en dis byna asof daar weer ’n mate van normaliteit terugkeer. Die klein bietjie meer vryheid het my laat besef dat […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close