Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 6
Die geskenk van 'n ‘Plek’
Deur Michelle | 16 November 2017

Deur Moira-Marie Kloppers

Die klein blondekoppie kom spring soos elke middag op Herman Kloppers se skoot in sy kantoor. Daar is 'n paar windverwaaide kuifhaartjies wat lankal uit die twee poniesterte bo haar ore ontsnap het, en nou aan die stofgesiggie vasklou. Sy vee dit eers met die agterkant van haar hand weg en nadat sy hom 'n stywe drukkie gegee het, fluister sy met haar kop in sy nek gedruk, saggies in sy oor: “Tatta, pappa.” Sy oë versag en hy antwoord eenvoudig: “Soet wees Bella*, ek sien jou weer môre.”

Hierdie aangrypende toneeltjie speel elke dag af in die kerksaal van die Gereformeerde Kerk in Derdepoort, Pretoria. Die meerderheid van die kindertjies wat daagliks by die kerksaal in Derdepoort aankom, het geen pappa-figuur in hulle lewe nie. Daarom is Herman Kloppers, bestuurder van Helpende Hand se gemeenskapsentrum in Derdepoort, Pretoria, nie meer verbaas as die kleiner kindertjies hom só kom groet nie. Dit is ook hierdie diepe vertroue van klein hartjies wat die verantwoordelikheid van Ons Plek Derdepoort swaar op sy hart laat lê.

Ons Plek Derdepoort is Solidariteit Helpende Hand se gemeenskapsentrum in Pretoria wat net meer as 'n jaar gelede begin is. Die sentrum se hooffokus is 'n gratis Afrikaanse naskool. Meer as 30 laerskoolkindertjies noem nou hierdie sentrum “Ons Plek”.

Teen 11:00 se koers begin die potte in die kombuis lawaai en prut sodat die honger klomp net ná skool kan eet. Daarna begin die huiswerkstryd. “Dit is niemand se gunstelingtyd van die dag nie,” sê Herman. “Daar is meer as 30 kinders, uit sewe grade van ses verskillende skole. Wat die gekerm en gekla egter die moeite werd maak, is wanneer die outjie wat die meeste klippe gekou het, met blink oë kom spog met punte wat hy in sy lewe nog nooit voorheen kon behaal nie.

“Dit gaan vir ons oor meer as die huiswerk, die dissipline, die veilige omgewing en die vol magies. Dit gaan oor hoop. Hoe vroeër 'n mens in 'n kind se lewe kan ingryp en vir hulle 'n alternatiewe wêreld wys, hoe groter is die kans dat jy hulle die selfvertroue kan gee om die geleenthede wat oor hulle pad kom, raak te sien en aan te gryp. Wanneer kindertjies hier instap, leef hulle met 'n aangeleerde “kan nie”-ingesteldheid: Kan nie soet wees nie, kan nie wiskunde doen nie, kan nie spel nie, kan nie mooi skryf nie. Hoop ontwaak wanneer hulle ontdek hulle kán! Ek wil hulle hier uitstuur met 'n ek kán-ingesteldheid. Uiteindelik is dít die grootste geskenk wat jy 'n kind kan gee: hoop.”

Goeie idee vir Kersfees

Vra jou familie en vriende om, pleks van 'n Kersgeskenk wat dalk later stof vergader, namens jou 'n donasie aan 'n gemeenskapsondersteuningsprogram, soos Ons Plek Derdepoort, te gee.

Help só by Ons Plek Derdepoort

Ongelukkig het enige sentrum, soos Ons Plek Derdepoort, basiese finansiële uitgawes wat elke maand gedek moet word. In 2018 gaan die sentrum R30 000 per maand benodig om voorsiening te maak vir die invloei van nuwe kindertjies wat reeds op 'n waglys is.

“Die Afrika-spreekwoord lui: Dit verg 'n gemeenskap om 'n kind groot te maak. By Ons Plek Derdepoort is dit beslis die geval. Ons het nie noodwendig groot donateurs nodig nie. 'n Gemeenskap van individue en klein besighede wat almal maandeliks klein bietjies bydra, sal vinnig genoeg wees om ons finansiële behoeftes te dek,” sê Herman. Indien jy meer inligting benodig, graag die sentrum wil besoek of as vrywilliger betrokke wil raak, stuur 'n e-pos aan Herman by herman@helpendehand.co.za.

Bankbesonderhede:

Bank:                          FNB

Rekeninghouer:          Solidariteit Helpende Hand

Rekeningnr.:               62331445503

Tak:                            Centurion

Taknr.:                        261550

Verwysing:                 derd01

Donateurs se fondse sal eksklusief vir Ons Plek Derdepoort aangewend word. Maak asseblief seker dat u die regte verwysing (derd01) gebruik om seker te maak die fondse word reg geallokeer.

* Skuilnaam

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Met die Covid-19-inperking steeds volstoom aan die gang, bring ons vir jou nóg ’n inperkingsuitgawe op jou rekenaarskerm, hierdie keer met gemak saamgestel asof dit al jare lank so gedoen word. Almal het die nuwe manier van doen se ritme nou reeds bemeester, met sommige wat intussen terug is by die werk terwyl ander nog […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close