Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 4 In Retrospek
Die Groot Ding met pajamas…
Deur Michelle | 10 Augustus 2017

“Pajamas is sommer ’n onnodige luukse. Hoekom sal ’n mens nou dieselfde vir ’n stel pajamas betaal as vir ’n ander nuttige kledingstuk? Ek slaap sommer in ’n ou sweetpakbroek en ’n uitgerekte trui.” Tot onlangs toe was hierdie my heel logiese filosofie. Tot en met hierdie winter.

Hierdie winter moes ek onverwags ’n ongewenste afspraak nakom. ’n Afspraak met my ginekoloog, ’n narkotiseur en die mes. “Oooeee…” het een van my kollegas met ’n onheilspellende hol stem laat hoor, “niemand het vir my gesê hoe séér dit gaan wees nie… So, nou sê ék maar vir jóú!”

Nog ander het vermanend die voorvinger vir my geskud: “Ek ken jou! Jy beter die héle ses weke rus, net soos die dokter sê! Nie bestuur nie, nie swaar goed optel nie… ’n histerektomie is ’n Groot Ding!”

Eindelik was ek onder die indruk van die nodigheid om ’n paar dinge in my lewe anders in te rig in voorbereiding op die Groot Ding wat aan die kom was. Met twee gestremde kinders in my huis was daar oorgenoeg swaar dinge om op te tel. Dus het ek ekstra hulp nodig gehad.  Ek het ook ’n bestuurder nodig gehad om te gaan kos koop. En, les bes, ek moes my pajamafilosofie wysig. Vir die hospitaal sou die uitgerekte trui en ou sweetpakbroek nie deug nie.

Gelukkig was my verjaardagmaand reg aan die begin van die Winter van die Groot Ding. Ek het dus my bonus gehad om ekstra mense te huur vir die twee kinders se versorging. Maar voor ek nog by die pajamas kon uitkom, kom my dogter en my ma elkeen met twee stelle aan. “Pas aan,” sê my ma in haar ma-stem. “Ek wil sien of dit pas.” Ek pas aan. En binne ’n oomblik besef ek dat ek al vir byna ’n hele leeftyd ’n valse filosofie aangehang het.

Die pajamas sit soos wollerige, warm wolke teen my vel. Ek word oombliklik oorweldig deur ’n sterk begeerte om myself lekker op die bed uit te strek, al is dit nog glad nie slaaptyd nie.  “Dit pas…” sug ek behaaglik voor ek dit teensinnig uittrek om weer my dagklere aan te trek vir die laaste deel van ’n dol dag.

In my hersteltyd ná die Groot Ding leer ek ’n hele paar baie goeie lesse. Ek leer dat my huishouding vir ses weke lank baie goed kan oorleef sonder my wat aanhoudend soos ’n  afkop hoender rondhol. Ek leer dat dit nogal aangenaam – selfs hemels – is om water op my bedkassie en koffie in die bed te kry. En ek leer dat my stelle pajamas my nuwe beste vriende is.

Toe leer ek die Les agter die Lesse. Ek het nog nooit pajamas gekoop, koffie in die bed gedrink of iemand anders winkel toe gestuur sodat ek kan rus nie. Toe ek dit skielik moes doen, het dit heeltemal maklik gewerk. So: Is daar nog dinge wat ek myself oor baie jare onnodig ontsê het? ’n Nuwe bloes wat ek nodig het, maar my geld moet alles gebruik word om dinge vir ’n kind se kamp te koop. Hare wat gesny moet word, maar dis nog nie die einde van die maand nie. ’n Dieet waarop ek wil gaan, maar die ledegeld van die groep is te veel en my skaal is buitendien nou stukkend…

Die sagte pajamawolle teen my vel en die aanslag van die Groot Ding het my laat bewus word van my eie self, my persoonlike behoeftes – fisies en geestelik. Ek is ’n ma, ek is ’n juffrou, maar ek is ook iemand. In die resies om dinge vir ander mense te doen, vergeet ek hierdie eenvoudige feit maar net te maklik. Om in my mense, my gemeenskap of in my werk se diens te staan, is mooi, dis deel van my roeping, maar dis nie alles nie. Selfs die vrou van  Spreuke 31, die deugsame vrou, wat opstaan as dit nog nag is om kos te maak, ’n oop hand vir die armes het en geen luiheid ken nie, maak vir haarself mooi dekens en dra klere van linne en wol. As jou eie beker vol is, as jy sorg dat jy gevul word, geestelik en fisies, as jy rus, reg eet, somtyds ietsie moois koop, dan het jy meer om uit te deel as wanneer jy oorwerk en op is, lelik voel en worstel met ’n warboel emosies wat jy nooit ontknoop nie.

Ná ses weke besef ek wat is die eintlike Groot Ding: Balans. ’n Les eksklusief aan my gebring deur vier stelle pajamas met kolle, strepe en ander lawwe prentjies. En ’n ou sweetpakbroek en uitgerekte trui wat nou iewers tussen die skille en eierdoppe in ’n asblik lê…

  •  
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close