Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 2 Spreekbuys
Die landskrisis en ons Beweging se planne
Deur Michelle | 08 Mei 2017

“'n Boer maak 'n plan,” het die oumense gesê. Maar net een plan is nie genoeg om die groeiende krisis waarin Suid-Afrika ingly te keer nie. Dis ook makliker om 'n plan te maak as om dit suksesvol uit te voer. skyf FLIP BUYS.

Solidariteit kry daagliks oproepe met voorstelle wat aan al die krisisse gedoen kan word, maar dit is nie maklik in 'n land waar so baie van wat opgebou is, verval nie. Regeringsbeleid het die staat só verswak dat die staatsdiens nie meer sy basiese funksies kan of soms wil doen nie. Die misdaadplaag en swak munisipale dienste is maar net voorbeelde van die groter probleem. Daarom is ons groot uitdaging om “staatsdienste” sonder staatsinkomste, staatsmagte en ’n staatsdiens te lewer.

Behalwe hierdie landsprobleme wat almal in die land knel, ly minderheidsgemeenskappe soos Afrikaners, wit mense en bruin mense al meer onder ’n regering wat al meer téén ons regeer. Daarom moet Solidariteit ook aandag gee aan hierdie probleme, om te verhinder dat mense landuit gedryf word en permanent vir Suid-Afrika verlore gaan.

’n Plan moet groter as die probleem wees om te kan slaag, én dit moet vinniger uitgevoer word as wat die probleem groter word. Dit beteken dat Solidariteit en die Solidariteit Beweging vinniger moet opbou as wat dinge verval, en dit is nie so maklik nie. Die verval in die land het nie per ongeluk gebeur nie. Dit is die gevolg van jarelange toegewyde wanbestuur en harde nikswerk deur die president en sy lui luitenante. 

Eenheid deur veelheid

Die vraag is wat Solidariteit en die groter Solidariteit Beweging hieraan doen? Soos reeds gesê, is een plan nie goed genoeg nie. In ’n ander land is die probleem byvoorbeeld net polities van aard, en kan dit met een politieke plan opgelos word by die volgende verkiesing. Maar ons probleme is ingewikkelder en daarom moet ons alle moontlike planne maak én uitvoer, al besef ons dat nie een op sy eie kan werk nie.

By Solidariteit aanvaar ons ook dat almal nie met alles saamstem nie, en daarom kan ons nie net een groep se plan uitvoer nie. Ons moet al die ander ook uittoets. Natuurlik besef ons dat almal nie alles ondersteun nie, maar eenheid is net moontlik as daar ruimte is vir veelheid. Daarom is ons planne omvattend, en maak voorsiening vir ’n wye verskeidenheid menings. Dis die rede hoekom ons pleit vir geduld met verskille. Moenie dít teenstaan waarmee jy nie saamstem nie. Dit waaroor ons verskil hoef ons nie te verdeel nie. Kom ons fokus eerder op dit waarmee ons saamstem as dit waarmee ons verskil.

Ons is ook nie so goedgelowig om te dink dat net een plan, soos ’n gesprek met die regering of ’n hofsaak of drie ons probleem gaan oplos nie. Dit beteken egter nie dat ons dit nie moet doen nie, omdat die samelopende uitwerking van al die planne waarmee ons besig is uiteindelik saam die gewenste uitwerking sal hê.

Daarom kan ons planne in ’n neutedop soos volg opgesom word:

  1. Skakeling met die regering en politieke partye

Ons beleid was nog altyd om met alle partye te praat, maar ons aan niemand te verbind nie. Dit is so dat gesprekke met die nasionale regering nog geen uitwerking gehad het nie, maar ons het wel al baie welslae gehad in gesprekke met stadsrade en ander owerhede. Ons mag onsself nie isoleer nie, maar moet sorg dat die regering ook ons lede se stem hoor. Solidariteit maak gereeld parlementêre voorleggings oor sake wat ons lede raak, wat wissel van pensioenwetgewing en rassediskriminasie tot die nasionale gesondheidstelsel.

  1. Kontak met staatsdepartemente

Ons lede is hardwerkende belastingbetalers en die staatsdiens moet vir almal in die land werk, nie net vir die regering nie. Daarom skakel ons gereeld met staatsdepartemente oor ’n wye spektrum sake, van die gevaar van werkverliese weens Chinese “dumping” tot gesprekke met die polisie oor korrupsie en misdaad. 

  1. Helpmekaar selfhelpinstellings

As die regering ons nie wil help nie, help ons mekaar. Daarom het ons oor die jare ’n netwerk selfhelpinstellings opgebou om noodsaaklike dienste aan ons ledegemeenskap te verskaf. Hierdie dienste wissel van opleiding tot bystand aan skole, veiligheid deur buurtwagte, verbetering van munisipale dienste en die bevordering van Afrikaans. Staatsafhanklikheid is ’n doodloopstraat. Daarom bewerk ons groeiende selfstandigheid, wat net so vinnig groei as wat ons organisasies groei en wat ons gemeenskapsteun kry. Ons ervaring is gelukkig dat gemeenskapskrag sterker is as staatsmag.

  1. Hofsake

Ons beskerm ons lede se regte deur as ’n laaste uitweg wanneer gesprekke nie uitwerk nie hof toe te gaan. Hoewel ons nie deur die howe die groter probleem kan oplos nie, wen ons steeds 87% van lede se sake. Ons raak wel bekommerd oor politieke invloede in sake wat oor eiendomsreg, ras, taal of kultuur gaan. Die uitdaging is dat hoe meer die regering en die staat verswak, hoe meer sake land in die howe. Die howe kan egter net uitsprake gee, en is nie ontwerp en gerat om die staat se werk te kan doen nie. 

  1. Grondwetlike instellings

Daar is verskeie grondwetlike instellings wat daargestel is om bepaalde belange te bevorder. Dit geld instellings soos die openbare beskermer, die ouditeur-generaal, die Menseregtekommissie, die kommissie vir die beskerming van mense wat aan taal, kulturele of godsdienstige gemeenskappe behoort, en die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad. Hoewel sekere grondwetlike instellings soos die openbare beskermer onder advokaat Thuli Madonsela goed gewerk het, is verskeie ander disfunksioneel, gekoöpteer deur die regering of dien hulle bloot dieselfde ideologie.

  1. Openbare deelname

Solidariteit word gereeld uitgenooi om deel te neem aan openbare forums waar ons die geleentheid gebruik om ons lede se saak te stel. Dit sluit in forums wat probeer om werkgeleenthede in die staalbedryf te red, die forum om arbeidsonrus in myne te hanteer, of gesamentlike aksies om ’n ekonomiese afgradering te probeer keer. Daarmee saam word van ons lede verkies tot openbare instellings soos skoolbeheerliggame, universiteitsrade, Seta’s, pensioenfondstrustees of die direksies van mediese fondse.

  1. Samewerking

Omdat ons besef dat ons nie alles alleen kan regkry nie, is samewerking deel van ons planne. Dit geld samewerking met maatskappye of ander vakbonde om werkomstandighede te verbeter, beroepsveiligheid te bevorder, poste te red, of enige ander vorm van samewerking. Vennootskappe oor grense en bruê bou na ander gemeenskappe is ook deel hiervan. So help ons ook staatsverval keer, bevorder rassebetrekkinge en goeie verhoudinge. 

  1. Onderhandeling

Solidariteit het ’n kundige span ervare onderhandelaars wat namens ons lede met talle werkgewers onderhandel oor diensvoorwaardes en ander sake wat ons lede raak.

  1. Openbare mening

Die openbare mening is belangrik, omdat dit uiteindelik bepaal wat in die land gebeur. Daarom doen ons navorsing en skakel met die media om ons standpunte oor die belangrikheid van gelyke geleenthede, ’n vrye ekonomie, die oppergesag van die reg en eiendomsreg oor te dra.

  1. Opbou

Ons antwoord op die afbreekkultuur wat op baie plekke posgevat het, is om op te bou en ’n opboukultuur te bevorder. Ons glo dat geen prestasie nog bereik is deur af te breek nie, maar deur op te bou. 

  1. Buiteland

Buitelandse skakeling en steunwerwing raak al meer belangrik namate dinge al slegter in die land gaan. Buitelandse druk is in ’n geglobaliseerde wêreld baie belangrik, omdat regerings nie meer kan doen wat hulle wil nie. Dit is wel ’n uitgerekte proses wat nie vinnige oplossings bied nie, maar dit bly belangrik dat die buiteland bewus is wat aangaan en dat ons buitelandse ondersteuning werf en druk op die regering plaas.

  1. Grondwetlike kulturele vryheid

Die land se Grondwet maak voorsiening vir omvattende kulturele vryheid van kultuurgemeenskappe, wat selfs alle vorme van selfbeskikking insluit. Hierdie vryheid word verskans in die Akte van Menseregte, en geld ook vir Afrikaners en minderheidsgroepe. Dit is so dat die huidige magshebbers enige vorm van kulturele vryheid teenstaan, wat gewoonlik daarop dui dat dit al hoe belangriker gaan raak.

Demokrasie sonder kulturele vryheid is net vryheid vir die meerderheid. Terselfdertyd wys die geskiedenis ook dat waar minderhede nie veilig is nie, is meerderhede uiteindelik ook onveilig. Dit is so dat selfbeskikking tans nie haalbaar is nie, maar ons beleid is om alle grondwetlike geleenthede te benut omdat niemand weet wat die toekoms gaan inhou nie. Daarom ondersteun die Solidariteit Beweging benewens ons projekte op feitlik elke plek in die land, ook enkele projekte op Orania, byvoorbeeld om mense met werk te help.

  •  
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Ons het hierdie jaar weer afgeskop met gedeeltelike duisternis weens Eskom en beurtkrag. Die ongerieflike beurtkragskedules was op almal se lippe en Facebook-profiele. Dit tref ‘n mens mos reg in die middel van die besigste tyd ná werk, wanneer jy moet kos maak, kinders bad of gou daardie bondel wasgoed in die wasmasjien moet gooi […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close