Solidarteit Wêreld
2016 – Uitgawe 5 Spreekbuys
Die lang pad na gelykheid
Deur Michelle | 04 Oktober 2016

Dit was in die King David Hotel in Oos-Londen waar ek besef het dat ongelykheid díe kernkwessie in Suid-Afrika gaan word. Dit was in die begin van die negentigs, en daar was vroeër die dag by Kodesa ooreengekom dat “gelykheid” as kernbeginsel in die Grondwet ingesluit gaan word. Ek was deel van ’n paneel sprekers wat aan ’n debat oor regstellende aksie deelgeneem het teenoor Gwede Mantashe en ander swaargewigte van die ANC, SAKP, Cosatu en die regsprofessie, skryf FLIP BUYS.

Die geselskap was baie opgewonde oor die gelykheidsnuus, maar ek was nou nie té ingenome nie. ’n Senior Afrikaanse regsgeleerde vra my toe waarom ek nie saam opgewonde lyk nie. Hy was verstom toe ek antwoord dat hy die ANC- en SAKP-mense moet vra wat my pla – húlle sal weet. Hy het verbaas gelag omdat hy nou vir hulle moet vra wat my pla, maar ’n SAKP-/Cosatu-leier het hom vinnig reggehelp: “Dis omdat Flip weet dat ons en julle lynreg verskil oor wat gelykheid is, en dat óns na die verkiesing gaan besluit wat gelykheid is en hoe dit bereik moet word.”

Die regsman was ’n ondersteuner van die destydse regering en het verbaas gevra wat ons bedoel? Gelykheid is mos gelykheid! Ek het hom geantwoord dat dit nie so eenvoudig is nie. Ons glo aan gelykheid as gelyke geleenthede, terwyl die ANC-alliansie dit as gelyke uitkomste sien.

“Dis die verskil tussen ’n gelyke wegspring en om gelyk by die wenpaal aan te kom”, het ek aan hierdie ongelowige Thomas probeer verduidelik. “Met gelykheid bedoel hulle eintlik verteenwoordigendheid volgens die bevolkingsamestelling,” het ek aangevul. Ek het tóé al genoeg van hierdie debatte beleef. Hy kon nie glo wat hy hoor nie, en dit het ’n lang nag geword.

Politieke mag

Die volgende oggend het dieselfde regsman my aan die ontbyttafel probeer gerusstel. “Die Grondwet sal ons beskerm,” het hy gesê. “Die wette sal keer dat hulle nie sommer doen wat hulle wil nie.”

Ek het gesug: “Politieke mag is sterker as grondwetlike gesag. Die meerderheid skryf wette om hul wil op die samelewing af te dwing. Die howe moet die wette vertolk, maar hulle vervul nie ’n opposisierol nie,” het ek my punt probeer stel. “Natuurlik sal die howe help, maar hulle sal nooit die breë staatsideologie kan teengaan nie.” Maar die regsman het nie meer geluister nie; hy het vrolik van tafel na tafel gestap.

Die Mynwerkersunie, een van die stigtersunies van Solidariteit, was veral in die sewentigs en vroeë tagtigs onder Arrie Paulus bekend vir sy sterk standpunt teen gelykheid in die werksplek. Peet Ungerer, die MWU se nuwe hoof, het my opdrag gegee om die vakbond se beleid daaroor te hersien. My voorstel wat deur die vakbond se destydse Hoofraad aanvaar is, is tong in die kies die MWU se “witskrif oor swart bevoordeling” genoem. Die kern daarvan was dat die vakbond gelyke geleenthede vir almal as vertrekpunt aanvaar, met bykomende hulp en geleenthede vir groepe wat nie voorheen gelyke geleenthede geniet het nie.

Verteenwoordigendheid

In 1998 het die nuwe regering die Wet op Diensbillikheid, 1998 (Wet 55 van 1998) sonder veel bohaai deurgevoer. Mense het gedink dat die wet net handel oor die regstelling van dit wat verkeerd was en het nie die wet gelees nie. Maar tussen al die mooi woorde en voornemens van die nuwe wet was daar veral een sin wat my bekommer het. Dit was dat die wet wou poog om die bevolkingsamestelling op elke posvlak in die werkmag te weerspieël, buiten in die laer posvlakke waar wit mense onderverteenwoordig is.

My siening was dat die eindpunt van die wet dus nie gelykheid is nie, maar verteenwoordigendheid. Ek het ’n statistikus, arbeidsekonoom en regsprofessor versoek om die wet se implikasies te ondersoek. Die gevolgtrekking was dat die wet wel op verteenwoordigendheid eerder as gelykheid gemik is. Hulle het voorspel dat duisende wit mense eers uit die staatsdiens, dan die openbare ondernemings en daarna die privaat sektor geskuif sou word.

Hierdie verslag is regoor die media met kritiek en bespotting begroet. Toe ons nog daarna waarsku dat hierdie beleid ook na die sakesektor sou uitbrei en dat rassewette dit vir wit mense wat noodgedwonge besighede sal moet begin óók moeilik gaan maak, is ons letterlik as regse aardspessimiste uitgelag.

Maar dit was nie al nie. Toe ons nog boonop voorspel dat oorhaastige en ondeurdagte “regstelling” die staatsdiens se doeltreffendheid gaan ondermyn, is ons finaal as rassiste afgeskryf wat net na die voorregte van die verlede terugverlang. Hulle wou glad nie na ons standpunt luister nie dat ons gelykheid steun en swart mense al die geleenthede in die wêreld gun, maar dat die wet wesenlike probleme gaan meebring. Die regering verkies die Afrikaanse woorde “regstellende aksie”, wat in wese ’n propagandaterm is wat homself regverdig.

Gesprekke

Namate die gevolge van dié wet en die probleme wat dit meebring al duideliker word, het ons standpunt meer steun begin kry. My kollega Dirk Hermann het ’n studie oor affirmative action begin doen en uiteindelik een van die voorste kenners in die land daaroor geword met sy doktorale tesis hieroor. Ons het vir etlike jare gesprekke met die regering en sakelui daaroor begin voer en ’n kode vir billike praktyke voorgestel waaraan rassewette moes voldoen om die toets van billikheid te slaag. Die ANC wou egter niks hiervan weet nie.

Ons het ook met die vorige regeringsleiers gepraat om hulle siening van die Grondwet te kry. Mnr. F.W. de Klerk het toe in die openbaar gesê dat die doel van die grondwetlike gelykheidsbepalings nooit was om “verteenwoordigendheid” te bewerkstellig nie. Dit sou volgens hom tot die onhoudbare toestand lei waar elke instelling in die land onder swart beheer sou wees, en elke deel van minderhede se lewens deur die meerderheid beheer sou word. Sy stigting het ook bevestig dat die sowat 200 000 kundiges wat weens hul ras uit die staatsdiens gestel is die land groot skade berokken het. Hoewel die woord “transformasie” nie in die Grondwet voorkom nie, het sy rasseformule van 80% swart, 9% bruin, 9% wit en 2% Indiër ’n feitlik onaantasbare status verkry.

Hofsake

Namate die omvang van die nuwe rassebedeling in die land duidelik geword het, het Solidariteit ’n hele departement met spesialiste aangestel om navorsing te doen en regsaksies te onderneem. Ons Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke het talle hoëprofielsake hanteer, waarvan ons baie gewen het. Ons het egter die Renata Barnard-saak in die Konstitusionele Hof verloor, deurdat die hof eintlik die grondslae van die regering se ideologie van verteenwoordigheid as grondwetlik bestempel het. Hoewel ons ander sake soos die DKD-saak namens hoofsaaklik bruin bewaarders gewen het, het die hof steeds die ideologiese grondslag van verteenwoordigendheid onderskryf.

Verenigde Nasies

Solidariteit het daarna ’n sterk afvaardiging onder leiding van sy bestuurshoof dr. Dirk Hermann na die VN se Kommissie vir die Uitwissing vir Alle Vorme van Diskriminasie in Genève gestuur om ons saak daar te stel. Hoewel die senior regeringsafvaardiging skerp voor stok gekry is deur die Kommissie, is die verslag wat uitgebring is in ’n versigtige diplomatieke taal verpak. Dit is duidelik dat die VN se wiele stadig draai, en dat dit ’n tydsame proses gaan wees voordat hulle bereid gaan wees om openlike druk op die regering te plaas. Ten spyte daarvan het die regering wel ’n duidelike boodskap gekry dat hulle beleid nie in lyn is met die standaarde van die internasionale reg nie, en dat hulle daaraan sal moet begin aandag gee.

Toekomspad na gelykheid

Suid-Afrika het oor die afgelope dekades van die een uiterste na die ander beweeg. Die pad na ware gelykheid gaan nog baie draaie maak en oor baie bulte loop voordat ons daar gaan kom. Ons is nie ’n normale demokrasie met gereelde regeringswisselings nie en ’n normale werkmag is nie moontlik voordat die land nie normaliseer nie. Die ANC-regering misbruik hul ongelyke politieke mag om hul siening van gelykheid as verteenwoordigendheid op die land af te dwing – ongeag die gevolge.

Intussen gaan Solidariteit nie by hierdie ongelykheid berus nie. Duisende jongmense word vanweë die land se vaardigheidstekort in die praktyk van rassewette “vrygestel” deur ons grootskaalse opleidingsprojekte. Ons gaan ook voort met hofaksies omdat daar steeds baie ruimte is om sake te wen, soos die DKD-saak bewys het. Derdens gaan ons volhou met buitelandse druk, omdat die regering nie vir altyd die internasionale reg sal kan ignoreer nie. Vierdens onderhandel ons steeds met maatskappye oor onbillike rassewette, omdat al meer sakereuse die onbillikheid daarvan besef. Vyfdens streef ons steeds daarna om die openbare mening van ons gebalanseerde standpunt te oortuig, omdat meningspeilings bewys dat die regering se eie ondersteuners nie onbillike rassediskriminasie ondersteun nie. Sesdens werk ons ook aan die normalisering van die land, met die doel om groter ewewig teweeg te bring.

Laastens versnel ons die Solidariteit Beweging se 2020 Bouplan, met die doel om ’n toekoms te skep waarin ons ook vry, veilig, voorspoedig én gelyk in die land kan voortbestaan!

  • 2
  •  
  •  
Redakteursbrief

Sedert 1902 glo Solidariteit in werk en om mekaar te help. 117 jaar later is dit steeds Solidariteit se hartsbegeerte om mense te help om 'n goeie werk te bekom en te behou. Ons uitdagings word ongelukkig groter, en dus moet ons planne nóg groter word. Solidariteit spits hom toe op werkgeleenthede – en watter […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close