Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 6 In Retrospek
Die nuus om sewe
Deur Michelle | 16 November 2017

Om op die kantlyn te bly sit wanneer ons skool konsert hou, is uit. Heeltemal uit. Elke siel word opgesweep in die stroom van opwinding waarmee die voorbereiding gepaard gaan. Wanneer dit oefentyd is, moet Jakob, die tuinier, sy graaf en kruiwa laat staan en agter die verhoog dinge kom help rondskuif. Die twee skoolsusters se kliniekdeur word toegetrek want hulle het ook 'n item. Die fisioterapeut neem stelling in by die saal se agterdeur. Die arbeidsterapeute is die verhoogbestuurders. Die juffrouens begin afbeweeg saal toe met stringe kinders wat agter hulle aantou. En die hoof speel nuusleser, want hierdie jaar se konsert heet “Die Sewe-uur Nuus”.

Konsert-hou by ons skool is amper soos 'n soort dwelm. 'n Mens raak skoon hoog van euforie as jy sien hoe oulik ons kinders alle verwagtinge oortref. Ek verkyk my aan Theuns, 'n serebraal gestremde seuntjie wat tydens die vorige konsert histeries van angs was, maar nou as 'n donderwolkie op die maat van “Thunder” breed glimlaggend sy arms swaai. Ek voel lus om die jong juffroutjie met haar “McDonalds”-span 'n staande ovasie te gee as sy daarin slaag om haar energie en entoesiasme aan hulle oor te dra deur self in 'n hansworspak deel te word van die item. Ek het binnepret as ek sien hoe hard die seuns in die rugby-item konsentreer om die bewegings wat hulle streng maar ervare juffrou vir hulle demonstreer, uit te voer. En keer op keer oorweldig emosie my as ons rolstoeldansers “You Raise me Up” opvoer.

Konsert-hou is by ons 'n yslike onderneming. 'n Klomp van ons kinders het nie vervoer nie of is te arm om heen en weer te ry. Dus hou ons 'n yslike oorslaap. Die skool word koshuis. Matrasse word op die klasvloere oopgegooi. Ons assistente speel ma of pa vir groepies kinders waarvan sommige in rolstoele of in doeke is. Almal word met groot liefde gewas, kos gegee en in die bed gesit. Vir twee dae werk, slaap en eet ons by die skool. Ons is verby moeg as dit klaar is. Maar oneindig ryker as vantevore.

“This is my fight song, take back my life song”, sing ons koortjie. Met oorgawe demonstreer hulle aan die gehoor dat hulle nie terugstaan vir die uitdagings van die lewe net omdat hulle gestremdhede het nie. Hier is die nuusflits, die nuus om sewe: Elkeen is iemand. 'n Rolstoel of 'n sindroom of enige ander persoonlike eienskap maak nie van enigiemand minder mens nie. Die Here Jesus sien jou. Hy vind vreugde in jou daarwees. Hy geniet jou soos jy is.   Want Hy het jou so gemaak. Jy is uniek!

Om op die kantlyn van die lewe te wil sit net omdat die lewe vir jou 'n tafel vol uitdagings gedek het, is uit. Heeltemal uit. Die konsert van die lewe wag nie. Die gordyne is oop. Die musiek speel. Jy het 'n rol om te speel. Daar is 'n gehoor. Daar is 'n konsertmeester. Daar is passies om uit te voer. En sonder om dit te weet, het jy 'n impak op mense. Mense sien dat jy die lewe voluit leef – ten spyte van wat ook al. En hulle stap uit die konsertsaal met nuwe energie.

Lyk dit moeilik? Moenie bekommer nie. Daar is 'n skare rondom jou wat jy dalk nie altyd raaksien nie. Soos ons tuinier, juffrouens, assistente, terapeute en susters is hulle dalk onopsigtelik in swart geklee en smelt weg in die agtergrond of agter die gordyne. Maar die Here gee mense op jou pad wat jou dra, wat jou arms lig as jy self nie kan nie. Jy mag staatmaak op hulle. En jy mag staatmaak op Hom wat jou liefhet net omdat jy jy is.

Dit is die nuus om sewe.

  •  
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close