Solidarteit Wêreld
2015 – Uitgawe 5 Spreekbuys
Die SA arbeidsmark het werk nodig
Deur Michelle | 13 Oktober 2015

Solidariteit doen alles binne sy vermoë om werkverliese te vermy en te beperk, en ons onderhandelaars het al meer as ‘n duisend poste gered. Die wêreldekonomie bly egter pap, en in Suid-Afrika lyk dinge nie goed op die korttermyn nie. Ekonome is dit ook nie eens oor hoe lank dit die ekonomie gaan neem om weer kop op te tel nie. 

“Jou werk is ons werk.” Hierdie leuse van Solidariteit het die afgelope tyd weer vir my nuwe betekenis gekry. Baie maatskappye verminder personeel, en selfs hardwerkende mense met jare getroue diens verloor hulle werk. Boonop hang daar steeds ‘n swaard van onsekerheid oor nog duisende mense. Hierdie mense het gesinne wat versorg moet word, huise wat betaal moet word, en lewenskostes wat gedek moet word.

Daar is nie maklike oplossings hiervoor nie, en 'n mens se woorde raak op as jy hulle in die oë moet kyk. Daar is ook ‘n veelheid oorsake hiervoor, maar die grondliggende rede is die ekonomiese afswaai wat deur binnelandse en buitelandse faktore gedryf word. ‘n Ekonomie gaan nou maar eenmaal op en af soos die golwe van die see; die waters bly nie kalm nie.

Werkmag

Ons land se hoofprobleem is eenvoudig: daar is te min mense in die land met werk. ‘n Goed betaalde, goed opgeleide en produktiewe werkmag met werksekerheid is ‘n voorvereiste vir ‘n voorspoedige land. Daarom het die vader van die moderne kapitalisme, Adam Smith, gesê dit is net billik is dat diegene wat die bevolking voed en klee, self goed geklee en gevoed is.

Suid-Afrika se hoë werkloosheidskoers maak dit egter uiters moeilik vir werksoekers om gou weer permanente werk te kry, veral as jy nie goed opgelei is nie. Dit is ‘n wêreldwye verskynsel – selfs Westerse lande soos Spanje het ‘n hoë werkloosheidsyfer, veral onder jongmense. Suid-Afrika kan niks doen aan die afswaai in die internasionale ekonomie nie, maar dis nie ‘n verskoning vir die regering om niks te doen aan die probleme in die land se arbeidsmark nie.

Swak regering

Die probleem is dat die Suid-Afrikaanse arbeidsmark groot probleme het wat nie oornag reggestel kan word nie. Daar is verskeie oorsake daarvoor, maar die hoofrede is swak regering. Die harde werklikheid is dat die ANC homself nog steeds as ‘n “bevrydingsbeweging” beskryf en gedra, en nie as ‘n “regeringsbeweging” nie.

Die geskiedenis het by herhaling gewys dat bevrydingsbewegings nie goed kan regeer nie. Die vereistes wat nodig is om suksesvol te “struggle”, bots lynreg met die vereistes om suksesvol te regeer. Die een gaan oor opponering; die ander oor regering.

Die probleme wat werkskepping in ons land se ekonomie strem is, opsommend, die volgende:

  • ‘n Swak skoolstelsel wat baie kinders feitlik onopleibaar maak;
  • ‘n Swak opleidingstelsel wat talle jongmense onindiensneembaar “oplei”;
  • Regeringsbeleid wat die privaatsektor as “werksverskaffingsfabrieke” teister en strem met ingrypende staatsinmenging wat sand in hul wiele gooi;
  • Sekere militante vakbonde wat nie die ekonomiese werklikheid wil of kan verstaan nie en ons land op die laaste posisie van arbeidsverhoudinge op wêreldranglyste laat beland het;
  • Sosialistiese regeringsbeleid wat die fondamente van die ekonomie ondermyn, soos eiendomsreg, rassewetgewing en beleggersvertroue;
  • Die land se swak bestuurde staatsondernemings en verswakkende infrastruktuur soos elektrisiteit, munisipale dienste en spoorweë;
  • Wydverspreide korrupsie, misdaad en onbevoegdheid wat die koste van sake verhoog, sakeondernemings strem en werkskepping ondermyn.

Uitkomste

Die gevolge hiervan is dat dit die uitwerking van die swak wêreldekonomie vererger, en dat Suid-Afrika nou baie swakker as die meeste ander Afrikalande groei. Swakker groei beteken dat maatskappye minder mense in diens neem, swakker winste beteken dat werknemers se pensioene stadiger groei en dat die staatskas minder belasting kry, en dit beteken weer groter werkloosheid en uiteindelik hoër misdaad en honger kinders.

By Solidariteit doen ons alles in ons vermoë om die probleme in die arbeidsmark die hoof te bied. Helpende Hand ondersteun 400 skole met talle projekte, voed maandeliks meer as 4 000 kinders, en help ongeveer 1 500 jongmense met studiefondse. Die Solidariteit Vakbond tree verantwoordelik op en was nog nooit in ‘n gewelddadige staking betrokke nie. Ons beskerm die regsorde en eiendomsreg waar ons kan, veg teen onbillike rassewette wat die ekonomie benadeel en voorsien navorsingsbevindings oor die ekonomie aan alle rolspelers. Ons kollege, Sol-Tech, lei ambaglui op, en ons vennote soos AfriForum doen enorme werk om munisipale infrastruktuur in stand te hou en gemeenskapsveiligheid te verseker.

Natuurlik kan ons nie alleen verantwoordlikeheid neem vir oplossings nie, maar ons doen wat ons kan, waar ons is, met wat ons het. Kom ons hoop die huidige krisis waarin die wêreld is en waarin die land besig is om te gly, is die vonk wat die regering laat vlam vat om iets aan die ernstige probleme in die arbeidsmark te doen.


“No society can surely be flourishing and happy, of which the far greater part of the members are poor and miserable. It is but equity, besides, that they who feed, clothe and lodge the whole body of the people, should have such a share of the produce of their own labour as to be themselves tolerably well fed, clothed and lodged.”Adam Smith

“We have become a nation of employees. We are dependent upon others for our means of livelihood, and most of our people have become completely dependent upon wages. If they lose their jobs they lose every resource. For [them] the substance of life is in another man’s hands.”T Tannenbaum in A philosophy of Labour (1951).

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Ek het nou die dag lekker vir ’n kollega van my gelag. Dit was ’n moeilike dag by die werk, want die sperdatum van ’n projek was op hande terwyl daar nog ’n miljoen goed gedoen moes word. Sy kan soos ’n tornado deur die kantoor waai as sy só ’n dag beleef en so […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close