Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 2
Die Solidariteit NetWerk – unieke antwoord vir 'n unieke tyd
Deur Michelle | 25 April 2019

Deur dr. Dirk Hermann

 

Solidariteit is in 1902 gebore en sedertdien is dit ons werk om seker te maak dat ons lede gelukkig kan werk. 1902 was die tydperk net ná die Anglo-Boereoorlog. Baie jong seuns moes ná die oorlog van die plase na die myne verskuif. Die naoorlogse depressie het ook tot gevolg gehad dat die ekonomie onder druk was en myntering het veroorsaak dat die lewensverwagting van jong mynwerkers slegs 37 jaar was. Uit hierdie omstandighede is ons vakbond gebore. Die vakbond was 'n unieke antwoord op die uitdaging van werk in 'n unieke tyd.

Dit is nou 2019 en Solidariteit se missie is nog presies dieselfde. Ons werk is om seker te maak dat mense 'n goeie werk het. Hoewel Solidariteit se missie dieselfde is, is die uitdagings uniek. Ons antwoord moet dus ook weer uniek wees.

Daar is drie groot uitdagings waarmee Solidariteit gekonfronteer word. Die eerste is die veranderende struktuur van die arbeidsmark. Die inligtingsrewolusie het tot gevolg dat kennis radikaal meer word, groot maatskappye in kleiner maatskappye opbreek, mense van werk verander en dat maatskappye op hul kernbesigheid fokus. Inkontraktering raak 'n reël, lewenslange leer raak 'n noodsaaklikheid en werkonsekerheid raak deel van 'n werknemer se bestaan.

Die tweede uitdaging is 'n verswakkende staat. Om werk te beskerm in 'n werkende staat is eenvoudiger. Die basiese infrastruktuur vir 'n werkende ekonomie word verskaf; daar is ekonomiese groei, openbare universiteite, tegniese kolleges en skole, terwyl veiligheids- en gesondheidsdienste ook bestaan. Indien die staat – soos in Suid-Afrika se geval – egter verswak, bring dit nuwe uitdagings vir 'n vakbond soos Solidariteit mee.

Die derde uitdaging is 'n onvriendelike staat. Die staat se rasse-ideologie, dubbele standaarde wat rassisme betref, vyandigheid teenoor minderhede en aanvalle op Afrikaanse skole en universiteite het alles tot gevolg dat ons lede onder druk is en vervreemd voel in hul eie land.

Te midde van hierdie unieke uitdagings moet Solidariteit 'n unieke antwoord bied. Solidariteit moet werksekerheid in 'n veranderde arbeidsmark bied, moet as gemeenskapsinstelling staatsdienste lewer, moet opstaan teen rasseboelies en moet geborgenheid aan sy lede bied.

'n Tradisionele vakbondstruktuur is nie meer voldoende nie. Solidariteit het as antwoord iets veel groter gevestig – 'n netwerk van werk wat ons die Solidariteit NetWerk noem.

Volgens Jim Clifton, voorsitter van die Amerikaanse meningsopnamemaatskappy Gallup, is mense se grootste behoefte 'n goeie werk en gaan daar 'n oorlog vir goeie werk kom. Die ammunisie vir daardie oorlog is kennis en die wapentuig is kennisinstellings. In die kennisekonomie is kennis noodsaaklik. Solidariteit bou op groot skaal aan kennisinstellings om sy lede in staat te stel om doeltreffend deel te neem aan die groot oorlog vir goeie werk.

Die Solidariteit NetWerk pak die uitdagings van die nuwe arbeidsmark aan, bou nuwe instellings waar die staat verswak, en waar Afrikaans uitgeboelie word, bou ons 'n nuwe universiteit. Ons pak die regering se rasse-ideologie, staan op vir regte en beskerm werk deur goeie arbeidsverhoudinge in die werkplek te bou en te handhaaf.

Die Solidariteit NetWerk bestaan onder meer uit:

  • Solidariteit Arbeidsverhoudinge wat lede in die werkplek beskerm;
  • Solidariteit Regsdienste wat jaarliks honderde sake namens lede aanpak;
  • Solidariteit Jeug wat ons jongmense vir die arbeidsmark voorberei;
  • Solidariteit Gildes wat mense volgens hul beroepe organiseer en wat netwerk- en ondersteuningsgeleenthede aan hulle bied;
  • Akademia, 'n nuwe wêreldklas- privaat universiteit wat tersiêre opleiding in Afrikaans aanbied;
  • Sol-Tech, een van Suid-Afrika se voorste beroepskolleges, wat ambagslui van wêreldgehalte vir Suid-Afrika oplei;
  • S-Leer wat voortgesette opleiding aanbied wat lede help om te groei en relevant te bly in hul werk;
  • Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum wat die afgelope jaar bykans R40 miljoen in die vorm van studiehulp uitbetaal het;
  • Die Skoleondersteuningsentrum wat die opdrag het om te verseker dat wêreldgehalte- Afrikaanse skoolonderwys, hetsy by openbare of privaat skole, voortbestaan en uitgebou word; en
  • Solidariteit Finansiële Dienste wat werkverwante produkte, soos mediesefondsdekking, finansiële advies en aftreevoorsiening ontwikkel.

Die omvattende Solidariteit NetWerk loop die volle loopbaanpad, van jongmens-wees tot aftrede, saam met Solidariteit-lede. Die NetWerk is 'n unieke antwoord vir 'n unieke tyd.

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Ek het nou die dag lekker vir ’n kollega van my gelag. Dit was ’n moeilike dag by die werk, want die sperdatum van ’n projek was op hande terwyl daar nog ’n miljoen goed gedoen moes word. Sy kan soos ’n tornado deur die kantoor waai as sy só ’n dag beleef en so […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close