Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 1 Spreekbuys
Die tien lesse wat Sol-Tech my geleer het
Deur Michelle | 07 Maart 2017

Solidariteit het tien jaar gelede ’n tegniese opleidingskollege van niks af begin. Sol-Tech is vandag nie net die enigste Afrikaanse kollege in die land nie, maar ook een van die grootstes. ’n Klein en beskeie begin ten spyt, het Sol-Tech nou sowat 1 200 studente in die opleidingspyplyn in gerieflike geboue in Kirkney, Pretoria, skryf FLIP BUYS.

Solidariteit het uit duisende klein ledebydraes sowat R65 miljoen aan toerusting en studiehulp bestee. Sol-Tech is by alle nodige instansies geakkrediteer en studente kry ’n amptelike kwalifikasie of “rooi seël”. Daar word nou reeds sewe ambagte aangebied.

Met ’n personeeltal van 57 kry ons studente gehalte-onderrig wat weerspieël word in die slaagsyfer van 96% van vakleerlinge wat hul vaktoetse skryf. Baie dankie aan Paul van Deventer, Philip Minnaar en hulle hele span vir al die harde werk!

Sol-Tech het nie net ons studente iets geleer nie – ek het ook belangrike lesse geleer in die jare waarin Sol-Tech opgebou is.

  1. Ons kan as ons wil

Die “onmoontlike” is moontlik. Ons kan as ons wil en as ons net begin en aanhou en volhou!

  1. Saamstaan

Ons mense kán nog saamstaan. Ons sou niks op ons eie kon vermag nie. Sonder ons lede se steun was daar vandag nie hoop vir die sogenaamde “nie-aangewese” jongmense wat ambagte wou doen nie.

  1. Baie bietjies maak baie

Danksy duisende lede se maandelikse R10-bydraes kon ons die miljoene bymekaarmaak wat nodig was om toerusting te koop en broodnodige studiehulp te gee.

  1. Diskriminasie só oorkom

Sol-Tech is die bewys dat gehalte-opleiding die beste waarborg teen werkloosheid en vír ’n goeie werk is – rassekwotas en al. Ons studente kry werk omdat daar ’n aanvraag na flukse opgeleide vakmanne is. Dit is nie nodig om moedeloos te word; dinge is moeilik, maar moontlik.

  1. Selfhelp help regtig!

Ons lees in die geskiedenisboeke hoe ons voorouers hulself opgehef en in die proses die gevorderdste ekonomie op die vasteland opgebou het. Mense het gedink dit “kan nie gedoen word nie” – dit is te duur en te moeilik en onmoontlik om dit self te doen. Sol-Tech is die bewys dat selfhelp régtig help. Dink wat ons nog alles met dieselfde resep kan opbou!

  1. Skep werklikhede

Dit help nie om net oor rasseteikens te kla en te hoop dinge gaan vanself regkom nie. Ons het geen waarborg gehad dat ons wel deur die owerhede erken sou word en ons vakleerlinge amptelike kwalifikasies sou kon kry nie. Maar onsekerheid is nie ’n rede om niks te doen nie. Die dosente, studente en hul ouers het almal kliphard ingeklim om Sol-Tech op te bou tot ’n punt waar niemand ons erkenning kon weier nie. Die les: Erkenning behels die erkenning van ’n werklikheid wat reeds opgebou is.

  1. Groeiende selfstandigheid

By Solidariteit glo ons nie aan staatsafhanklikheid nie. Ons toekoms is te belangrik om aan die regering oor te laat. Natuurlik glo ons aan goeie verhoudings met die owerhede, maar nie daaraan om afhanklik van hulle te wees nie. Weens die rassewette kry ons jongmense feitlik glad nie meer opleidingsgeleenthede in ambagte nie, en ons droom is om hulle met goeie opleiding te help om lewenslank selfstandig te wees. Terselfdertyd wil ons gemeenskap met tegniese opleiding ook selfstandig wees. Dit gebeur egter nie oornag nie, en behels ’n proses van groeiende selfstandigheid. Dit beteken dat die vlak van selfstandigheid bepaal word deur die grootte van Sol-Tech. Ons bepaal ons eie plafon!

  1. Instellings is noodsaaklik

Daar is dinge wat ’n mens nie op jou eie kan doen nie, en waarvoor ons mekaar nodig het. Daarom skep mense deur saamstaaninstellings waardeur hulle gemeenskaplike doelwitte kan verwesenlik. Sonder Solidariteit sou Sol-Tech nie moontlik gewees het nie, en sonder Sol-Tech sou jongmense nie opgelei kon word nie. Daarom is ons besig om op alle belangrike gebiede sterk selfhelpinstellings op te rig waarmee ons ’n toekoms kan skep.

  1. Almal kan help

Ons is nie magtelose toeskouers wat net sit en kyk hoe die toekoms verby ons storm nie. Almal kan help, al is dit met ’n maandelikse R10-bydrae – want alle hulp is nodig. Ons is baie dankbaar oor mense wat groter skenkings maak om meer studiehulp vir ons studente te gee, en sakelui wat help dat studente praktiese ervaring kan opdoen.

  1. Opleiding bly beste belegging

Tegniese opleiding is baie duur. Dis dubbeld so duur om ’n ambagsman as ’n ingenieur op te lei omdat meer masjinerie en toerusting, personeel, gebouspasie en opleidingsmateriaal nodig is. Ons lede het vir die oprigting van Sol-Tech betaal, maar die ouers bly steeds verantwoordelik vir die opleidingskostes. Sol-Tech is nie op wins ingestel nie, en die “opbrengs” wat ons daaruit wil kry, is ’n toekoms vir opgeleide jongmense. Solidariteit Helpende Hand het studente in 2016 met studiefondse van R6,7 miljoen gehelp en beoog om dieselfde in 2017 te doen, terwyl die Solidariteit Boufonds hierdie jaar nog R3 miljoen vir bykomende toerusting bewillig het. Ons werk aan planne om nog meer studiehulp vir studente te gee, want ons besef baie ouers en studente trek swaar.

Opleiding bly inderdaad die beste belegging wat iemand kan maak. Die meeste ambagslui wen hul totale studiekoste in die eerste werkjaar in die vorm van hul salarisse terug.

Sol-Tech het bewys dat ons mense nog altyd kan – al is dit nie altyd maklik nie. Kom ons hoop dit help om ons gemeenskap die nodige kulturele selfvertroue te gee om nog al die groter projekte aan te pak wat in die toekoms nodig gaan wees.

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Sedert 1902 glo Solidariteit in werk en om mekaar te help. 117 jaar later is dit steeds Solidariteit se hartsbegeerte om mense te help om 'n goeie werk te bekom en te behou. Ons uitdagings word ongelukkig groter, en dus moet ons planne nóg groter word. Solidariteit spits hom toe op werkgeleenthede – en watter […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close