Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 3 Spreekbuys
Dis tyd om nuut te dink en te doen
Deur Michelle | 14 Junie 2019

Albert Einstein het gesê dat dit die toppunt van dwaasheid is om dieselfde ding herhaaldelik te doen en dan ’n ander uitkoms te verwag. Hierdie wysheid is nou baie toepaslik in Suid-Afrika. Miljoene kiesers het so pas vir die sesde verkiesing sedert 1994 vir dieselfde regering gestem onder wie se bewind werkloosheid volgens Statistieke Suid-Afrika onlangs weer rekordhoogtes bereik het. Daar’s nou ’n skrikwekkende 20 miljoen mense van werkende ouderdom in die land wat werkloos is of nie besig met studies is nie!

Dit is ongelukkig nie al nie. Volgens die gesaghebbende ekonomiese kanaal Bloomberg het Suid-Afrika die afgelope 12 jaar meer agteruitgegaan as enige ander land wat nie in ’n oorlog gewikkel was nie. Die jongste verslag van Eunomix Business & Economics wat Bloomberg aanhaal, toon dat Suid-Afrika volgens ’n wye reeks aanwysers van 31ste in 2006 na die 88ste posisie uit 178 lande teruggesak het. Bloomberg verwag ook dat die agteruitgang sal voortduur vanweë die gevolge van die Zuma-era en die versuim om noodsaaklike beleidsveranderings te maak.

Ten spyte daarvan het die meeste kiesers weer vir die ANC gestem. Dit is waarskynlik omdat hulle glo dat pres. Cyril Ramaphosa die enigste persoon is wat die rampskade van die Zuma-era kan herstel en hulle lewens kan verbeter. Die probleem is dat die ANC nou wel ’n nuwe leier gekry het, maar dat dit nog dieselfde ANC met dieselfde beleid is. Daarom sê die politieke wetenskaplike dr. James Myburgh dat dit nie moontlik is om uit die huidige krisis te kom met dieselfde ideologie en beleid wat die land tot op die rand van die afgrond gesleep het nie.

Plan A, B en C

Daarom is dit nou tyd vir nuut dink en nuut doen. Die uitdaging is dat die ANC landsbeleid bepaal, en dat die verkiesing weereens bewys het dat die meerderheid vir “hulle” party se identiteit eerder as sy beleid stem. Natuurlik hoop almal dat pres. Ramaphosa wel beter sal regeer, grootskaalse korrupsie gaan beveg, en weer sakevertroue sal laat verbeter. Dit kan as “Plan A” beskryf word. Daar is gelukkig tekens dat die president wel begin optree teen korrupsie, soos gesien kan word in die werk van verskeie kommissies van ondersoek, waaronder die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek.

Die groot leemte in Plan A is egter dat daar nie genoeg tekens is dat ingrypende beleidsveranderings aangebring gaan word wat noodsaaklik is om die land weer reg te ruk nie. Eskom bly die beste voorbeeld. Ten spyte van hierdie grootskaalse krisis wat die land bedreig, word vanselfsprekende beleidsveranderings soos privatisering, onafhanklike kragopwekking of die aanpassing van drakoniese rassebeleidsrigtings nie aangebring nie. Dit voorspel niks goed vir die sukses van Plan A nie, en dit lyk of “meer van dieselfde” die beste is wat hiervan verwag kan word.

Plan C is oorsee

Indien dinge nie gou merkbaar verbeter nie, gaan die stroom kundiges wat landuit vloei al groter groei totdat dit ’n stortvloed kan word. Dit lei natuurlik tot ’n bose sirkel, want hoe meer kundiges landuit trek, hoe moeiliker gaan dit wees om ’n moderne land aan die gang te hou. Dis hoekom die skrywer RW Johnson gesê het dat Suid-Afrika ’n ANC-regering of ’n moderne ekonomie kan hê, maar nie beide nie. Sy stelling spruit uit die groeiende demodernisering van talle vervalle dorpe, staatshospitale, skole, polisiestasies, openbare ondernemings soos Eskom en staatsdepartemente.

Die wêreldbekende Amerikaanse politieke wetenskaplike, prof. Fukuyama, het reeds in 1993 die volgende belangrike standpunt hieroor gestel: “The main obstacle to black social modernization in the future may well be the belief in socialism on the part of the ANC and its communist allies.

Socialism has always presented itself as a higher and more progressive form of social organization than capitalism. But in the contemporary world, socialism has been revealed to be an obstacle to social and economic modernization – the hallmark of a certain kind of backwardness that needs to be overcome, just like illiteracy and superstition. The countries of Eastern Europe are now moving rapidly backward into the future, undoing the legacy of forty years of dictatorship and socialist planning. Let us hope that South Africa, as it makes the necessary transition to democracy, does not move forward into the past.”

Gegewe die geweldige risiko’s van Plan A en die ewe groot bedreiging van Plan C, is dit gebiedend noodsaaklik dat die Solidariteit Beweging se Plan B in snelrat uitgevoer moet word. Dit sal verseker dat ons topmense en ons kinders nie landuit stroom nie, omdat daar vir hulle ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms hier sal wees. Dit sal ook Plan A se kanse op sukses verbeter, deurdat dit die ekonomie en die regsorde sal help werk. Ons moet dus help om te sorg dat Plan A nie die land inmekaar laat stort nie, deur die polisie te help met misdaadbekamping deur buurtwagte, deur korrupsie te ontbloot en deur paaie en munisipale dienste in stand te probeer hou.

Plan B

Die risiko om net op die staat se Plan A staat te maak, is net te groot. In Zimbabwe het die mislukking van die staat tot ’n werkloosheidskoers van sowat 90% gelei, en is duisende mense se pensioene uitgewis deur die hiperinflasie van miljoene persent. Genadig is Suid-Afrika nog ver van daardie nagmerrie, maar ons sit self reeds met ’n krimpende werkmag waar poste net volgens ras herverdeel word sonder dat daar naastenby genoeg nuwe poste geskep word.

Die werklikheid is dat die staat verswak en nie meer goeie, betroubare dienste aan die bevolking kan lewer soos veiligheid, gesondheid, elektrisiteit en behoorlike munisipale dienste nie. Die verswakkende staat het oor die afgelope sewe jaar sowat 1 miljoen poste vernietig, terwyl miljoene ander nooit geskep kon word nie. Daarom het die privaat sektor oor die afgelope 25 jaar al meer privaat dienste begin lewer, soos privaat mediese behandeling, privaat sekuriteit en selfs privaat dorpe met betroubare dienste. Hierdie privatisering het waarskynlik reeds voorkom dat die staat heeltemal verval het.

Die voortdurende aanvalle op Afrikaanse skole wys reeds dat die toekoms van Afrikaanse skole privaat is, hoewel openbare skole so lank as moontlik aan die gang gehou moet word. Geprivatiseerde dienste waarvoor werknemers reeds belasting betaal, is egter vir die meeste mense onbekostigbaar, en dis hoekom ons plan op bekostigbare gemeenskapsdienste gegrond is. Hierdie dienste kan in samewerking met die privaat sektor geskied, terwyl daar ook waar moontlik met die staat saamgewerk kan word. 

Gemeenskapsdienste

Die Solidariteit Beweging se Plan B behels in kort om ons afhanklikheid van die staat stelselmatig te verminder en om deur sterk selfhelporganisasies groeiende selfstandigheid te bewerkstellig. In die praktyk het ons reeds ver daarmee gevorder, en bied ons Beweging met ’n kern van voltydse personeel en met die hulp van duisende vrywilligers, ’n wye spektrum dienste aan. Dit sluit onder meer in veiligheid, munisipale diensverbetering, tegniese opleiding, ’n universiteit, Afrikaanse media, maatskaplike versorging, studiehulp aan duisende studente, regsbystand, buitelandse steunwerwing en steundienste aan skole.

Solidariteit se beplande Netwerk van Werk is die volgende opwindende fase van Plan B.

Die uitdaging bly om staatsdienste sonder staatsinkomste of ’n staatstruktuur te lewer, midde in ’n verswakkende staat en onder ’n negatiewe regering. Daarom sal ons nuut moet dink en nuut moet doen, want vir die oplossing om te slaag, sal dit groter as die probleem moet wees. Hoewel ons planne regmatig en geregverdig is, kan ons nie wag op vooraftoestemming nie, maar sal ons eerder ná die tyd erkenning moet vra vir dit wat in die praktyk opgebou is. Ons toekoms is te belangrik om aan die ANC oor te laat!

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Dit voel vir my of ’n mens hierdie tyd van die jaar ’n ekstra hupstoot nodig het om uit die bed uit op te staan en jou kragte bymekaar te skraap om die dag aan te pak. Dit het nie net te doen met die koue daarbuite nie: Ek merk op dat almal om my […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close