Solidarteit Wêreld
2018 – Uitgawe 4 Spreekbuys
Dís wat my hoop gee vir die toekoms
Deur LJ | 07 Augustus 2018

Deur Flip Buys

Net voor die 2010 Sokkerwêreldbeker het die destydse adjunkminister van openbare ondernemings, Enoch Gondongwana, Solidariteit kom sien. Hy wou weet of Solidariteit ’n staking tydens die toernooi sal ondersteun, omdat die regering baie bekommerd was oor ’n ineenstorting van die kragnetwerk voor die oë van die hele wêreld.

My antwoord aan hom was reguit: Ons hou nie van die onbevoegde regering nie, maar ons is lief vir ons mooi land, en sal nie ’n onwettige staking ondersteun nie. Solidariteit se Eskom-lede het sterk gevoel oor ’n billike verhoging, maar was van mening dat ’n verlammende staking so kort ná die 2008-ekonomiese krisis ’n verwoestende uitwerking op derduisende mense se werk sou hê.

Die punt wat ek met hierdie staaltjie wil maak, is dat daar vir my ’n onderskeid is tussen die regering en die land. Daar is min dinge wat die regering doen wat my moed gee – inteendeel. Maar dit beteken nie dat ek moedeloos is nie. Daar is genoeg ander dinge wat my moed en hoop gee vir die toekoms. Ons kan mos nie dat ’n vrot regering ons laat tou opgooi nie. Dis nie die eerste krisis waarin ons beland nie, en ons sal weer anderkant uitkom. Ons was al daar, en ons is nog steeds hier.

Reddingsbote

Dit beteken beslis nie dat ons berus by die regering en baie van hul ondersteuners se verwoesting van die land nie. Dit beteken net dat ons iets daaraan wil doen – ons kinders bly ook mos hier. Ons is egter nie in ’n posisie om die hele land te “red” nie. Ons beheer nie die staat, sy magbronne of sy belastinginkomste nie. Hulle word mos verkies, betaal en met ons belasting gefinansier om “dienste” te lewer. Daarom kan ons nie vir alles en almal verantwoordelikheid neem, terwyl die regering en die meeste ander niksdoen-organisasies in die land net doelloos sit en kyk hoe ons hulle werk doen nie. Ons kan hoogstens verantwoordelikheid neem vir ons as gemeenskap se toekoms, wat al moeilik genoeg is weens die swak regering wat boonop nog teen ons regeer. In kort, hoewel ons altyd ’n hand van samewerking na die owerhede uitsteek om die land te help red, wil ons die vermoë opbou om ons gemeenskap te red. As ons hulle dan nie kan keer om skip SA te sink nie, gaan ons reddingsbote bou om Afrikaners te red. Daarmee saam sal ons steeds alle ander Suid-Afrikaners wat wil saamwerk, help waar ons enigsins kan.

Bakens van hoop

Wat is die bakens van hoop waarna ek verwys?

  • Die privaat sektor. Die privaat sektor vat al meer “staatsdienste” oor en doen dit beter. ’n Vriend het byvoorbeeld sy paspoort in ’n japtrap by ’n bank gekry, waar Binnelandse Sake nou ’n lessenaar het.
  • Politieke verhoudings is swak, maar persoonlike verhoudings is nog goed. Kom ons hou dit so. Behandel ander met die respek waarmee jy behandel wil word.
  • Solidariteit word al meer betrek deur die owerhede en invloedryke dinkskrums wat oplossings vir die nasionale krisis probeer kry. Hoewel ons boodskap dat sosialisme onwerkbaar is, nog nie oral aanvaar word nie, word daar darem al deeglik geluister.
  • ANC-verdeeldheid. Ons kan dalk ná die volgende verkiesing met ’n koalisieregering sit, wat die ANC se versmorende greep op die land kan verlig.
  • Die staat se verswakking skep ruimte vir almal. Ek glo byvoorbeeld dat die onbekostigbare en onwerkbare NGV (Nasionale Gesondheidsversekering) nie ’n renoster is wat op ons afstorm nie, maar ’n skilpad. Dit gaan nog jare duur, en die werklikheid gaan die beoogde planne nog heeltemal verander. Dieselfde geld vir talle ander politieke foefies, wat nie lank ná die verkiesing gaan oorleef nie.
  • Buitelandse druk. Die ANC kry al meer die wind van voor, en kort voor lank gaan hierdie winde van verandering stormsterkte word. Terselfdertyd kry ons al meer begrip van buitelandse regerings, simpatie van buitelandse media, en druk van internasionale organisasies op die regering. Suid-Afrika se ekonomie is nie eers 1% van die wêreldekonomie nie, en is as ’n baie oop ekonomie uiters kwesbaar vir buitelandse druk. Soos die regering nou met die ekonomie aangaan, is dit nie ondenkbaar dat die Internasionale Monetêre Fonds eersdaags die regering prakties onder “administrasie” gaan plaas om dinge reg te ruk nie.
  • Krisis bring oplossings. Die ekonomiese syfers meet die gehalte van ’n land se regering, en die regering dop hierdie toets loshande. Hulle sal moet hervorm – daar is nie meer ander opsies oor nie.
  • Die opkoms van tegnologie bied al meer oplossings vir swak regering, vanaf misdaadbekamping tot maniere om ’n inkomste te verdien. Net op jou selfoon kry jy nou talle dienste waarvoor jou ouers van die staat afhanklik was: Jy het toegang tot biblioteke vol inligting, en jy kan briewe pos, oproepe maak, na die weervoorspelling kyk, aankope doen en selfs uitkyk vir werkgeleenthede.
  • Verval skep volhoubaarheid. Die verval van die meeste klein plattelandse dorpe is hartverskeurend, en lyk permanent. Dit lei reeds tot ’n nuwe “groot trek” na groter streeksdorpe en stede, wat húlle dan meer volhoubaar maak. Waar talle skole, hospitale, ouetehuise, gemeentes, munisipale dienste, veiligheid, infrastruktuur en besighede in klein dorpies verval, bring die “groot trek” groter konsentrasies mee wat meer volhoubaar is. Afrikaners se bestaansprobleem is nie ons klein getalle nie, maar ons yl verspreiding, wat veroorsaak dat ons orals ’n minderheid met dieselfde probleme is. Die oplossing lê in groter konsentrasie in “ankerdorpe”, wat dan weer in staat is om dienste aan kleiner dorpies te lewer.
  • Kulturele kapitaal. Hoewel ek as gevolg van die swak regering nie altyd moed vir die land het nie, het ek steeds moed vir Afrikaners. Dit is so dat die regering talle “anti-wit” wette maak, maar een van die lesse van Zimbabwe is dat dit meer “anti-swart” gevolge gehad het. Die Zimbabwiese boere het wel baie verloor, maar hulle het die ondernemingsgees en vaardighede gehad om weer elders ’n sukses van iets anders te maak. Tragies genoeg het hulle werkers hul werk verloor en die meeste gely onder hulle eie regering se rampspoedige wette. Ons kan niks doen aan die regering se dom wette nie, maar ons kan onsself teen die meeste gevolge verskans. Afrikaners het nog altyd die beste presteer as ons onder druk is. Nie net het ons ná die verwoestende Anglo-Boereoorlog weer die land opgebou nie, maar nadat ons ná 1994 uit die staat en openbare ondernemings gedryf is, het ons met groot sukses die privaat sektor betree. Ons het die wil en vermoë om weer bo uit te kom.
  • Hoewel die regering met rassewette hulle bes doen om witmense te benadeel, is werkloosheid onder witmense sowat 7% – ’n breukdeel van die algemene werkloosheidsyfer. Die rede is nie omdat hulle nie hard genoeg probeer om ons werkloos te maak nie, maar omdat Afrikaners se goeie onderwys, ondernemerskap, werkywer en vindingrykheid ons aan die werk hou. ’n Boer maak ’n plan, het die oumense gesê.
  • Die linkses onderskei nie tussen bevoorregting en prestasie nie. Hulle sien byvoorbeeld die goeie prestasie van Afrikaanse skole as “bevoorregting,” en besef nie dis die harde werk, toewyding, opofferings en prestasiekultuur wat die rede vir die prestasie is nie.
  • Hoewel Afrikaners deesdae verguis word en self oortuig is dat ons nie kan saamstaan nie, het daar ongesiens ’n gesonde Afrikanerpatriotisme ontwikkel wat nie teen ander groepe gerig is nie, maar onderlinge samewerking bevorder. Die diep verdelingslyne het baie versag, en die feit dat die Solidariteit Beweging nou al 450 000 lede het wat saamwerk, is ’n goeie teken van hierdie ontluikende patriotisme.
  • Regering kan verander. Hoewel dit soms lyk of die regering die land wil laat misluk, bly daar hoop dat daar veranderings kan kom. Die groeiende krisis in die land en druk van binne en buite die land kan dalk tot verandering lei – al is dit dan omdat hulle móét en nie omdat hulle wíl nie. Kom ons hoop Churchill se woorde oor die Amerikaners word ook vir hierdie regering waar: “Hulle doen uiteindelik die regte ding, maar ongelukkig eers nadat hulle al die ander alternatiewe uitgeput het.”
  • Onderhandelde ooreenkoms: Invloedryke geleerdes bepleit al lank dat die regering ’n nuwe ooreenkoms moet onderhandel wat die grondliggende belange van alle groepe beskerm. Die regering was tot dusver onwillig, omdat hulle glo net húlle het die oplossings vir die land se probleme. Tog word die omstandighede wat die regering sal dwing om ’n oplossing te onderhandel, ál gunstiger. Dit is onder meer ’n nasionale krisis, die besef dat niemand so ’n krisis alleen kan oplos nie en dat almal mekaar nodig het, ’n wye eenstemmigheid dat ’n nuwe onderhandelde skikking nodig is, ’n nuwe leier of nuwe regering wat na nuwe voorstelle sal luister, en ’n relatiewe magsewewig tussen die verskillende groepe.

Solidariteit Beweging. Ek het al dikwels gesê ons kan nie keer dat die see onstuimiger word nie, maar ons kan ons skepe sterker bou. Dis wonderlik om die geweldige vordering te kon beleef wat ons Beweging die afgelope jare gemaak het! Ons strategie om groeiende selfbestuur te bou met ’n netwerk van al sterker selfhelporganisasies, goed georganiseer in ’n moderne helpmekaarbeweging, is besig om te sneeubal. Ons doel is om ’n toekoms te skep waarin ons ook blywend vry, veilig en voorspoedig kan leef, tot voordeel van almal in die land. Want soos ek vir die minister gesê het, al hou ons nie van die regering nie, is ons lief vir die land!

  • 4
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close