Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 2
Discovery Bank | Duisende sê nee vir rasuitsluiting
Deur Michelle | 29 April 2019

Deur Rochelle Snyman 

Solidariteit het einde Februarie vanjaar ’n reuseveldtog teen Discovery Bank van stapel gestuur nadat Discovery gesê het hy beplan om 10% van die aandele in sy nuwe bank aan swart kliënte te gee. Die vakbond het afgeskop deur ’n reklamebord op die Ben Schoeman-snelweg te plaas waarmee lede en ondersteuners in die verkeer bewus gemaak is van die rasse-ideologie waarmee Discovery besig is.

Op 12 Maart het die vakbond ’n memorandum, saam met die stemme van sowat 200 000 mense wat gekant is teen die implementering van Discovery Bank se beoogde aandeleskema wat wit mense uitsluit, aan Discovery Bank se uitvoerende hoof, Barry Hore, oorhandig.

Solidariteit het die “nee”-stemme oorhandig in 200 groot, wit sakke. In elke sak was ’n duisend stemme van lede van die publiek wat beswaar aangeteken het teen Discovery Bank se planne.

Volgens Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, moet ’n landsburger belasting betaal, al is hy kwaad vir die regering. Wanneer dit egter kom by kliënte van ’n sakeonderneming, is dit glad nie die geval nie. Wanneer ’n kliënt net ’n tikkie ontevrede is met ’n diens, onttrek hy dadelik sy geld. Hierdie is die einste risiko wat Discovery loop as hulle nie na hul kliënte luister nie.

“Die ontsteltenis oor die bank gaan daaroor dat getroue Discovery-kliënte uitgesluit word uit 'n aandeleskema bloot as gevolg van die kleur van hul vel,” het Hermann gesê. Sakeondernemings moet weet: wanneer hulle voortgaan met die implementering van rasseuitsluiting, sal hulle die gevolge daarvan moet dra.

Met die oorhandiging van die stemme het Solidariteit en talle van hul personeel die strate van Sandton verhelder met oranje T-hemde en pette. Personeel van Sasol, wie se kantore naby Discovery s’n geleë is, asook Discovery se eie personeel, het bekommerd by hul kantoorvensters uitgeloer om te sien wat buite aan die gang is.

Solidariteit se personeel het ’n lang tou van die vragmotor af tot by Discovery se stoep gevorm en 200 sakke aangegee wat hulle reg voor Discovery se deure gepak het. Discovery Bank se uitvoerende hoof, Barry Hore, het uit die gebou gekom en by dr. Hermann aangesluit, waarna Hermann dit duidelik gemaak het dat Discovery se besluit op geen manier regverdig kan word nie, en dat sekere kliënte nie meer gelyk as ander beskou kan word op grond van velkleur nie.

“Hierdie kliënte bly in dieselfde woongebiede, hulle ry dieselfde motors, hulle kinders gaan na dieselfde skole toe. Maar as hulle by Discovery kom, geniet hulle nie dieselfde voordele nie. Discovery bevoordeel op grond van ras,” het Hermann gesê.

Die vakbond se boodskap aan Discovery is bloot dat hy moet kennis neem daarvan dat duisende mense nie die bank sal ondersteun indien hy voortgaan met sy planne nie. Ná Hermann se toespraak en die teken van die memorandum op Discovery se stoep, het Hore geen kommentaar gelewer nie.

“Die feit dat Hore niks gesê het nie, dien as verdere dryfkrag vir Solidariteit om hierdie veldtog nou na nuwe hoogtes te neem,” het Hermann gesê.

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Met die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad op 10 Oktober vanjaar het Solidariteit die laaste deel van 2019 met ’n groot hoogtepunt aangepak. Dit was ’n heerlike geleentheid waartydens die energie en opgewondenheid tasbaar was onder die groep mense wat saam groot dinge vir ons toekoms help beplan. Tydens die vorige Toekomsberaad, wat in 2015 gehou […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close