Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 1
Doen goed, want dit doen jóú goed
Deur Michelle | 08 Maart 2019

Deur Lize-Mari Labuschagne

Altruïsme, ook bekend as selfloosheid, is dade van onbaatsugtige opoffering vir die welsyn van ander. Dis is wanneer jy ander se behoeftes voor jou eie plaas. Dit kan die koppie koffie wees wat jy maak vir 'n kollega wat 'n rowwe dag het, of die skenking wat jy maak aan 'n behoeftige gesin. Sulke goeie dade kan 'n groot verskil maak.

Jy hoef nie skatryk, 'n sekere ouderdom of 'n gesiene persoon te wees om 'n impak te maak op jou gemeenskap en die mense om jou nie. Jy kan dit doen deur vrywilligerswerk, deur mentorskap, deur iets te doen vir 'n goeie doel of deur willekeurige dade van goedhartigheid (random acts of kindness).

Vir sommige mense is hulle gemeenskap die mense waarmee hulle daagliks in aanraking kom, of die vier strate rondom hulle. Vir ander kan dit hul buurt, dorp of stad wees. Maar ongeag wat jy as jou gemeenskap definieer – die waarheid is dat jy in dié gemeenskap se welstand en groei ’n aktiewe rol kan speel.

’n Mens hoor dikwels dat dit beter is om te gee as om te ontvang, maar het jy geweet dat hierdie uitdrukking gerugsteun word deur navorsing? 'n Stukkie welwillendheid tel nie net in jou guns nie, maar ook in jou belang.

Volgens die sakgids Doing Good Does You Good deur die Mental Health Foundation kan goeie dade aan ander help om jou stres te verminder, jou emosionele welstand ’n hupstoot te gee en selfs jou fisieke gesondheid te verbeter. Die Mental Health Foundation noem ’n hele klompie voordele wat goedhartigheid vir jou inhou:

Fisieke voordele

Dit verminder spanning. As jy dinge vir ander doen, gee dit jou gesondheid ’n hupstoot. Positiewe emosies verminder stres en versterk jou immuunstelsel, wat weer jou liggaam teen siektes help beskerm.

  • Dit help jou om van negatiewe gevoelens ontslae te raak. Negatiewe emosies soos woede, aggressie en vyandigheid het ‘n negatiewe impak op jou verstand en liggaam. Willekeurige dade van goedhartigheid kan help om hierdie gevoelens te verminder en jou algemene gesondheid te verbeter.
  • Dit kan jou help om langer te lewe. Studies onder ouer mense toon dié wat ander ondersteun, lewe langer as dié wat dit nie doen nie.

Gesondheidsvoordele

  • Goedhartigheid maak jou gelukkig. Dit voel goed om ander te help. Wanneer jy ander help, stimuleer dit positiewe fisiologiese veranderings in die brein wat met geluk verband hou.
  • Dit is aansteeklik en maak die wêreld 'n beter plek. In die boek The Five Side-effects of Kindness skryf David R. Hamilton dat navorsing wys die ontvangers van goeie dade, en selfs die getuies daarvan, word gemotiveer om ook iets gaaf vir iemand te doen. Proefpersone wat aan ander se goedhartigheid blootgestel word, tree daarna hulpvaardiger en vrygewiger op – ook in die werkplek.
  • Hoe meer jy vir ander doen, hoe meer doen jy vir jouself. Goedhartigheid skep 'n wen-wen-situasie. Hoe meer jy gee, hoe “ryker” word jy.
  • Goedhartigheid bevorder verhoudings. 'n Navorsingstudie wat meer as 10 000 mense tussen 20 en 25 jaar op ses vastelande betrek het, het die nommer een-behoefte in die soeke na 'n maat vasgestel: Goedhartigheid.

Jy kan baie vir jou gemeenskap doen, maar die beste ding wat jy kan gee, is jou tyd. As jy toegewyd is aan dit wat aan die gang is in die gemeenskap waar jy bly en beweeg, is die belangrikste ding wat jy kan doen om tot aksie oor te gaan.

Of dit jou geld, tyd of energie is wat jy in jou gemeenskap belê, hoe vinniger jy betrokke raak, hoe beter lyk die uitsigte en toekoms van jou gemeenskap en ook jou eie gesondheid. Dis waarom jy moet dóén.

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Sedert 1902 glo Solidariteit in werk en om mekaar te help. 117 jaar later is dit steeds Solidariteit se hartsbegeerte om mense te help om 'n goeie werk te bekom en te behou. Ons uitdagings word ongelukkig groter, en dus moet ons planne nóg groter word. Solidariteit spits hom toe op werkgeleenthede – en watter […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close