Solidarteit Wêreld
2018 – Uitgawe 6
Solidariteit-lede bring Sandton tot stilstand met Sasol-stakers
Deur Michelle | 08 November 2018

Duisende lede van die Solidariteit Beweging het Donderdag 25 Oktober hofstukke by Sasol se hoofkantoor in Sandton beteken, asook memorandums by die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) oorhandig.

 

“Ons is vandag hier sodat ons eendag vir ons kinders kan sê ons het die regte ding gedoen. Dit wat Sasol nou doen, is verkeerd. Ons kan nie toelaat dat ons in ’n Suid-Afrika woon waar dit normaal word dat mense as gevolg van hulle ras uitgesluit word nie,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, aan die skare betogers gesê.

 

“Al wat ons vra, is gelykheid. Ons is nie bo ander mense nie, maar ons is ook nie onder ander mense nie. Ons is hier om te bly, maar ons gaan nie stilbly nie.”

Groot verkeersopeenhopings is reeds van vroeg die oggend op die N1-Suid asook in Sandton veroorsaak. Talle strate in Sandton is deur die metropolisie gesluit. ’n Konvooi busse en motors het om 08:00 vanaf die Voortrekkermonument in Pretoria na Sandton vertrek. Mense het ook met busse uit ander rigtings na Sandton vertrek en by die Rosebank Union Church in Sandton bymekaargekom.

 

“Ons stap ter ondersteuning van die Sasol-werkers, maar ons stap ook teen rasse-uitsluiting in die algemeen,” het Hermann aan die skare gesê. “Die Sasol-werkers simboliseer ’n groter gevoel van uitsluiting wat onder Suid-Afrikaners in die algemeen, maar veral onder minderhede soos ook bruin Suid-Afrikaners en Indiërs in Suid-Afrika posgevat het.

“’n Gevoel van uitsluiting word ook beleef by universiteite, skole, in werkplekke en wat algemene politieke invloed betref. Die Sasol-staking het dus nou iets baie groters as net die Sasol-werknemers of Solidariteit geword.”

Die betekening van die hofstukke volg op ’n dispuut tussen Sasol en Solidariteit oor die uitsluiting van wit mense uit die Khanyisa-personeelaandeelskema. Solidariteit gaan die Arbeidshof vra om te bevind dat totale uitsluiting van ’n bepaalde groep werkers op grond van hul ras neerkom op onbillike rassediskriminasie.

Volgens Hermann het Solidariteit-lede ’n mandaat aan Solidariteit gegee om die aksie teen Sasol te verskerp. Dit het gelei tot die besluit om die optog te hou en hof toe te gaan.

“Dit is jammer dat ons hof toe moet gaan oor iets wat so ooglopend nie moreel geregverdig kan word nie. Die totale uitsluiting van enige groep werkers kan nooit geregverdig word nie. Hierdie vorm van rasse-uitsluiting vind ook by ander maatskappye plaas en daarom het ons besluit om ’n memorandum by die JSE ook te oorhandig,” het Hermann gesê.

Die groter Solidariteit Beweging, wat AfriForum, Solidariteit Helpende Hand, die FAK en die Skoleondersteuningsentrum (SOS) insluit, het sy steun aan die optog toegesê en het saam met Solidariteit die strate van Sandton ingevaar.

Solidariteit-lede het aan die begin van September met ’n staking by Sasol begin. Dié staking het tot groot ontwrigting in Sasol se produksie gelei. Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het tot die dispuut toegetree, maar Sasol het geweier om enige toegewings te maak.

 

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gaan die optog oor normaliteit en gelyke burgerskap. “Dit is tragies dat ons in die strate moet gaan loop oor iets so normaal soos dat mense nie totaal op grond van ras uitgesluit mag word nie. Ons ideaal was om deur gesprekvoering ’n skikking met Sasol te bereik, maar nou moes ons hof en strate toe gaan oor iets wat duidelik moreel verkeerd is. In Suid-Afrika het iets so abnormaal soos om minderhede op grond van ras uit te sluit, normaal geraak. Ons stap moet die abnormaliteit daarvan uitlig,” het Buys gesê.

  •  
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close