Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 1
Eerste tassie-ontvangers nou in matriek
Deur Michelle | 08 Maart 2019

In 2007 het Chris Sealie, hoof van Laerskool Genl. Nicolaas Smit in die weste van Pretoria, en Mariana Kriel, Helpende Hand se streekorganiseerder van Gauteng-Noord, ’n behoefte in die gemeenskap raakgesien en besef hulle moet iets drasties doen.

Helpende Hand se Skooltassieprojek is toe van stapel gestuur en altesaam 1 800 skooltassies is vir die eerste keer aan hulpbehoewende Afrikaanse graadeens landwyd uitgedeel om hul eerste skooljaar in 2008 op ’n gelyke vlak met hul klasmaats aan te pak. Baie van dié 1 800 leerders is vanjaar in matriek en hoewel hulle nie baie van hul eerste skooldag kan onthou nie, weet hulle die tassies het ’n groot verskil aan hul skoolloopbaan gemaak. Die meeste van hulle het die tassie tussen drie en vier jaar lank gebruik.

Drie van dié matrikulante was onlangs saam met bekendes soos Bakkies Botha, voormalige Springbokrugbyspeler, en Ivan Roux, van Die Kontrak-faam, by die Nederduits Gereformeerde Kerk in Booysens om die laaste van 5 000 skooltassies aan graadeens van Laerskool Genl. Nicolaas Smit uit te deel. Die tassies is met die hulp van Solidariteit Helpende Hand se motorfietsklub na die kerk gebring. Die res van die 5 000 tassies is vroeër vanjaar by 182 skole landwyd aan behoeftige graadeens uitgedeel.

Hannes Noëth, besturende direkteur van Helpende Hand, het tydens die geleentheid gesê altesaam R1,9 miljoen is in 2018 ingesamel om te sorg dat die 5 000 hulpbehoewende graadeens vanjaar met ’n ten volle toegeruste skooltassie hul skoolloopbaan kan begin.

“Altesaam 44 810 tassies is oor die afgelope 12 jaar uitgedeel sedert die projek in 2007 van stapel gestuur is en nagenoeg R15 miljoen is reeds spandeer om graadeens is nege provinsies gerat te kry vir skool,” het Noëth gesê.

Van die bekendes wat deur die jare ambassadeurs van dié projek van Helpende Hand was, sluit in Lindie Strydom, Bakkies Botha, Sorina Erasmus (die Flooze), Buffelsfontein Baardolie se Meyer le Roux, Carike Keuzenkamp, Chris Chameleon, Pieter Rossouw, Gerhard Steyn, Bobby van Jaarsveld, Springbokafrigter Rassie Erasmus, 7de Laan se Chris Vorster, Verna Vels, Mel Botes, Shaleen Surtie-Richards, Steve Hofmeyr, Riana Nel en nou ook Ivan Roux.

Die inhoud van die skooltassies sluit onder meer die volgende in: 'n boekie met Bybelstories, uitdraaikryte, 'n legkaart, inkleurpotlode, gryspotlode, 'n liniaal, 'n skerpmaker, 'n skêr, 'n uitveër, gom, pennesakkies en penne. Die waarde van die tassie met sy inhoud is ongeveer R380.

Mense wat die projek wil ondersteun, kan die woord “tassie” per SMS na 38969 stuur teen R10 per SMS. Besoek www.helpendehand.co.za/skooltassie om 'n groter skenking te maak.

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Met die Covid-19-inperking steeds volstoom aan die gang, bring ons vir jou nóg ’n inperkingsuitgawe op jou rekenaarskerm, hierdie keer met gemak saamgestel asof dit al jare lank so gedoen word. Almal het die nuwe manier van doen se ritme nou reeds bemeester, met sommige wat intussen terug is by die werk terwyl ander nog […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close