Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 2
Eskom | Honderde oud-werknemers wil help
Deur Michelle | 25 April 2019

Deur Mia Slabbert

 

Al die kundiges waarna min. Pravin Gordan op soek is om Eskom te kom help, is in Suid-Afrika en hulle steek in groot getalle hul hand op om die sukkelende kragreus met hul kennis en vaardighede by te staan.

Só meen Solidariteit ná die oorweldigende reaksie toe hul “kennisbank” onlangs van stapel gestuur is. Opgeleide ingenieurs, ambagslui en kundiges wat voorheen in diens van Eskom was, is genooi om te registreer om na Eskom terug te keer. Die skepping van hierdie kennisbank volg op pres. Cyril Ramaphosa en Gordhan se aankondiging dat kundige oud-Eskom-werknemers, plaaslik en in die buiteland, gebruik moet word om Eskom se vaardigheidstekort te help verlig.

“Solidariteit is absoluut oorweldig deur die reaksie. Ons kry hoendervleis as ons sien hoe gewone Suid-Afrikaners hul jare se kennis en vaardighede beskikbaar stel om Eskom in hierdie krisistyd te help,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Dié kennisbank het binne enkele dae ‘n magdom kundigheid opgelewer van opgeleide en ervare beroepslui wat tussen hulle ongeveer 5 400 jaar se werkervaring het. “Hierdie terugvoer is baie inspirerend. Ek het self met ’n klomp van hierdie mense gepraat en wat my die meeste tref, is hoe lojaal hierdie mense teenoor Suid-Afrika is. Dít terwyl Eskom spesifiek jare gelede nie lojaal teenoor hulle was nie. Hierdie mense wat hulself nou beskikbaar stel om in hierdie krisistyd te help, is ’n Suid-Afrikaanse storie van hoop en saamstaan,” het Hermann gesê.

Van die groep mense wat hulle hande opgesteek het, is 33% ingenieurs en 'n verdere 50% elektrisiëns, spesialiste in ambag, toerusting en kragopwekkingstelsels. Dié groep het saam meer as 334 geakkrediteerde kwalifikasies en 'n gemiddeld van 17 jaar se werkondervinding in die industrie.

“Suid-Afrika is nou in 'n krisis. Eskom het tussen 1994 en 2002 té vinnig, té veel vaardighede verloor en dit is skrikwekkend om te sien waar ons vandag sit. Ons moet nou almal ons trots in ons sak druk om saam met mekaar hierdie krisis te erken en werklik iets daaraan te doen,” het Hermann gesê.

Solidariteit het met twee voormalige werknemers van Eskom gepraat. Die kundiges, Douwe van Wyk en George van der Merwe, het gesamentlik meer as 50 jaar se ondervinding by Eskom. Hulle is twee van sowat 10 200 wit werknemers wat tussen 1994 en 2002 genoodsaak was om Eskom te verlaat. Hulle sê hulle is dankbaar vir die platform wat Solidariteit geskep het en bied aan om te help omdat hulle eenvoudig nie kan terugsit en kyk hoe Eskom inmekaar tuimel nie.

“Ons is nie meer jonk nie, maar ons wil so graag help. Ons tyd om te help, hardloop eintlik uit. Eskom was baie goed vir ons, en ons is vandag wie ons is as gevolg van Eskom. Daarom wil ons help, ons wil ondersteun en ons wil ons kennis en vaardighede oordra,” het George van der Merwe (67) gesê.

Van der Merwe het 47 jaar se ervaring in die distribusie- en transmissie-industrie. Die eerste 26 hiervan was by Eskom, waar hy as projeksiespesialis gewerk het en uiteindelik 'n senior bestuursposisie in beide kragdistribusie en -transmissie beklee het. Hy is in die 90’s by Eskom weg as deel van Eskom se sogenaamde “plekmaakstrategie”. Volgens Van der Merwe moet die regering buite Eskom se enjinkamer gehou word.

“Eskom was op sy tyd 'n reus en hy het nasionaal en internasionaal geskitter. Ons wil nie nou die Moses-rol by Eskom inneem nie, maar eerder die Aäron-rol wat die hande van Moses sterk gemaak het. Nederige diensrolle is by Eskom nodig om die mense wat daar is, te motiveer en om ons kennis terug te ploeg,” het Van der Merwe gesê.

Die 69-jarige Douwe van Wyk het in 1973 as ’n beurshouer by Eskom begin en was tussen 2002 en 2004 die uitvoerende hoof van Eskom Malawi. “Ek moes by Eskom in Malawi baie vinnig leer hoe mens 'n gebreekte organisasie vat en hom heeltemal heel maak sodat hy kommersieel kan wees. Dit was wel 'n baie kleiner krisis as waarmee ons nou sit, maar ek het ongelooflik baie geleer,” het Van der Merwe gesê.

“Ons was nog altyd trots op Eskom en dit is nou ons beurt om te help waar ons kan om Eskom weer die spoginstelling te maak was hy eens was. Dit gaan wel nie 'n vinnige oplossing wees nie, maar as ons die geleentheid gegun word, kan ons dadelik begin om te help.”

 

  • 1
  •  
  •  
Redakteursbrief

Met die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad op 10 Oktober vanjaar het Solidariteit die laaste deel van 2019 met ’n groot hoogtepunt aangepak. Dit was ’n heerlike geleentheid waartydens die energie en opgewondenheid tasbaar was onder die groep mense wat saam groot dinge vir ons toekoms help beplan. Tydens die vorige Toekomsberaad, wat in 2015 gehou […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close