Solidarteit Wêreld
2020 – Uitgawe 1 My Geld
Gordel vas vir die volgende tien jaar!
Deur Michelle | 16 Maart 2020

Deur Appie Pienaar

Die nuwe dekade het uit ’n finansiële oogpunt beskou, nie goed begin nie: Groot dele van ons land gaan steeds gebuk onder ’n knellende droogte wat ’n beduidende invloed op voedselinflasie vir die volgende paar jaar kan hê, die JSE lyk ten spyte van ’n effense verbetering die afgelope jaar of dit net nie wil rigting kry nie, en ons groot staatsentiteite soos die SAL en Eskom spartel om nie te verdrink in die skuldput wat hulle self gegrawe het nie. Boonop dreig die staat om belasting te verhoog, aftreefondse te verplig om regruk-aksies te help finansier wat weens die staat se wanbestuur nodig is, Nasionale Gesondheidsversekering in werking te stel, en met onteiening sonder vergoeding te begin. Wie kan verbruikers onder hierdie omstandighede verkwalik as hulle soms moedeloos raak oor die toekoms?

Hoe moet ons hierop reageer? Eerstens moet elkeen van ons verantwoordelikheid vir ons eie finansies neem. Om te kla, sal seker help om van die emosionele bagasie ontslae te raak, maar dit gaan nie jou finansiële probleme oplos nie. Die volgende wenke mag moontlik help om die situasie te verlig:

  • Die eerste belangrike wenk is om te begroot. Besluit hoe die kontantkomponent van jou salaris soos dit in jou bankrekening inbetaal word, bestee moet word: Voorsien vir die verpligte betalings soos die huispaaiement, huur, water en elektrisiteit en skoolfonds, en dan vir die meer diskresionêre uitgawes soos vermaak, klere en kruideniersware.
  • Hou rekord van jou uitgawes. Finansiële bestuur vereis dat jy ook bewus moet wees van waarop jy jou geld spandeer. Kom in die gewoonte om alle strokies in jou beursie te bêre en teken so een maal ’n week al jou uitgawes op ’n spreiblad aan. Aan die einde van die maand kan jy dan ’n rekonsiliasie doen tussen jou bankbalans, jou salaris en jou uitgawes. Sodoende weet jy waar jou geld heen verdwyn. Die aanvanklike skok om te sien hoeveel jy aan onnodige items spandeer, help gewoonlik dat jy in die toekoms nie dieselfde fout herhaal nie.
  • Moet geen skuld aangaan tensy dit vir ’n langtermynbate soos ’n huis of ’n voertuig is nie. As jy nie ’n televisie of ’n meubelstuk kontant kan betaal nie, moet dit nie koop nie. Dit sal geen skade doen as jy dit eers ’n jaar later aanskaf nadat jy daarvoor gespaar het nie. Vermy ook om uitgawes met ’n kredietkaart te finansier. ’n Kredietkaart is handig en noodsaaklik vir internettransaksies en vir ’n kontantkrisis, maar verder moet die gebruik daarvan ten alle koste vermy word. Die rente op die uitstaande skuld gaan jou finansiële posisie nog verder benadeel.
  • Ondersoek jou uitgawes noukeurig om te sien waarop jy kan bespaar. Mense is geneig om deur die jare onnodige uitgawes te vergaar, soos lidmaatskapgelde by boekklubs, ongesonde lewensgewoontes soos oormatige drank en rook (met gepaardgaande gesondheidsprobleme op jou oudag!), duur etes en oormatige lekkernye. Selfs motorversekering kan soms verminder word deur seker te maak dat jou premie afwaarts aangepas word soos wat jou voertuig verouder.
  • Oorweeg dit om jou inkomste aan te vul uit ander bronne. Verhuur ’n onbenutte buitekamer aan iemand as blyplek, verhuur ’n leë motorhuis as stoorruimte, of doen ’n ekstra werkie oor naweke om ’n paar gate te help toestop.
  • Laastens, moet nie vergeet om ’n deel van jou inkomste te belê nie. Die geskiedenis wys dat daar selfs onder die moeilikste omstandighede altyd mense is wat beter daaraan toe is wanneer die krisistyd verby is. Dit is mense wat geleenthede raaksien of skep wanneer ander moedeloos raak.
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan ons weer aan die begin van ’n nuwe jaar. Vir die een of ander rede klink 2020 idillies, amper asof ’n mens nuut kan begin met belangrike dinge in die lewe of dat daar groot goed gaan gebeur. Aan die een kant is dit waar, want Solidariteit begin sy strategiese pad na 2030 […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close