Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 3 In Retrospek
Hayo matata! Moenie bekommer nie
Deur Michelle | 14 Junie 2019

 

Eva Mtshwene het nie in die Paradys gewoon soos haar Bybelse naamgenoot in die verre begindae van die aarde nie. Haar tuiste was ’n township-huisie waar ek eenmaal, lank terug, by haar netjiese eetkamertafel ’n gekookte maaltyd geëet het nadat Eva, net soos die Bybelse Eva, haar seun moes begrawe. In die township-Eva se geval is haar mooi, sterk seun met ’n mes doodgesteek. My gesig was die enigste wit een in die see van singende begrafnisgangers daardie Saterdag. Eva het die dag fier en traanloos deurstaan, en het selfs van die liedere by die graf met haar klokhelder stem gelei. Een lied bly my nou nog by: Hayo matata, was die herhalende woorde, wat beteken: Moenie bekommer nie.

Soos die Bybelse Eva, het die township-Eva haar naam, wat “moeder” beteken, daagliks uitgelewe. Sy was ’n ma vir haar dogter, Surprise, wat soms gesukkel het met haar gesondheid, maar wat baie goed gevaar het op skool. Sy was ook ’n ma vir ons skool se gestremde kinders, wat sy soos haar eie versorg en opgevoed het. Eva was ’n klas-assistent by ons skool. Sy het die kinders vir wie sy verantwoordelik was soos ’n hen onder haar vleuels geneem. Sy kon die klas in orde hou, doeke ruil, stimuleer, vermaan – alles met ’n ferm, maar liefdevolle hand. As Eva jou klas-assistent was, was dit nooit nodig om jou te bekommer oor die kinders as jy die dag nie by die skool was nie. Eva was so betroubaar soos ’n rots. Sy was elke dag op haar pos en was nooit laat nie, al moes sy soggens vieruur al op die bus klim om by die werk te kom. Hayo matata. Eva is daar om dinge vas te vat.

Eva kon heerlik kook. Wanneer ons skool konsert hou, slaap ’n groot groep kinders wat nie vervoer het nie, gewoonlik oor. Dan slaap ’n groep assistente ook by die skool om met die kinders se versorging te help. Eva was altyd die oorslaap-assistente se kok. Groot potte geurig gekookte kos het die aand ná die konsert stomend op die moeg gewerkte assistente gewag. Almal het heerlik gekuier rondom die kospotte nadat die kinders in die bed gesit is. Elke keer as ek met die konsert se beplanning besig was, was Eva se naam vanselfsprekend langs die item “Assistente Kos”. Ek hoef my nie daaroor te bekommer het nie. Hayo matata. Eva sou sorg vir die kos.

So ’n bietjie meer as ’n week gelede sit ek langs Eva in die intensiewe eenheid. Sy is skielik platgetrek deur ’n ernstige siekte en lê nou met longontsteking in ’n kritieke toestand aan ’n ventilator gekoppel. Ek vryf saggies aan haar skouer, voel aan die hand wat so hard kon werk. Die ventilator sis ritmies. Metertjies biep dan en wan. Die suster sit en skryf in haar kaarte. Eva, sterk Eva, flukse Eva, betroubare Eva is in ’n diep koma. Ek sing saggies langs haar kop: Hayo matata, hayo matata … Moenie bekommer nie, Eva, jou Vader kyk na jou.

Vandag, Moedersdag, word ek wakker met die nuus dat Eva na haar Vader toe is. Surprise moet op Moedersdag hoor dat haar sterk ma vir ander diens opgeroep is. Eva Mtshwene is Paradys toe. Haar township-huisie is stil en leeg. Maar … hayo matata … moenie bekommer nie … daar is troos:

  • Ons ma’s, Evas, is feilbaar, soos die paradys-Eva, wat in versoeking geval het. Maar ons hemelse Vader is onfeilbaar, altyd daar, getrou, ewig.
  • Ons ma’s se hande raak oud, hul bene krom. En eindelik is daardie hande wat hard kon werk, leweloos. Maar ons hemelse Vader se hande word nooit oud of slap nie. Hy omvou ons, beskerm ons, dra ons.
  • Ons worstel deur hartseer tye en wonder hoe om ons mense teen boosheid en pyn te beskerm. Maar God het Sy Seun vir ons geoffer sodat ons eendag vir altyd by Hom kan wees en die trane van ons oë afgevee kan word.

Vanaand, ek is doodseker, sing die hemelkoor ’n nuwe lied, een wat Eva vir hulle geleer het: Hayo matata. Moenie bekommer nie.

Rus in vrede, Eva.

Jou bekommernisse is oor.

 

 

  • 3
  •  
  •  
Redakteursbrief

Dit voel vir my of ’n mens hierdie tyd van die jaar ’n ekstra hupstoot nodig het om uit die bed uit op te staan en jou kragte bymekaar te skraap om die dag aan te pak. Dit het nie net te doen met die koue daarbuite nie: Ek merk op dat almal om my […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close