Solidarteit Wêreld
2020 – Uitgawe 2
Helpmekaardag – ’n gemeenskap wat saamstaan
Deur Michelle | 25 Mei 2020

Foto krediet:

Deur Johnell van Vollenhoven

Toe die son op 7 April 2020 opkom, was die Solidariteit Beweging se mense gerat vir aksie. Die Virseker Trust het net die vorige dag R1 miljoen aan die Solidariteit Beweging se Krisisfonds geskenk, en dit was presies die hupstoot wat hulle nodig gehad het om ’n nuwe inisiatief aan te pak. Vir hulle was 7 April 2020 Helpmekaardag.

Die helpmekaarinisiatief is nie ’n nuwe verskynsel nie. Die eerste Helpmekaardag was op 10 November 1917 gehou. Die volk was brandarm en ná die rebellie van 1914 het hulle nog meer verarm omdat die rebelle skadevergoedingseise en boetes moes betaal. Ongeag hierdie ellende het die mense nie moed opgegee nie. Daar is besluit dat die wil om saam te staan en mekaar te help, baie sterker is as enige onderdrukking of finansiële verknorsing. Die gees van helpmekaar het posgevat en soos ’n veldbrand van die een Afrikanergemeenskap na die ander versprei. Almal het ingespring: huisgesinne, jongmense, selfs kinders met hulle sakgeld. Mense wat nie geld gehad het nie, het artikels en kos geskenk. Daar is gewerk en gebak. Almal was in nood, maar deur samewerking en die gees van helpmekaar is die nood verlig en kon hulle binne net vier maande genoeg geld bymekaar maak om al die rebelle se skuld te delg.

Die Solidariteit Beweging het die nood van 2020 raakgesien. Die ekonomie was reeds voor die Covid-19-pandemie onder druk, en nadat die amptelike staat van inperking deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig is en duisende sakeondernemings hulle deure moes sluit, het sake net vererger deurdat duisende werknemers en sake-eienaars se inkomste oornag opgedroog het.

Hulpkrete was skielik meer dringend. Die enigste oplossing was dat die geskiedenis homself herhaal en dat mense na binne keer, hand in eie sak steek en gee wat hulle kon. Ons is nou in nood. Verlies aan inkomste beteken ook minder of geen kos op die tafel nie. Beperking van beweging beteken bejaardes word nie versorg nie en kinders kan nie meer skool toe gaan om te leer nie. Ons is nie net honger vir kos in hierdie tyd nie, maar ons kinders is honger om te leer en ondernemings is honger om sake te doen.

Iets moes gebeur om die nood te verlig. Om na die regering te draai, was nie die antwoord nie. Ons moes ’n ander manier vind om vir ons gemeenskappe te sorg, vir ons oumense hulp aan te bied en ons kinders te laat leer.

’n Helpmekaardag was die voor die hand liggende oplossing. Virseker was eerste om hulle bydrae tot hierdie saak te lewer. Daarna het werknemers by die verskillende instansies wat onder die Solidariteit Beweging val, soos die vakbond Solidariteit, AfriForum en Helpende Hand, self hand in eie sak gesteek en begin skenk. Mense het mekaar op sosiale media uitgedaag en selfs ’n paar bekendes het aan die uitdaging deelgeneem.

Die dag was ’n reusesukses. Die mikpunt van R2 miljoen is oorskry en twee dae ná die Helpmekaardag was die Krisisfonds reeds R3 miljoen sterk. Die fonds groei steeds by die dag en nader die R15 miljoen-merk. Solidariteit Helpende Hand gebruik nou ’n deel van hierdie geld om maatskaplike verligting vir gemeenskappe te bring terwyl ’n gedeelte die Skoleondersteuningsentrum se Die Wolkskool finansier sodat ons kinders steeds in hierdie tyd kan leer. Só sorg ons in tye van nood vir die nou en vir die toekoms.

Solidariteit glo nog altyd daaraan dat geleenthede en hoop vir die gemeenskap vanuit die gemeenskap geskep moet word. Die Helpmekaardag het bewys hoe sterk ons gemeenskappe werklik is. In die gees van helpmekaar sal ons saam ook hierdie tyd van nood oorkom.

*Die Solidariteit Beweging bedank almal vir hul bydraes tot die Krisisfonds. Mense wat steeds wil bydra, kan www.krisisfonds.co.za besoek.

 

Redakteursbrief

Deur Cilleste van Dyk Ek skryf vandag die derde opeenvolgende brief vir julle vanuit my woonkamer-kantoor, maar tog voel dit vir my soos ’n keerpunt. Ons is uiteindelik op vlak 2 van die inperking en dis byna asof daar weer ’n mate van normaliteit terugkeer. Die klein bietjie meer vryheid het my laat besef dat […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close