Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 4 Nuuswaardig
Historiese hofuitspraak is reddingsboei vir MEIBC
Deur Michelle | 10 Augustus 2017

Deur Wilmarie Brits

 

Die historiese uitspraak deur regter Sean Snyman dat die Bedingingsraad vir die Metaal- en Ingenieursbedryf (MEIBC) onder administrasie geplaas moet word, is gelewer na aanleiding van ’n aansoek wat deur Solidariteit gebring is. Dié uitspraak, wat op 13 Junie vanjaar gelewer is, is nie net die eerste van sy soort in Suid-Afrika nie, maar dien ook as 'n reddingsboei wat die landskap in die staal- en ingenieursbedryf ingrypend gaan verander.

Solidariteit het reeds in Mei verlede jaar sy kommer oor die MEIBC se toekoms uitgespreek toe hy in ’n skrywe aan Mildred Oliphant, die minister van arbeid, versoek het dat daar dringend by die sukkelende MEIBC ingegryp moet word.

Die MEIBC vervul ’n noodsaaklike rol in die metaal- en ingenieursbedryf. Hulle reguleer onder meer verskeie noodsaaklike arbeidskwessies kragtens ’n hoofooreenkoms waarvan die inhoud jaarliks deur die onderskeie partye in die bedryf onderhandel word. Dit sluit kwessies soos werkure, lone, verandering aan basiese diensvoorwaardes en geskilbeslegting in. Dié bedingingsraad se voortslepende finansiële krisis en die partye in die raad se onvermoë om oor verskeie kwessies tot ’n vergelyk te kom, kan die einde van die MEIBC beteken. “As die raad tot niet sou gaan, sal dit verskeie negatiewe gevolge vir die bedryf inhou,” het Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, gesê.

Marius het verder beklemtoon dat die MEIBC se finansiële posisie die afgelope ruk so versleg het dat die bedingingsraad al vir ’n geruime tyd lank nie meer sy geskilbeslegtingsfunksie kan uitvoer nie. Daarom het die vakbond Solidariteit in Junie vanjaar die arbeidshof versoek om die MEIBC onder administrasie te plaas in ’n poging om die bedingingsraad van bankrotskap te red.

Solidariteit het dié historiese bevel verwelkom en is van mening dat die bevel ’n broodnodige stap is om te verseker dat die MEIBC van ondergang gered word. Die departement van arbeid, Numsa en werkgewersorganisasies het ook tot die bevel ingestem. “Ons is verheug dat belangrike rolspelers uiteindelik tot die proses van administrasie ingestem het. Die administrasieproses is vergelykbaar met ’n proses van besigheidsredding wat dikwels in die privaatsektor gebruik word om ’n besigheid van ondergang te red. Die alternatief was likwidasie, wat nie in die bedingingsraad se belang sou wees nie,” het Croucamp bygevoeg.

Die administrateur wat aangestel sal word, sal ingrypende stappe moet doen om wanbestuur en finansiële ongerymdhede uit te sorteer. Dit is belangrik dat dié administrateur die vooruitsigte van solvensie en funksionaliteit van die bedingingsraad ’n realiteit sal maak. Die fondse en bankrekeninge van die MEIBC-bestuur sal dan ook deel uitmaak van die administrateur se verantwoordelikhede.

  •  
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close