Solidarteit Wêreld
2020 – Uitgawe 5 Nuuswaardig
Hoekom die Werkherstelprogram?
Deur Lize-Mari | 05 November 2020

Foto krediet: OkayDeer

Deur Cilleste van Dyk

Die drakoniese inperkings om die koronapandemie te probeer bekamp, is besig om die grootste menslike tragedie sedert die Tweede Wêreldoorlog te veroorsaak. Die Internasionale Arbeidsorganisasie bereken dat globale werkloosheid gaan verdubbel en dat bykans 200 miljoen mense hul werk kan verloor. Dit gaan die lewens en lewensmiddele van byna ’n miljard afhanklikes en ander mense op die een of ander wyse raak. In Suid-Afrika kan die werkloosheidskoers tot 50% styg. Die ekonomiese skade in die wêreld en in Suid-Afrika, waar tot ’n derde van sake-ondernemings aandui dat hulle moontlik hul deure sal moet sluit, is groot.

Die krisis word in Suid-Afrika vererger deurdat die ekonomie reeds voor die koronapandemie tot rommelstatus afgradeer is. Die land is buitendien weens jare lange wanbestuur deur die regering al miljarde rande en miljoene werkgeleenthede kwyt. Die regering gebruik ras as ’n maatstaf vir hulp en het selfs probeer om die verspreiding van noodsaaklike kos deur Solidariteit Helpende Hand, kerke en ander hulporganisasies te keer. Dit is duidelik: Ons is op ons eie.

Al hierdie dinge kan mense moedeloos maak omdat Solidariteit se lede in normale tye produktiewe, toegewyde en verantwoordelike werknemers is wat nog altyd ’n sleutelrol in die ekonomie van die land gespeel het.

Onstuitbaar

Tog is daar hoop. As Christene vertrou ons dat God sal voorsien en dat Hy ons as mense gebruik om mekaar te help. Die geskiedenis toon dat gemeenskappe wat saamstaan, onstuitbaar is.

Hoewel die virus omvattende en verreikende gevolge inhou, stel Solidariteit holistiese planne op om te verseker dat sy lede nie net die krisis oorleef nie, maar sal groei en ontwikkel in hierdie tyd. Die doel is nie om bloot vas te byt en te wag vir beter dae nie. Solidariteit en sy lede moet floreer in terme van welvaart en voorspoed in elke aspek van hulle lewens: hetsy met betrekking tot beskerming in die werkplek, die vermoë om te kan werk, persoonlike finansiële welstand, gesondheid of die opvoeding van die volgende generasie.

Die Covid-19-krisis bied ongelooflike geleenthede vir buitengewone groei en ontwikkeling midde-in die krisis. Solidariteit se Werkherstelprogram bied ’n springplank vir die gemeenskap om nou die hoogtes in te skiet. Die program se doel is nie om werk te skep nie, maar om mense in staat te stel om weer te kan werk.

Leef om te werk

Ons grootste prioriteit is ons lede se werk. Welsyn kan nooit werk vervang nie; dis bloot tydelike noodhulp. Werk staan sentraal in ons lewens. As verantwoordelike mense besef ons dat ons almal ’n werk nodig het om vir ons gesinne te sorg. Daarom wil mense op ’n gesonde manier werk te midde van die regering se Covid-19-inperkingsmaatreëls. Ons mense is nou maar eenmaal harde werkers. Die meeste Solidariteit-lede leef om te werk en werk nie bloot om te leef nie! Daarom stel ons die Werkherstelprogram as volhoubare oplossing vir die huidige krisis bekend.

Gemeenskapskrag

Ons suksesresep was nog altyd opgesluit in die uitdrukking ’n boer maak ’n plan. Dit sal nie die eerste keer wees dat ons gemeenskap ’n helpmekaaraksie loods en sélf planne maak en uitvoer met ons selfhelporganisasies nie. In krisisse staan ons sterk, ons staan saam en help mekaar. Ons het mekaar in tye van nood nog altyd gehelp en ons gaan dit weer doen. Die Werkherstelprogram is uit die gemeenskap, vir die gemeenskap. En dis groter en omvangryker as enigiets wat ons al ooit aangepak het. #OnsSalSelf!

Redakteursbrief

Deur Cilleste van Dyk Ons sal self. Hierdie drie woorde kan baie arrogant klink sonder die regte konteks. Solidariteit sê: Ons sal self, nie omdat ons dink dat ons dinge alleen of deur ons eie krag sal regkry nie, maar omdat dat daar geen ander opsie is vir ’n voorspoedige toekoms nie. Daarom sê ons […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close