Solidarteit Wêreld
2018 – Uitgawe 6
Hol dat die stof so staan
Deur Michelle | 08 November 2018

Dit was ’n soel somersaand op Coetzenburg in Stellenbosch. Die ganse land was in ekstase, die wêreld in ongeloof. Hoe kan dit wees? Hoe kan ’n kaalvoetkind vanuit die niet kom en ’n wêreldrekord sommerso kafdraf? Zola Budd se naam is in die annale van wêreldatletiek verewig en ek was verlief.

Kort daarna het die voortreflike dokumentaris, Tienie Theunissen, ’n dokumentêr oor haar gemaak – Beter as die wêreld se beste. Die landbouskool waar ek op koshuis was, het daardie aand ’n spesiale vergunning gemaak en ons is toegelaat, of liewer, aangesê, om die dokumentêr te kyk. Ek kon ’n kykie agter die atleet kry, na die persoon self.

Soos dit soms maar gebeur met kinders, het ek vir my ’n pragtige illusie opgebou van my en Zola se lewe saam, eendag… Ons sou natuurlik baie moes draf, en ek het dadelik begin oefen. Ek sal nooit die dag vergeet nie toe mnr. Huyser tydens die eerste landloopoefening ná die April-skoolvakansie op sy motorfiets op en af langs die lang ry moeë laerskooldrawwers op die treinspoorroete gery het (daar was ook ’n perskeroete, ’n lusernroete en, vir die baie fikses en slegs oor naweke, die ou fortroete) en amper sy nek geswik het in ’n kyk-weer-oomblik toe hy my aan die spits van die landlopers gewaar het.

“Johannes?”

Hygend: “Ja, meneer?”

“Wat maak jy dan hier voor?”

“Ek hól, meneer!”

En hol het ek gehol. Ek het tydens pouses om die tennisbane gehol. Ek het storte toe gehol as die badklok lui. Ek kon nie etes toe hol nie, want ons moes altyd in ’n stigtelike ry eetsaal toe marsjeer, maar ek wóú hol.

Die lusernroete was ’n lolliepop-roete; met ander woorde, jy hardloop padlangs, om die lusernlande en dan langs dieselfde pad terug koshuis toe. Ek was gemotiveerd en het in plaas van een maal om die lusernlande, twee maal omgehardloop. Nie net dit nie, ek het ’n trui om my mond en neus gebind om minder suurstof in te kry, sodat my longe nog sterker kon word (’n bedenklike strategie, aangesien ek ’n asmatiese kind was wat maar altyd met ’n ou pompie moes hol).

Mnr. Huyser het net mooi niks gehou van my metodes nie en het my herhaaldelik daarteen gemaan. Hy weet beter, het hy gesê. My hardkoppigheid kos my toe as straf ’n skorsing uit die landloopspan. Toe het ek begin om 2 uur in die oggend by die koshuisvenster uit te glip en af te sluip na die hoërskool se atletiekbaan vir ’n nokturne van oefening. Ek het gedink ek doen dit vir die liefde van Zola en vir die liefde van hardloop, maar vandag weet ek van beter…

Ek is met hierdie passie hoërskool toe en het dit daar voortgesit. Maar net een ding het bly lol – die wenpaal was vir my nooit ’n wenpaal nie, dit was net ’n klaarmaakpaal, want wraggies, as wenner is ek nooit verby daardie paal nie.

Uiteindelik, een dag in standerd nege, het die besef uit die bloute helder en onweerlegbaar op my toegesak: Ek werk twee maal so hard om die helfte so vinnig soos die ander te hardloop. My kop is te groot, my arms te lank en my bene te kort en my hart, my moed, my droom was gebreek.

Kort daarna het ek musiek ontdek.

En so tree my orkes Boo! toe jare later op as gaskunstenaar by die Casper Rasper-televisieprogram.

Casper het die gewoonte gehad om ook ’n geheime gas as verrassing te onthul. Terwyl ek in die kleedkamers besig was met opwarm, loer ek toe by een van die kleedkamers in, en daar sien ek die geheime gas… niemand anders nie as Zola Budd-Pieterse.

’n Leeftyd se emosies het op my toegesak en ek stap toe na haar toe. Ek wou vertel van hoe ons vakansies ‘saam’ op ABBA se “Head over heels” om die Emmarentiadam gehardloop het. Ek wou vertel van die nagtelike oefeninge, dat ek op skool altyd ’n foto van haar by my gedra het, hoe bly ek was met haar sege in die 1985 landloopwêreldkampioenskappe, en hoe sy my lewe ingrypend verander het.

Met ’n kop vol gedagtes kom ek toe voor haar te staan en ek sê, erg verbouereerd:

“Kan ek asseblief Tannie se handtekening kry?”

  •  
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close