Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 2 In Retrospek
Iemand by die hek
Deur Michelle | 25 April 2019

“Iemand is by die hek, Ouma!” Dis vakansie, en my kleinkinders kuier by Ouma. Ek is voor die wasbak, besig om ’n hoop skottelgoed klein te kry. Versigtig loer ek agter die kombuisgordyn uit. Ja, daar is iemand by die hek; ’n man. Ek takseer hom krities. As dit ’n bedelaar is, moet hy my nie eers sien nie. Maar die man lyk taamlik netjies. Ek stap effe huiwerig uit om te hoor wat die iemand by my hek maak.

Toe ek nader stap, glimlag die man breed. Daar is ’n gaping waar hy voortande moes gehad het. Ek sug innerlik. Lyk tog na ’n bedelaar. “Kan ek help?” vra ek, ietwat ongeduldig. Die skottelgoed wag, en die kinders moet nog ontbyt kry. Die man beduie na sy ore en maak ’n paar skor klanke. Hy is doof. Hy wink my nader, oorhandig ’n stuk papier met omgekrulde ore. Ek lees drie skeef geskryfde kort sinnetjies in bewerige potloodskrif. “Ek Louis. Ek verf. Ek houtwerk doen.” Weer wys hy vriendelik die gaping in sy tande. My kleinkinders het intussen nuuskierig nader gestaan. “Wat soek hy, Ouma?” vra die kleinste. “Werk,” sê ek, papier in die hand. Iets tussen die potloodbriefie, die netjies geklede dowe man voor my (tandeloosheid en al) en my kleinkinders se afwagtende ogies op my laat my harder dink oor my antwoord. Die ‘ek het nie werk nie’-sinnetjie rol ongesê van my tong af. Ek onthou van die ou swaaitjie wat iemand aan die skool geskenk het wat ek graag vir my speelgrond wil laat regmaak…

Ek maak ’n skryfbeweging met my duim en voorvinger en beduie dat hy die potlood vir my moet gee. Hoopvol oorhandig hy dit. “Ek het ’n ou swaaitjie by die skool wat ek wil laat verf. Sal jy dit kan doen?” Louis neem gretig die papier terug. Hy lees en knik sy kop entoesiasties. “Wanneer?” beduie hy. Weer skryf ek op die omgekrulde papier: “Ek sal jou bel.” Hy skryf sy nommer vir my neer, ek tik dit op my selfoon in en hy stap hoog in sy skik weg. Ná ’n oproep of twee het ek gereël om die skool se sleepwa te leen en die swaaitjie te gaan haal. Later die middag koop ek ’n paar klein blikkies helder verf, twee kwaste en terpentyn. Ná ’n vinnige voorraadopname van my program die volgende dag of twee besluit ek om Louis Vrydag te laat kom, dus oor drie dae. Ek stuur vir hom ’n SMS.

Nou het Louis my nommer. Gou is ek effe spyt daaroor. Louis SMS my daagliks, meer as een keer per dag. In kort, kinderlike agterstevoor sinnetjies met heelwat spelfoute, deel hy van sy uitdagings. Louis Sassa klaar. Nie kaartjie bus. Jy haal my. Innerlik sugtend willig ek in. Hy stuur sy adres. Dis glad nie te ver van my huis af nie. Vroeg Vrydagoggend kry ek nog ’n SMS: Louis wakker. Ek nou sit en wag jou. Dis meer as ’n uur voor die tyd wat ons afgespreek het. Ek moet lag. Arme Louis is blykbaar verskriklik opgewonde oor die dag se werkie. Ek ry dus ’n bietjie vroeër om hom te gaan haal. Dis ’n gewone voorstedelike huis. Louis en sy suster woon blykbaar in die mense se agterplaas, seker in ’n kamer of ’n Wendy-huis. Hy ‘gesels’ land en sand terwyl ons ry. Beduie dat die honde by die huis mal is en altyd blaf. Beduie waar sy busroete loop. Maak ’n baard-gebaar oor sy ken en beduie ‘Waar?’ om uit te vind of ek ’n man het. ‘Geen man’, beduie ek terug. Louis trek vraend met die voorvinger ’n streep oor sy keel. ‘Dood?’ vra hy skor. ‘Nee’, beduie ek, nie dood nie. Net weg.

By die huis wys ek vir Louis die swaaitjie en bring die verf, kwaste, terpentyn en koerantpapier. Louis beduie trots dat hierdie baie, baie maklik is. Hy spring aan die werk. Ek is beïndruk. Hy verf regtig baie netjies en noukeurig, mors nie ’n druppel nie. Later bring ek vir hom koffie en gaan ry ’n paar draaie. Toe ek terugkom, sien ek op die kombuisrak ’n papier waarop hy vir Kate, my huishulp, ‘LAP’ geskryf het in sy bewerige skrif. ‘REG’ staan onder die woordjie ‘lap’. Sy het toe darem vir hom ’n geskikte lap gegee, blyk dit. Louis voltooi sy werkie met onderskeiding. Die ou swaaitjie skitter soos nuut in sy helder kleure. Netjies pak hy alles op, sit die verf in die garage. Ek betaal hom en neem hom huis toe. Verbeel ek my, of loop hy regopper as vroeër? Hy is ’n man wat ’n taak voltooi het, wat ’n geldjie in die sak het.

Op pad terug huis toe dink ek met deernis aan hierdie man en baie ander soos hy. Ek werk daagliks met gestremdes, ek het twee gestremde kinders, tog het ek hom byna weggestuur. “… vir so ver julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen,” het die Here Jesus gesê.

Is daar dalk vandag dalk iemand – Iemand – by jóú hek?

  • 4
  •  
  •  
Redakteursbrief

Dit voel vir my of ’n mens hierdie tyd van die jaar ’n ekstra hupstoot nodig het om uit die bed uit op te staan en jou kragte bymekaar te skraap om die dag aan te pak. Dit het nie net te doen met die koue daarbuite nie: Ek merk op dat almal om my […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close