Solidarteit Wêreld
2020 – Uitgawe 4 Spreekbuys
In krisistye moet jy waag om te kan wen
Deur Lize-Mari | 14 September 2020

Foto krediet: iStock

Deur Flip Buys

In die middel van die harde vlak 5-inperking kry ek een nag laat ’n benoude oproep van ’n jarelange staatmakerlid. “Gaan Solidariteit hierdie krisis oorleef?” vra hy angstig. “Wat as hierdie Covid-tsunami alles platvee waaraan ons 20 jaar lank gebou het? Solidariteit is al wat nog staan tussen ons en totale verval in hierdie land.”

“Ons het darem nie op sand gebou nie,” probeer ek hom gerusstel. “Ons het die Solidariteit Beweging juis vir krisistye gebou, al het ons nie geweet presies wat die krisis gaan wees nie. Natuurlik het die krisis ons ook onverwags getref, maar nie onvoorbereid nie.” Dit stel hom egter nie gerus nie, en hy peper my verder met “maar wat as”-vrae wat nie maklike antwoorde het nie: Wat as derduisende lede sterf, of hulle werk verloor, of as Solidariteit bankrot speel, of as daar geweld losbars, of as ons kinders nie kan skoolgaan nie? Ek verduidelik dat ons navorsing aandui dat die panieksyfers van die regering ’n groot oordrywing is. “Maar wat gaan ons doén?” vra hy dan.

Aksieplanne

As Christene glo ons dat alles in Sy hande is, en daarna werk ons asof alles in óns hande is. Ons berei al jare vir krisisse voor en is, sover dit menslik moontlik is, gerat en gereed vir wat kom. Ons kan nie alles doen nie, maar ons sal doen wat ons kan. Ons risikobestuurstrategie is al jare lank in plek. Ons beroepsveiligheidspan is besig met voorstelle oor gesonde werk wat aan die regering en maatskappye voorsien sal word. Die Solidariteit Navorsingsinstituut werk aan projeksies oor hoe die pandemie ons lede se gesondheid en werk kan raak. Daarna skakel ons dit om in planne vir elke afdeling en departement in Solidariteit. Ons skakel met ons lede se werkgewers om oor hul werk, mediese fonds en pensioen te praat. Ons Koronakrisissentrum was binne ’n week reg om duisende ledenavrae te hanteer. Solidariteit se regsmense werk kliphard aan oplossings vir probleme wat kom. Helpende Hand stig ’n Krisisfonds om lede met voedselnood te help. AfriForum se buurtwagte skakel met die polisie oor veiligheid. Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum bou ’n aanlyn matriekskool sodat kinders kan bybly. Ek noem nog ’n hele rits van ons projekte op. “Maar hoe gaan ons dit alles bekostig?” vra hy. Alles is gratis vir ons lede. Ons was voorbereid op ’n krisis, al kon ons nie beplan vir presies watter een nie.

Nagmerrie

Nadat ek hom so goed ek kan gerusgestel het, kom die slaap nie maklik nie. Dit was die tyd toe almal bekommerd was of daar genoeg plek in hospitale sal wees; die bouwerk aan Sol-Tech se nuwe kampus moet stop; AfriForum se buurtwagte mag nie patroleer nie; die howe sluit; ArcellorMittal maak vir die eerste keer in 70 jaar nie staal nie. Ons word oorval met navrae en kan nie bybly om al die WhatsApp-boodskappe, e-posse, Facebook-vrae en oproepe te antwoord nie. Dis soos ’n vloedgolf wat oor ons spoel, en dit hou net nie op nie. Soms voel dit of ’n mens soggens in ’n nagmerrie wakker word. Ons doen scenariobeplanning en stel aksieplanne op om alles in plek te kry. Dag en nag vloei deurmekaar; werk en huis word dieselfde tyd en plek. Tussendeur skop my krag af en my rekenaar en internetverbinding gee probleme, maar ons IT-mense verrig wondere en Solidariteit se organisasies is in ’n rekordtyd weer aanlyn.

Solidarity Fund

Net toe ek voel ons skep asem, bel Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Helpende Hand, my met die nuus dat die regering ons naam gebruik vir hulle Solidarity Fund. Ons regsmense sê in hierdie ramptyd sal die howe ons nie help nie, ons moet ons fonds se naam verander. Ek en dr. Dirk Hermann koukus en besef dit gaan geweldige verwarring skep. Baie mense gaan dink die Solidarity Fund is ons fonds en gaan geld daarin betaal. Ons lede wat in nood raak, gaan dink ons wil hulle nie help nie. Sommer die eerste dag al word dit ’n groot probleem. Mense betaal geld in die regeringsfonds en dink dis ons fonds. Lede kla by ons omdat die Solidarity Fund hulle nie wil help nie. Hannes sê Helpende Hand word oorstroom met hulpversoeke.

Virseker

Ons is raadop. Dit voel of ons ’n skare moet kosgee met twee brode en drie vissies. Dan kom die nuus: Virseker se beheermaatskappy, Telesure, en die stigter van Auto & General se Steyn-familietrust skenk R2 mijoen se kospakkies! Wat ’n uitkoms in daardie eerste dae! Hulle skenk uiteindelik nog R10 miljoen rand se kospakkies. Dan begin die skenkings instroom by Helpende Hand se Krisisfonds: kontantbydraes, kos, groente, meel, selfs vleis. Hannes se span noem die skenkingskantore “Josef Silo’s”. Alle hulpaansoeke word gekeur deur ’n span maatskaplike werkers, maar ons kry te veel aansoeke om almal te kan help. Kospakkies word landwyd versprei deur die personeel en vrywilligers van AfriForum, Solidariteit, Helpende Hand en Saai. Elke pakkie het ’n adres. Dit gaan rof. Die ANC se Lesufi probeer ons kosverspreiding keer en sentraliseer. Ons weier en gaan net aan, en wen uiteindelik ons saak in die hof. Teen Augustus het Helpende Hand reeds 20 000 gesinne met kospakkies gehelp asook meer as 1 600 ouetehuise en vele kerke en kinderhuise.

Presteer

Ook op ander fronte presteer ons organisasies. Akademia skakel naatloos oor na aanlyn leer. Hulle stel hul voltydse Centurion-kampus vir 2021 bekend. Sol-Tech maak weer oop en die bouwerk gaan volspoed aan. Meer as 120 000 skoolkinders registreer by Die Wolkskool. Duisende onderwysers word met webinare opgelei om aanlyn klas te gee. Sowat ’n duisend skole word raad gegee oor gesonde onderrig. Die FAK reël aanlyn musiekkonserte wat teen die Voortrekkermonument se voorkant projekteer word. Maroela Media staan werklose kunstenaars by. Pretoria FM ondersteun die Krisisfonds. Ons begin hofsake teen min. Nkosazana Dlamini-Zuma se dom regulasies. Ons wen die meeste, maar verloor die saak teen die regering wat noodhulp op grond van ras toeken. Ja, die regering en die hof klou selfs in ’n ramptyd aan hul rassebeleid vas. Niemand gaan lê nie – ons veg voort en wen weer sake. ’n Boer maak ’n plan, skryf iemand vir my.

Die regering verbrou die krisis. Covid-19-korrupsie walg die land. Ons begin al hoe meer ondersteuning kry, dis eenvoudig verstommend. Al ons organisasies groei. Inligting oor die regering se swak hantering van die ramptoestand weerklink tot in die buiteland. Die infeksiekoers begin daal en veel minder mense word siek as wat voorspel is. Die inperkings word afgeskaal en die winter maak stadigaan plek vir lente. Mense begin weer lig sien.

Ons begin planne maak vir die post-Covid-tyd. ’n Boer maak ’n plan. Ons kan nie op die regering staatmaak nie, maar dit maak ons nie moedeloos nie; dis bevrydend. Ons wil en sal nie ons kinders se toekoms aan korrupte onbevoegdes oorlaat nie. Ons sal self verantwoordelikheid neem en sal ons nie laat onderkry nie. Ons planne is gróót, want dit moet groter as die probleem wees. Maar ons weet – in ’n krisis kan jy nie wag nie; jy moét waag, dan sal jy wen. Ek begin uitsien na die toekoms…

Redakteursbrief

Deur Cilleste van Dyk Ek skryf vandag die derde opeenvolgende brief vir julle vanuit my woonkamer-kantoor, maar tog voel dit vir my soos ’n keerpunt. Ons is uiteindelik op vlak 2 van die inperking en dis byna asof daar weer ’n mate van normaliteit terugkeer. Die klein bietjie meer vryheid het my laat besef dat […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close