Solidarteit Wêreld
2019 – Uitgawe 5
Jy verdien beter waarde vir jou belasting
Deur LJ | 30 September 2019

Deur Connie Mulder

Verbeel jou dat jou selfoon vir die volgende twee weke net dood is. Jou klagtes val op dowe ore (en dit is natuurlik moeilik om sonder ’n selfoon oproepe te maak). Wanneer die rekening kom, sien jy dat jy steeds die volle bedrag moet betaal; inteendeel, jy moet 10% meer betaal sodat die bestuur van die selfoonmaatskappy ’n bonus kan kry. Jy sien – deel van jou diensverskaffer se kontrak met jou was dat hulle vir 18 dae in ’n jaar nie ’n diens aan jou hoef te verskaf nie en dan kwalifiseer hulle steeds vir ’n bonus.

So ondenkbaar as wat die selfoonvoorbeeld is, so werklik is dit wat elektrisiteitslewering betref. Tog word hierdie onvermoë om elektrisiteit te lewer beloon met ’n reddingsboei van etlike miljarde rande se belastinggeld – nog belasting wat in een van die vele bodemlose putte val, met geen waarborg van aanspreeklikheid of dienslewering wat daaraan gekoppel word nie.

As jy ’n salaristrekker is, dra jy reeds ’n enorme belastinglas. Nie net word die maatskappy waarvoor jy werk met 28% belas nie; jou salaris wat uit die wins vloei, word dan verder met tot 45% belas. Tog is dit nie die einde nie, want die geld wat wel in jou bankrekening beland en dalk bestee word, word met ’n verdere 15% belas. Ons praat nou nie eers van bykomende belasting soos die belasting wat op drank, sigarette, aandele, dividende of petrol gehef word nie.

Die Suid-Afrikaanse belastingbetaler word behoorlik gemelk deur die ANC-regering en kry feitlik niks in ruil daarvoor nie. Inteendeel – afgesien van hierdie reuse koste moet daar dan nog betaal word vir ’n privaat sekuriteitsdiens en mediese sorg as jy dit kan bekostig.

Wat belastinglading betref, is Suid-Afrika in die geselskap van Europese lande soos Frankryk, Spanje en Griekeland. Wat veiligheid, korrupsie en dienslewering betref, bevind Suid-Afrika hom egter eerder in die geselskap van Iran en Venezuela.

Dit is hierdie totale gebrek aan dienslewering en aanspreeklikheid wat die Suid-Afrikaanse belastingbetaler kwaad en moedeloos laat. Eintlik is dit totaal vreemd, want regerings is absoluut afhanklik van belasting. Hoewel ’n regering die reg het om belasting te hef, is daardie reg nie sonder koste nie. Die reg om belasting te hef, gaan gepaard met ’n ongelooflike verantwoordelikheid om belasting so doeltreffend en deursigtig moontlik aan te wend. In ander lande word belastingbetalers so ver moontlik gepaai en beloon om hulle gelukkig te hou met hoe die regering hul swaarverdiende belasting bestee. In Suid-Afrika word daar daagliks by die Zondo-kommissie gehoor hoe die ANC landsburgers en belastingbetalers minag deur swaarverdiende belasting te plunder.

Nee, ’n mens moet dit nie belasting noem nie, want dan is dit abstrak en ver en behoort dit aan die regering. Noem dit wat dit is – dit is ander mense se geld. Enigiets wat belasting benodig, word in werklikheid met ander mense se geld gebou, bestuur en gefinansier. Prakties gesproke beteken dit dat elke maatskaplike toelaag in Suid-Afrika met ander mense se geld betaal word. Daar word maandeliks ’n kontantoorplasing vanaf belastingbetalers na belastingontvangers gedoen. Dit impliseer ook dat elke staatsamptenaar se salaris met ander mense se geld betaal word; dat die petrol en versekering vir elke blouligbrigade met ander mense se geld betaal word; dat elke munisipale kontrak wat aan kaders toegeken word, met ander mense se geld gefinansier word en dat elke sukkelende staatsinstelling staatmaak op ’n reddingsboei afkomstig van ander mense se geld.

As belangegroep het belastingbetalers ongelooflike mag en is hulle uitsonderlik belangrik. Maar tog het hierdie groep in Suid-Afrika hom nog nie laat geld nie. In ’n land wat gebuk gaan onder staatskaping en waar belastingmisbruik aan die orde van die dag is, het daar nog glad nie genoeg belastingprotes plaasgevind nie. Juis daarom gee Solidariteit se belastingprotes ’n stem aan elke belastingbetaler. Elke belastingbetaler moet aandring dat sy of haar swaarverdiende salaris beter bestee word deur die regering. Elke belastingbetaler moet aanspreeklikheid van staatsamptenare vereis. Elke belastingbetaler moet die hoogste verwagting van die regering rondom dienslewering hê. Jy betaal immers daarvoor.

Wettige belastingprotes behels dat belastingbetalers elke denkbare wettige instrument sal gebruik om die regering te dwing om sy deel te doen. Sodoende kan jy seker maak die SAL implementeer ’n omkeerstrategie en begin wins toon eerder as wat hulle bloot staatmaak op nóg meer van jou geld. Jy kan Eskom en Denel dwing om korrupte amptenare te vervolg wat met jou geld in hul sakke weggeloop het.

Ons het tans ’n regering in Suid-Afrika wat baie belangstel in die hef van belastings, maar wat nie regtig regeer nie. As belastingbetaler is dit jou plig en reg om aanspreeklikheid van staatsamptenare en politici te eis. Jy sou hierdie gebrek aan diens van geen ander maatskappy duld nie – daar is geen rede om ’n laer standaard vir die regering te stel nie. Jy werk hard vir jou geld. Jy verdien beter.

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Met die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad op 10 Oktober vanjaar het Solidariteit die laaste deel van 2019 met ’n groot hoogtepunt aangepak. Dit was ’n heerlike geleentheid waartydens die energie en opgewondenheid tasbaar was onder die groep mense wat saam groot dinge vir ons toekoms help beplan. Tydens die vorige Toekomsberaad, wat in 2015 gehou […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close