Solidarteit Wêreld
2015 - Uitgawe 6 Spreekbuys
Keer glybaan na Zimbabwe met Helpmekaar 2020!
Deur Michelle | 13 November 2015

“We have become a nation of employees. We are dependent upon others for our means of livelihood, and most of our people have become completely dependent upon wages. If they lose their jobs they lose every resource. For them the substance of life is in another man’s hands.” T Tannenbaum – A philosophy of Labour 

Suid-Afrika is gelukkig nie Zimbabwe nie en ons kan nog keer dat ons daar beland. Daar is egter belangrike lesse te leer uit hierdie mensgemaakte ramp. Mugabe se “resep” vir ’n werkloosheidskoers van 80% is al té veel keer in Afrika herhaal om te dink dat dit nie weer kan gebeur nie. Boonop is daar al meer onheilspellende tekens dat Suid-Afrika op ’n glybaan na ’n Zimbabwe toe op pad is. Kom ons wees maar reguit – Zimbabwe praat met ons! skryf FLIP BUYS.

Die mislukking van transformasie as staatsideologie is daar vir almal wat wil sien. Die afdraande pad van hierdie nuwe rassepolitiek lê besaai met die wrakke van kragstasies sonder krag; siek staatshospitale; polisiekantore sonder ’n polisiediens; skole sonder onderwys; ’n staatslugdiens wat vliegtuie met belastinggeld in die lug hou; munisipaliteite sonder dienslewering; universiteite sonder kennis; en ’n SABC met base sonder grade.

Die belangrikste twee rooi ligte is dat dit al meer lyk of die regering nie ’n moderne land kan regeer nie en of Westerlinge nie deel van die regering se toekomsprentjie vir die land is nie. Daar is egter drie “bepalings en voorwaardes” verbonde aan hierdie sterk stelling.

Die eerste is dat die land as geheel nog ver van verval af is, al het baie dele van die staat al verval. Tweedens word daar nie meer vir Afrikaners as gemeenskap 'n plek voorsien nie, hoewel daar in regeringsoë nog plek is vir wit mense wat bereid is om as enkelinge by die meerderheid ingelyf te word. Derdens hang ons toekoms gelukkig nie af van die ANC of van partye wat verder links is nie, maar van onsself.

Daarom is Solidariteit se Helpmekaar 2020-plan daarop gemik om ’n toekoms te skep waarin Afrikaners en Westerlinge ook blywend vry, veilig en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika kan leef – tot voordeel van die hele land en sy mense.

Werkerregte hang af van burgerregte

Ons plan is hoegenaamd nie partypolities nie, maar in wese daarop gemik om ons lede se werk te verseker, want die belangrikste les uit Zimbabwe is dat werkerregte afhang van burgerregte en -vryhede. Hierdie wysheid van dr. Frans Barker, seker die vernaamste arbeidsekonoom wat die land nog opgelewer het, is onderliggend aan ons beplanning. Die rede daarvoor is eenvoudig: Werk is lewensnoodsaaklik vir elke mens. Met ’n goeie werk kan jy vir jou gesin sorg; kan jy en jou gesin ’n ordentlike lewe lei; kan jy spaar vir jou oudag; en kan jy jou roeping vervul. Jou werk bevoordeel egter nie net jouself nie. Jou belasting help om Suid-Afrika se infrastruktuur te betaal; verskaf die produkte en dienste wat die mensdom nodig het; versorg die armes; en skep werk vir jou medemens wat weer dienste en produkte lewer wat jy nodig het.

Daarom is ’n groot deel van ons Helpmekaar-plan daarop gerig om ons lede se werk te beskerm, hulle te help met ’n goeie werk, en hul kinders te ondersteun met goeie onderwys en opleiding sodat hulle ook later self ’n goeie werk kan hê of self ’n werkgewer kan wees. 

Onsigbare werkverliese

Juis om dié rede veg ons ook so hard vir ons lede se werk wat op verskeie plekke in gedrang is. Dreigende afdankings by staalfabrieke en myne haal gereeld die hoofopskrifte omdat die moontlike sluiting van ’n myn of ’n fabriek groot nuus is. Hoe groot die gevaar van die verlies van bestaande poste ook al is, is daar selfs ’n nóg groter gevaar vir werk. Dit behels die derduisende onsigbare werksverliese in die vorm van poste wat nooit geskep word nie! Dit is die eintlike gevaar vir die land, want Suid-Afrika se grootse enkele probleem is dat té min mense werk.

Dit is hoekom daar soveel armoede en ongelykheid is; hoekom daar so min belastingbetalers en soveel belastingontvangers is; en hoekom die regering se mooi planne om gratis dienste en huise vir die armes te gee, onbekostigbaar is. Hierdie basiese werklikheid van ons werksmag wat te klein is, is deur die bekende ekonoom Mike Schüssler beklemtoon. Hy het daarop gewys dat net sowat 40% van volwassenes in Suid-Afrika werk. Dit is minder as in ander Afrikalande soos Uganda, Ethiopië en Angola (sien grafiek).

Daarom is die grootste gevaar vir die land se toekoms dat daar nie genoeg nuwe poste geskep word nie. Die belangrikste redes vir hierdie “onsigbare” werksverliese is maatskappye wat weens elektrisiteitsverskaffingsprobleme nie uitbrei nie, Suid-Afrika se arbeidverhoudinge wat as die swakste ter wêreld gesien word, die land se onvriendelike sakebeleid oor sake soos eiendomsreg, en die land se rassebeleid, vaardigheidstekorte en swak regering.

Onvry, onveilig en armoede

Die gevolge van alles wat nou in die land aangaan, is dat al meer mense bekommerd raak oor hul vryheid, veiligheid en voorspoed. Talle meen dat hul gesinne nie meer veilig is nie, of is bekommerd oor onvryheid weens die transformasiebeleid van rasse-oorheersing, dat hul werk in gevaar is en dat hulle daardeur in armoede gedompel kan word. Daarom is die doel van Solidariteit se plan as moderne Helpmekaar-beweging juis die omgekeerde van hierdie drie vrese. Dit is om ’n toekoms te skep waarin ons ook blywend vry, veilig en voorspoedig kan wees. Die bereiking van hierdie visie is ’n voorwaarde vir ’n goeie werk vir elke lid van Solidariteit.

Die belangrikste voorwaarde om ‘n werk te kan kry, is dat byna al die werkgeleenthede in die land tegniese of akademiese opleiding vereis. Dis hoekom Solidariteit so groot klem op goeie onderwys en opleiding lê. Die Beweging beplan om in die volgende vyf jaar bykans ‘n miljard rand in onderwys en opleiding te belê.

Toekomsberaad 2015: 2020-teikens

Die Solidariteit Beweging het dit by die Toekomsberaad duidelik gemaak dat ons nie net vae planne het nie, maar meetbare doelwitte wat met sterk selfhelp-organisasies nagejaag gaan word. ’n Opsomming van die volledige Helpmekaar 2020-plan is op die volgende webblad beskikbaar: www.toekomsberaad.co.za

Die belangrikste doelwitte vir 2015 tot 2020 is soos volg:

  1. Veiligheidstrukture: Dit word uitgebrei van die huidige 69 na 300 dorpe en stede
  2. Tegniese opleiding: Die huidige 1 200 vakleerlinge wat jaarliks opgelei word, neem toe tot 2 100 vakleerlinge per jaar
  3. Akademia: Neem toe van die huidige 300 studente na 2 000 studente
  4. Helpende Hand se skoleondersteuning: Word uitgebrei van 505 skole na 1 000 skole
  5. Helpende Hand: Groei van 130 na 300 takke landswyd
  6. Solidariteit: 'n Groei van sowat 58 000 lede – van die huidige 142 000 na 200 000 lede wat in hul werkplek bygestaan word
  7. Studiehulp: Verleen van studiehulp aan 4 000 studente, in vergelyking met 1 500 tans
  8. Maroela Media: Van die huidige 1 miljoen na 2 miljoen unieke lesers per maand
  9. FAK-geskiedenisprojekte: Sal uitgebrei word vanaf die huidige 100 skole na 500 skole
  10. Solidariteit: Vanaf 25 vennote na 50 vennote.
  11. Vennote-doelwitte: 'n Toename in Pretoria FM se luisteraarstal van 200 000 na 500 000
  12. Aros Onderwyskollege: 'n Toename in onderwysstudente – vanaf die 700 onderwysstudente wat tot op hede opleiding ontvang het, tot 1 000 voornemende onderwysers.
  13. Die ledetal van die Beweging in die geheel: Vanaf 330 000 na 500 000 lede en hul gesinne.

 

 

 

  •  
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Ons het hierdie jaar weer afgeskop met gedeeltelike duisternis weens Eskom en beurtkrag. Die ongerieflike beurtkragskedules was op almal se lippe en Facebook-profiele. Dit tref ‘n mens mos reg in die middel van die besigste tyd ná werk, wanneer jy moet kos maak, kinders bad of gou daardie bondel wasgoed in die wasmasjien moet gooi […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close