Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 5 Webwoelings
Is kletskamers veilig vir kinders?
Deur Michelle | 29 September 2017

Met al die rekenaartoepassings, kletskamers, sosialemediaplatforms en inligting wat vrylik daar buite beskikbaar is deur slegs aan ’n skerm te raak, is dit geen verrassing nie dat ouers dalk nie ál die moontlike gevare raaksien wat daarmee gepaard gaan nie, skryf Leandré Buys.

 

Een van die grootste aanlyn gevare vir minderjarige kinders is ’n pedofiel wat probeer om hulle te bevriend en hul vertroue te wen. Dit is juis dít wat aanlyn kletskamers so gevaarlik maak. Enigiemand kan daarop inteken – selfs al is jy nie deel van die geteikende ouderdomsgroep nie. Dit is dus nie so moeilik vir ’n volwasse persoon in sy veertigs om homself as ’n seun of dogter van 14 voor te hou nie.

Die belangrikste ding wat jy kan doen, is om toesig te hou wanneer jou kinders aanlyn doenig is. Hier is vier nuttige wenke vir die monitering van jou kind se kletskameraktiwiteite:

 

  1. Kyk na moontlike alternatiewe tot kletskamers

Toe die 14-jarige Zach Marks se ouers hom verbied het om Facebook op die ouderdom van 11 te gebruik, het hy Grom Social geskep, ’n webwerf vir kinders tussen die ouderdom van 5 en 15 jaar wat tans 800 000 gebruikers het. “Die webwerf is deur kinders vir kinders” sê Marks. “Die webwerf word 24 uur per dag gemoniteer. Kru taal word nie op die webwerf geduld nie, en teenboelie-, teendwelm- en teenrookboodskappe word bemark,” voeg Marks by. Marks se webwerf verwyder boodskappe wat persoonlike inligting bevat en leer kinders waarom dit gevaarlik is om sulke boodskappe vir vreemdelinge te stuur.

 

  1. Bespreek en identifiseer basiese veiligheidsreëls

Veiligheidsreëls wat vir gewone kletskamers of groot groepe op Facebook geld, geld ook vir kinderkletskamers! Raai jou kind aan om eerder ’n noemnaam of bynaam te gebruik pleks van sy of haar regte naam. Lê klem daarop dat hy of sy nóóit enige persoonlike inligting aan ander gebruikers mag stuur nie en ook nie foto’s van hulself moet stuur of plaas nie. Jou kind moet ook weet dat hy of sy nóóit ’n persoonlike ontmoeting met een van die ander kletskamergebruikers mag reël nie.

 

  1. Stel veiligheidstappe in werking

Moniteer die kletskamer waarby jou kind wil aansluit van tyd tot tyd. Maak seker dat dit gemoniteer word en of die webwerf of kletskamer ’n voltydse moderator het. Daar moet ook geen privaatboodskapfunksies wees nie. Wys jou kind hoe om iemand te blok en hoe om kletssessies te stoor deur dit na Word-dokumente oor te plaas. Deur die tyd te beperk wat jou kind in kletskamers spandeer, verminder jy ook moontlike risiko’s.

 

  1. Wees konsekwent met reëls

Dit maak nie saak watter internetreëls jy vir jou kinders stel nie, die goue reël is dat dié reëls konsekwent moet wees. As jy byvoorbeeld nie die geklets in die kletskamers toelaat nie, mag jou kinderoppasser of hul ouma en oupa dit ook nie toelaat nie. Die grondslag wat ouers lê, sal kinders help om hulself te moniteer terwyl hulle in die volwasse digitale ruimte ingroei.

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

By Solidariteit het ek die voorreg om saam met ’n klomp inspirerende storievertellers te werk. Die stories wat hulle vertel, is nie sommer net stories nie. Hierdie stories gee jou moed, laat jou 'n bietjie verder en harder dink oor belangrike kwessies en laat jou altyd besef jy het ’n spesiale plek in die einste […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close