Solidarteit Wêreld
2018 – Uitgawe 6 Spreekbuys
Kom ons sit die werk voort!
Deur Michelle | 08 November 2018

My eerste oorsese besoek was net ná die 1994-oorgang in Suid-Afrika. Ons het by familie gaan kuier wat na Amsterdam in Nederland emigreer het. Ek het op die vliegtuig die digter Totius se biografie klaar gelees, waarin daar vertel word van sy besoek aan Nederland ná die verwoestende Anglo-Boereoorlog. Daarin word beskryf hoe Totius en ’n vriend langs die gragte geloop het met groot hartseer oor die smarte van die oorlog, maar terselfdertyd vol planne om die land weer te help opbou.

Terwyl ek daar in ’n straatkafee langs ’n grag gesit en koffie drink het, het Totius se lewensgeskiedenis deur my kop gemaal. Hy was een van die eerste studente van die eertydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, wat later as die Puk bekend geword het. Ná ‘n tydperk as veldprediker vir die Boeremagte, het hy na Nederland vertrek om verder te studeer. Ná sy studies is hy terug na Suid-Afrika, waar hy gehelp het om die Puk weer op te bou. Later was hy die leidende figuur om die Bybel in Afrikaans te vertaal en die Psalms in Afrikaans te dig. Totius was een van die baie pioniers wat die land ná die oorlog letterlik steen vir steen weer opgebou het.

Beloftes van blink toekoms

Daar langs die grag het ek tussen die malende menigte rondom my baie eensaam gevoel. Ek het nie net aan Totius gedink nie, maar ook aan oudpres. Paul Kruger wat ook destyds as eensame balling in Nederland aangekom het vanuit ’n verwoeste land. Dit was vir my asof ons weer, soos in Totius en Paul Kruger se tyd, van voor af sou moes begin. ’n Sin uit die ou president se afskeidswoorde vanuit Europa het my soos ’n pyl getref: “Veel van wat opgebou is, is nou vernietig, verniel of het verval”.

Min mense sou my destydse swaarmoedigheid begryp midde-in die wêreld se jubelkrete oor die nuwe Suid-Afrika. Inteendeel, die meeste sou daardie tyd gedink het dat daar iets met my kop fout was as hulle geweet het waaraan ek dink. Nelson Mandela was toe nog aan bewind, en die meeste het gedink die politieke wittebrood van die ANC sou vir altyd aanhou. Mense was betower deur wat as ’n politieke wonderwerk en die beste Grondwet in die wêreld aan hulle voorgehou is. Die ou en die nuwe regering se politici het almal verseker dat witmense nie iets sal verloor nie, maar dat swartmense nou net hul regmatige regte gaan bykry. Wie kon nou daarteen wees? ’n Blink toekoms het immers vir die land en al sy mense gewink – of so is ons vertel.

Wense en werklikhede

Natuurlik het ek ook swartmense alles van die beste gegun, en vanselfsprekend wou ek graag al die wonderlike beloftes glo. Ek het vurig gewens dat alles waar was, dat dinge sou uitwerk en dat die reënboog vir altyd en vir almal sou skyn. Maar al het ek saam met almal vir die beste gehoop, het ek die slegste verwag. Dis nie dat ek gedink het die land sou dadelik inmekaarstort nie, ek was bloot oortuig dat die ANC nie op die lang termyn ’n moderne land suksesvol sou kon regeer nie. Dit was nie omdat ek ’n bose rassis was wat aan apartheid vasgeklou het nie, maar vanweë ’n jarelange studie wat ek van die ANC se eie dokumentasie, beleid en geskiedenis gemaak het. Ten spyte van my beste wense, het die harde werklikheid vir my gewys dat ’n linkse bevrydingsbeweging nie ’n moderne ekonomie en infrastruktuur sou kon bestuur nie.

Derdewêreldideologie

Dit het niks met ras te doen nie, linkse sosialistiese bewegings van alles rasse het reg oor die wêreld misluk. Hoewel sosialiste hulself sien en voorhou as die mees gevorderde ideologie in die geskiedenis, het die werklikheid in talle lande op die teenoorgestelde gewys. Sosialisme is in wese ’n derdewêreldideologie wat onvermydelik tot ongekende leed en lyding lei. Ek het saam met die Britse denker Roger Scruton gesê: “I bow before the evidence of history”. As iemand wat in politieke wetenskap studeer het, het ek geglo dat dit die uitkomste van ’n beleid is wat tel, nie die mooi bedoelings nie. Die harde praktyk is bepalend, nie die mooi teorie nie.

Reënboogkamoeflering

My siening was dat die ANC net tydelike toegewings gemaak het om die mag te kry, en dat hulle ná bewindsoorname stelselmatig die mag gaan gebruik om hul oorspronklike sosialistiese doelstellings te verwesenlik. Hul dokumente het gewys dat hulle witmense steeds as vyande sien, en nie net as opponente nie. Met die mond praat hulle nierassigheid, maar met die “hand” maak hulle wette wat die hele samelewing volgens ras behandel. Hulle wil nie net noodsaaklike swart opheffing doen nie, maar wil witmense én ander minderhede benadeel.

Vir ons is vertel dat die land nou ’n demokrasie gekry het, maar die ANC het bly sê dit was ’n (onderhandelde) rewolusie. Die swak presterende swart skole en universiteite het hulle gepla, maar die toppresterende wit skole en Afrikaanse universiteite het hulle gegrief. Sosialiste wil nie saam met ander regeer tot voordeel van almal in die land nie. Hulle het sommer gou in 1997 al gesê hulle gaan beheer vat oor alle “hefbome van mag”. Sosialisme is ’n omverwerpings- en oorheersingsmodel. Die bevryders het hulle eers soos oorwinnaars en later soos heersers begin gedra.

Hulle het ervare witmense met wette en pakette uit dorpsrade, staatsinstellings, openbare ondernemings en groot maatskappye “getransformeer”, universiteite en kolleges oorgevat, Afrikaanse skole geteiken, ons geskiedenis gekriminaliseer, ons familie laat emigreer, die polisie laat verval en misdaad laat oorneem, en ná ’n dekade van voorspoed die land wanbestuur, korrupsie soos ’n aansteeklike siekte laat versprei, die ekonomie ondermyn en bykans alles waaraan hulle vat, laat verval. My hoop is beskaam en my vrese vir die land en al sy mense het ongelukkig waar geword: Die ANC het met ’n reënboogkamoeflering aan bewind gekom, maar het gou sy ware kleure gewys. Groot dele van die land is bykans onregeerbaar of lyk soos ’n “verskroeide aarde”.

Bou die toekoms

Dit alles maak my nie moedeloos nie, maar vasberade. As ’n student van die geskiedenis weet ek dat selfs die moeilikste uitdagings oorkom kan word. As daar net ’n wíl is, word die wil die weg. Die resep lê in die res van Paul Kruger se boodskap: “Neem die beste uit die verlede en bou daarmee die toekoms”. Kruger het ook gesê dat sy bittere wete dat hy sy land nooit weer sal sien nie, versag sal word as hy weet dat sy nageslag die werk wat hulle begin het, verder sal voortsit.

Ons kan mos onmoontlik nie berus by al die verval en verwoesting in die land nie. Geen gemeenskap met selfrespek sal dit toelaat nie. Ons mag nie toesien dat daar ’n streep deur ons voorouers se opofferings getrek word nie, en ons wil en ons moet vir ons kinders ’n toekoms bou. Die feit dat die Solidariteit Beweging nou al byna 500 000 lede het, wys vir my ons mense het die wil om weer die beste uit die verlede te neem en ’n toekoms te bou.

Kom ons gebruik ons voorouers se beproefde suksesresep om krisisse te oorkom:

Neem een groot krisis.
Meng dit met leierskap en visie.
Skud dit goed met ’n goeie klomp wilskrag.
Versterk die mengsel met kinderlike geloof.
Vermenigvuldig dit met helpmekaarenergie.
Klits hope harde werk by.
Voeg ’n knypie broedertwis na smaak by.
Versoet met ’n groot skep saamstaan.
Bak nou vir sowat ’n dekade lank in ’n groot bak vol volharding en vasbyt.
Dit behoort genoeg te wees vir die toekoms van ’n hele nuwe geslag.

  • 3
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close