Solidarteit Wêreld
Spreekbuys
Kom ons werk aan oplossings!
Deur PW | 09 Junie 2015

Deur Flip Buys

Die Solidariteit Beweging het op 5 Mei ‘n Krisisberaad saamgeroep om te besin oor die groeiende krisis in die land en om oplossings daarvoor te ontwikkel. Ons doel is nie om net te praat oor die probleme nie. Ons wil iets daaraan doen, want ons is hier om te bly. Natuurlik besef ons goed dat die land en ons gemeenskap se probleme nie oornag opgelos kan word nie. Daarom het ons by die beraad besluit om ‘n klompie korttermyn-aksiestappe in werking te begin stel, terwyl ‘n taakspan gaan werk aan meer omvattende oplossings.

 

Staatsverval en tweedeklasburgerskap

Daar is toenemende tekens dat die tempo van agteruitgang in die land besig is om toe te neem. Die groot gevaar is dat dit later ingevolge die “wet op versnelde agteruitgang” tot staatsverval kan lei. Dit gebeur wanneer iets wat op ’n glybaan na onder is, al vinniger begin afgly totdat dit naderhand in ’n onkeerbare spiraal na die bodem toe spoed. Die “sneller” hiervoor is gewoonlik ’n onverwagse gebeurtenis wat soos ’n vallende domino ’n ketting van gebeure ontketen. Dink maar net hoe die aanvalle op vreemdelinge soos ’n vinnige veldbrand versprei het.

Wanneer ’n Derdewêreldland inplof, is dit soos iemand op ’n fiets wat op ’n plaaspad val. Dit is seer en stowwerig, maar jy kan dadelik weer opklim en verder ry. As ’n moderne land egter verval, is dit soos ’n vliegtuig wat neerstort. Dit gebeur nie baie nie; dit neem lank voordat dit gebeur omdat ’n vliegtuig ver kan sweef, maar as die vliegtuig val, is dit ’n ramp waarvan nie gou weer opgestaan kan word nie.

Suid-Afrika het gelukkig nog nie “geval” nie, en daar is nog baie positiewe dinge in die land wat ’n mens die hoop gee dat die land nie sommer totaal sal verval nie. Maar die rooi ligte flikker, want groot dele van die staat het al verswak of geval en soos domino’s kan dit die res begin omstamp.

 

Die agt ergste staatskrisisse

  1. Die ideologiese krisis: Die regering kon ná 21 jaar nog nie ’n werkbare regerende ideologie ontwikkel nie, maar klou steeds vas aan uitgediende opposisie-  of struggle-resepte uit die Koue Oorlog-era. Dit word al duideliker dat die regerende party tydens die destydse grondwetlike onderhandelinge toegewings gemaak het om die mag te kry, en nou die mag gebruik om hul oorspronklike doelwitte deur te stoomroller. Dít is ’n giftige mengsel van rassenasionalisme onder die dekmantel van “transformasie,” en outoritêre politieke en onbekostigbare ekonomiese sosialisme. Die ANC het dit herhaaldelik duidelik gestel dat die doel van hul transformasiebeleid is om beheer van alle “magsentrums” oor te neem, met “African”-heerskappy (hegemonie) as doelwit.

 

  1. Die politieke krisis: Ons stelsel, wat deur een party oorheers word, lei tot al minder vryheid vir die ekonomie, die opposisie, die media, die regbank, grondwetlike instellings soos die openbare beskermer, staatsinstellings, die burgerlike samelewing, en die beperking van die vryheid van taal- en kultuurgroepe. As dit nie gekeer word nie, is die uiteinde hiervan ’n vryheidslose, ondemokratiese “demokrasie.”

 

  1. Die regeringskrisis: Dit word al duideliker dat die regering nie ’n moderne land kan regeer nie. Dit is die hoofoorsaak van die versnellende verswakking van die staat en dít deur self-toegediende wonde soos byvoorbeeld die regering se rassebeleid. Daarom ontstaan daar ’n groeiende gaping tussen wat die regering wil doen en wat die staat kan doen.

 

  1. Die grondwetlike krisis: Die grondwetlike gesag raak al meer ondergeskik aan politieke mag. Vanweë “Zumafikasie” word Suid-Afrika al meer deur persoonlike en politieke netwerke, in plaas van deur grondwetlike instellings, regeer.

 

  1. Die ekonomiese krisis: Die politiek het verwagtings geskep waaraan die ekonomie nie kan voldoen nie en wat die onvolhoubare toestand tot gevolg het dat 3 miljoen belastingbetalers ’n bevolking van 55 miljoen mense moet versorg.

 

  1. Die bedelingskrisis: Die krisis het tot gevolg dat die ingeboude struktuurfoute onder meer daartoe lei dat meerderheidsregering oorgaan in meerderheidsoorheersing.

 

  1. Die kulturele krisis: Die krisis vergestalt hom daarin dat die demokratiese ruimtes van grondwetlik erkende kultuurgemeenskappe algaande kwyn vanweë die krimpende politieke ruimtes, en dié kultuurgemeenskappe se instellings oorgeneem en elke aspek van hul lewens deur die meerderheid beheer of oorheers word, en dít deur die beleid van “verteenwoordigendheid.”

 

  1. Die arbeidskrisis: Die hemelhoë werkloosheidsyfer in die land lê aan die wortel van die land se probleme, en word verder aangevuur deur swak arbeidswetgewing, die verval van die land se opleidingstelsel, en optrede van sekere vakbonde wat werk vernietig.

 

Hiermee saam kan nog talle ander krisisse genoem word, soos die maatskaplike krisis weens gesinsverbrokkeling, die misdaadkrisis, die groeiende krisis van die land se infrastruktuur soos elektrisiteit- en waterverskaffing, die omgewingskrisis, die tekens van agteruitgang in ons regstelsel met gevalle van straflose korrupsie van politieke leiers, en die demografiese krisis wat homself uitspeel.

Gelukkig is daar ook nog sterk dryfkragte wat staatsverval teenwerk, soos die meervoudige magsentrums in die land, die sterk moderne sektor met sy groeiende middelklas, die veelvlakkige verskeidenheid in die land wat algehele magsentralisasie bemoeilik, die groot groep goed opgeleide mense, die gedeelde Christelike waardes, die onafhanklike howe en die regstelsel, die luide opposisiepolitiek, tegnologie wat mense bemagtig, die kulturele kapitaal in talle gemeenskappe, en die wakende oog van die buiteland.

 

Gevaar van tweedeklasburgerskap

Daar word dikwels gesê dat dit ekonomies nog goed gaan met wit mense in die algemeen en met Afrikaners in die besonder, en dit word as bewys voorgehou van ons voortgesette bevoorregting in die nuwe bedeling.

Maar in die praktyk het meerderheidsregering in meerderheidsoorheersing  begin ontaard. Kom ons kyk hoe die bedeling reeds in die praktyk verander het:

–    Veeltaligheid het ná ’n oorgangstyd oral eentaligheid geword;

–    Gelykheid en “regstelling” het “verteenwoordigendheid” geword;

–    Afrikaanse skole word deurlopend deur staatsweë vir “transformasie” geteiken;

–    Die grondwetlike voorsiening vir Afrikaanse universiteite word polities toegestop;

–    Die betrokke grondwetlike instellings wat hieroor moes waak, is tandeloos, disfunksioneel of is deur die regering gekoöpteer;

–    Rassetransformasie volgens bevolkingsyfers het die meeste instellings onder ANC- en swart politieke beheer laat beland;

–    Die goedkeuring van hierdie grondwetlike regte berus ook by die meerderheid, wat dit betekenisloos maak omdat die ANC dit skynbaar as voortgesette bevoorregting beskou; en

–    Die meerderheid se individuele regte weeg nou, kortom, swaarder as die minderheid s’n.

 

Daarom is die vraag of die tyd nie nou aangebreek het vir ’n omvattende plan om hierdie dubbele krisis die hoof te bied nie.

Die voorwaarde vir die sukses van enige plan is dat dit soveel moontlik steun kry; dat die meerderheid Afrikaners (dalk 80%) dit uiteindelik steun, wat beteken dat ons gemeenskap se belangrikste uiteenlopende sienings deel van hierdie plan moet wees. Planne vir “volkseenheid” werk nie omdat dit veronderstel dat almal by een plan moet inval. Dit is wensdenkery dat almal met alles saamstem; dit gebeur nêrens ter wêreld nie, behalwe miskien in Noord-Korea waar dít wat nie verpligtend is nie, verbode is. Daarom gaan ons planne gegrond wees op “volksveelheid” met die uitgangspunt dat mense nie oor alles saamstem of hoef saam te stem nie – dit is doodnormaal.

Die vorige bedeling het tot ’n einde gekom omdat Afrikaners self besluit het dat die groot eis van die tyd “geregtigheid” is. Daar is nou geregtigheid teenoor die meerderheid. Daarom is die eis van ons tyd nou om te sorg dat daar vir ons gemeenskap ook geregtigheid is. Waar die klem voorheen op “geregtigheid” teenoor ander gelê het, moet die klem nou op ons “voortbestaan” as blywende vry, veilige en voorspoedige gemeenskap lê.

Ons is hier om te bly. Ons sal egter die voorwaardes moet skep om hier te kan bly. Ons omstandighede is uiters ingewikkeld, en ek wil nou al waarsku teen eenvoudige mooiklinkende “oplossings”. Die tyd vir vinnige en maklike antwoorde is lankal verby, en ons wil beslis nie voorgee dat ons al die oplossings het nie. Daarom is die krisisberaad net die begin van ’n langer proses om alle moontlike oplossings te ondersoek, en sien ons uit na die uitvoering van die korttermynaksieplanne, en die ontwikkeling van langtermynoplossings. Lede sal op hoogte van die vordering gehou word, en sal ruim geleentheid kry om insette in die proses te lewer.

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Dit voel vir my of ’n mens hierdie tyd van die jaar ’n ekstra hupstoot nodig het om uit die bed uit op te staan en jou kragte bymekaar te skraap om die dag aan te pak. Dit het nie net te doen met die koue daarbuite nie: Ek merk op dat almal om my […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close