Solidarteit Wêreld
2018 – Uitgawe 2 Spreekbuys
Kommunisme verdruk en verarm werkers
Deur Michelle | 03 Mei 2018

Grondbesettings. Onteiening. Nasionalisering. Sosialisme. Hierdie woorde ruik na die klaaglike mislukkings, uiterste armoede en wrede onderdrukking oral waar dit probeer is. Die val van die Berlynse muur in 1989 het wêreldwyd die oorverdowende val van kommunisme aangekondig, maar bykans 30 jaar later hoor ons in Suid-Afrika al meer van ’n stelsel waarvan miljoene mense wat onder dit geleef het, wil vergeet.

Natuurlik erken die voorstanders van kommunisme nie nou al wat hulle uiteindelike mikpunt is nie, maar enige mens met ’n bietjie kennis van die geskiedenis kan al die tekens raaksien. Kommunisme is nie “verkoop” met harde werklikhede soos konsentrasiekampe, armoede en verdrukking nie. Inteendeel. Dis ’n ideologie wat alles aan almal belowe: werk, grond, huise, gesondheidsorg, kos, pensioen, gelykheid en ’n liefdevolle staat wat van die wieg tot die graf vir jou gaan sorg. Wie kan nou daarteen wees? Maar in die praktyk verander die feëverhaal in ’n nagmerrie.

Die probleem is dat kommunisme so lank terug geval het dat jongmense dit nie ken nie en ouer mense van die mislukkings vergeet het. Daarom het linkse politici soos Bernie Sanders in Amerika en Jeremy Corbin in Brittanje miljoene mense se steun met hierdie uitgediende beleid gewerf. In Suid-Afrika word dit al meer duidelik dat die ANC nou weer terugkeer na hul kommunistiese wortels, terwyl die EFF dit openlik ondersteun. Daarom moet die teorie en praktyk van kommunisme weer bespreek word sodat mense weet waaroor dit gaan en waarom dit nie kan werk nie.

 

Werkersideologie

Kommuniste het hul ideologie nog altyd as ’n “werkersideologie” beskryf en hul planne in die naam van die “werkers” bedryf. Daar is voorgegee dat kommunisme “uit die werkers, deur die werkers, vir die werkers” was. Daarom was hulle Groot Belofte dat die kommunistiese ideologie hemel op aarde vir die werkers sou wees. Maar in die praktyk was hierdie werkersparadys veel eerder die hel as die hemel. Hel op aarde word juis veroorsaak deur politici wat hemel op aarde probeer skep. Dit het ook geblyk dat diegene wat aan bewind gekom het met plegtige beloftes dat hulle die werkers wou dien, eerder net oor hulle wou heers.

In die praktyk is dit oor en oor bewys: Kommunisme is die slegste stelsel denkbaar vir werkers. Werkers in kommunistiese state het die laagste lewenstandaard en die swakste lewensgehalte gehad, hulle het die minste vryheid geniet, hulle werkomstandighede was beroerd, beroepsveiligheid en -gesondheid was swak, vakbonde was onwettig of ‘n verlengstuk van die owerhede, omgewingsbesoedeling was algemeen, en hulle was veel eerder die slagoffers van ’n verdrukkende stelsel as wat hulle as “werkersklas” hulself regeer het.

 

Solidariteit

Hoe langer die kommunistiese bewind was, hoe meer moes hulle die staatsmag aanwend om aan bewind te bly omdat hul regerings al ongewilder geword het. Maar uiteindelik kon die ideologie nie meer standhou teen die werklikheid nie, en het die stelsel met ’n magtige gedruis, wat regoor die aardbol weerklink het, ingeplof. Terwyl die Marxisme ter wille en in die naam van die werkersklas kommunisme wou instel, was ‘n werkersopstand deur die Solidariteit-vakbondbeweging in Pole die begin van die einde van hierdie “werkersideologie”.

 

Base word slawe

Die ideologie wat gelykheid moes bring, het uitgeloop op oorheersing en armoede. Die staat wat die werkers moes dien, het in werklikheid oor hulle geheers. Die werkers moes uiteindelik die staat dien – die base het die slawe van die kommunisme geword. Die staat wat die werkers moes versorg, moes uiteindelik deur hulle gedra word. Die werkers se armoede is juis veroorsaak deurdat hulle die staat moes subsidieer deur hulle swak salarisse!

Die vraag is waarom het kommunisme wat ‘n beter lewe vir werkers moes bring, juis tot armoede en onderdrukking gelei? In kommunistiese stelsels mag niemand wins maak nie, omdat wins gesien word as diefstal van die werkers se geld. Omdat niemand wins mag maak nie, mag niemand ook geld belê nie. Daarom is daar altyd ’n tekort aan geld in die land. Kommunistiese lande sluit die deur vir buitelandse beleggers, omdat sulke beleggers gesien word as uitbuiters van die werkers. Daar is dus nie buitelandse geld wat in die land inkom nie, en ook nie binnelandse beleggers nie. Kommunistiese lande is dus verplig om geld iewers vandaan te kry om te betaal vir fabrieke, myne, salarisse, skole en hospitale, en kos en klere vir die bevolking.

 

Staatsamptenare

In ’n kommunistiese land werk almal vir die staat, wat beteken dat die hele bevolking staatsamptenare is. Die staat is die enigste werkgewer, wat alleen besluit oor werkers se vergoeding. As ’n werker voel hy word te min betaal, is daar niks wat hy daaraan kan doen nie, want daar is nie ander werkgewers wat dalk meer betaal nie. Hy het nie die vryheid om ’n ander werk te soek met meer geld en voordele nie. Daar is ook nie vakbonde wat namens hulle kan onderhandel nie, of die vakbonde is self deel van die stelsel wat werkers verdruk.

Die enigste manier waarmee die staat dan geld kan kry om vir alles te betaal, is om die werkers uit te buit deur almal se salarisse laag te hou. Net die staat kan dan wins maak, deur die land se produkte goedkoop genoeg uit te voer sodat ander lande dit teen ’n hoër prys kan koop. Op hierdie manier kry die staat dan geld om vir alles in die land te betaal. Maar die ingeboude bose kringloop van die stelsel lei tot permanente en groeiende armoede. Hoe meer geld die staat nodig het om vir alles te betaal, hoe meer wins moet hulle met uitvoere in die buiteland maak, en hoe minder moet hulle dan die werkers van die land betaal. So subsidieer die werkers dan die staat.

 

Armer en armer

Omdat die verarmde werkers nie geld het om vir die produkte en dienste wat hulle nodig het te betaal nie, is daar nie ’n binnelandse vraag na produkte en dienste nie, en word daar nie fabrieke opgerig om dit te vervaardig nie. Daar is dus nie ekonomiese groei nie, en ook nie werkskepping nie. Omdat die bevolking groei en daar nie werkloosheid in ’n kommunistiese land mag wees nie, word die bestaande salariskoek net deur meer en meer werkers gedeel en kry almal minder en minder. Daarom word almal net armer en armer, behalwe natuurlik die regering. Geen fabriek kan bankrot speel nie, omdat daar nie iets soos wins en verlies is nie. Bestuurders word om politieke redes aangestel, omdat die Kommunisteparty alles beheer. Dis nou kaderontplooiing op sy ergste! Grootskaalse wanbestuur, vermorsing en korrupsie was algemeen, omdat politici pleks van kundiges alles bestuur het. Dit het in alle kommunistiese state tot wydverspreide verval en agteruitgang gelei, wat uiteindelik die hele stelsel laat verbrokkel het.

 

Rugryers

Produktiwiteit in kommunistiese lande is ook so laag dat dit die land en die werkers arm hou. Die rede hiervoor is dat almal (feitlik) dieselfde salarisse kry, ongeag watter tipe werk hulle doen of hoe hard hulle werk. Die luiaard en die werkslaaf kry ewe veel. Daar is geen aansporing vir mense om harder of beter te werk of hul produktiwiteit te verbeter nie, terwyl daar terselfdertyd alle rede is om saam op die stelsel se rug te ry.

Die rede hiervoor staan sentraal in die kommunistiese siening van werk en vergoeding. Karl Marx het dit die beste opgesom met sy beroemde sleutelstelling “werk volgens jou vermoë en verdien volgens jou behoefte”. Dit beteken dat jou vergoeding nie bepaal word deur jou bydrae of produksie nie, maar deur jou behoefte of verbruik – soos deur die staat bepaal. Dit lei tot armoede, omdat ’n stelsel wat verbruik beloon en produksie ontmoedig, ’n resep vir ondergang is.

 

Welsynstelsel

’n Kommunistiese staatsekonomie raak uiteindelik dan maar net ’n reuse-welsynstelsel waar almal uittap maar niemand intap nie. Só raak die dam gou leeg. Daarom is die gemiddelde salaris in Kuba vir die afgelope dekades al minder as 30 Amerikaanse dollar. Kommuniste verkies dit omdat almal dan “gelyk” is. En kommunisme is mos ’n gelykheidsideologie. Daarom het Winston Churchill gesê die keuse is tussen die ongelyke verspreiding van rykdom en die gelykop verspreiding van armoede.

Die geskiedenis het onteenseglik bewys dat die vrye besluite wat miljoene mense vir hulleself neem, beter werk as die sentrale beplanning en outokratiese besluite en planne van ’n klein klompie politici en staatsamptenare. Wanneer politici die ekonomie regeer, is armoede en verdrukking die noodwendige gevolg.

Suid-Afrika is nog ver van ’n volle kommunistiese staat, en daarom is dit nodig dat die gevaar betyds raakgesien en teengestaan word. Werkers verdien beter, want vryheid betaal beter.

 

“Workers of the world – forgive me.” – Karl Marx (graffiti in Moskou, 1991)

                                “Socialism only works
In two places:
Heaven where they don’t
Need it and hell where they already have it.”
– Ronald Reagan


“Socialism can be summed up in one word: no property rights.” – Karl Marx

 

 

  • 2
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close