Solidarteit Wêreld
2018 – Uitgawe 6
Levinia Heks – van boekkarakter tot superster
Deur Michelle | 08 November 2018

Foto krediet:

Ilze Nieuwoudt 

Sy het al behoorlik volksbesit geword – die skamerige Levinia Heks, oftewel Liewe Heksie wat met haar groottoon in die grond wikkel wanneer die skaamte haar beetpak. Sedert Verna Vels in die 1960’s oor Blommie Kabouter en Liewe Heksie begin skryf het, het Heksie en die karakters van Blommeland ’n tuiste in duisende Afrikaanse huise en harte gevind. Vanjaar is dit reeds 40 jaar sedert dié geliefde karakter haar eerste verskyning op televisie gemaak het, maar die heel jongste generasie kleingoed word steeds meegevoer na Blommeland danksy heruitgawes van die gewilde reeks boeke.

Heksie moes eers radiogolwe ry

Die wonderwêreld van Liewe Heksie, Blommie Kabouter, Karel Kat en die vele ander kleurryke karakters het oorspronklik in die verbeelding van die nou legendariese Verna Vels ontstaan. Vels, wat oorspronklik in 1954 by die SAUK as radio-omroeper begin werk het, het vroeg in die 1960’s stories oor Liewe Heksie en Blommie Kabouter begin skryf. Vels is in Augustus 2014 in die ouderdom van 81 jaar aan kanker oorlede.

In hierdie stories, wat Vels self vanaf 1961 op die radioprogram Siembamba voorgelees het, het Blommie Kabouter oorspronklik die hoofkarakter vertolk. In ’n onderhoud wat sy in 1986 met Die Burger gedoen het, verduidelik sy: “Aanvanklik het ek die verhaal om Blommie Kabouter as hoofkarakter verweef. Heksie was egter gou so gewild dat sy toe vir Blommie van die ‘troon’ gestoot het.”

Die karakter en stories se gewildheid het vinnig toegeneem en kort voor lank was Heksie nie meer net ’n “radiopersoonlikheid” nie, maar ook die hoofkarakter in die Liewe Heksie-boeke, waarna Liewe Heksie-langspeelplate ook die lig gesien het.

“Liewe Heksie” ook ’n liedjietreffer by kleingoed

Die temaliedjie vir die televisieprogram is geskryf en gesing deur Verna Vels (as Liewe Heksie) saam met ’n kinderkoor en bestaan uit twee versies. Die slotliedjie verskil van die openingsliedjie en bestaan uit drie versies. Hierdie saamgevoegde liedjie (bestaande uit vyf versies) is in 2012 in die FAK Sangbundel Volume II ingesluit. Die bekende woorde “nou ken ons Liewe Heksie en kan haar nooit vergeet”, wat in die slotvers voorkom, is as’t ware profetiese woorde vir ’n hele generasie kinders wat met die program grootgeword het.

Die volledige “Liewe Heksie”-liedjie, soos gesing deur Carike Keuzenkamp met Verna Vels as die stem van Liewe Heksie, verskil op sy beurt ook ietwat van die temaliedjie wat vir die televisieprogram gebruik is. In hierdie weergawe, met sy agt versies, word meer van die Blommeland-karakters, insluitend Koning Rosekrans, besoek. Hierdie liedjie is reeds die eerste keer in 1976 op Keuzenkamp se langspeelplaat Kraaines en ander treffers opgeneem. Ander liedjies wat vir die eerste keer opgeneem is en op hierdie plaat ingesluit is, is “Wouter Kabouter”, “Kraaines” en “Die diere se lente-dans”.

Liewe Heksie is al vergelyk met ander legendariese sprokieskarakters soos Gouelokkies en Heidi. Tog is die gelyknamige liedjie oor hierdie skaam karaktertjie net so geliefd en kenners reken dat dié liedjie, soos “Mina Moo en kie” en “Mannemarak”, ’n baie spesiale plek in die Afrikaanse kultuur ingeneem het. En wie sal nou hiermee kan stry?

Liewe Heksie – die kitsfeite

  1. Liewe Heksie was nie oorspronklik die hoofkarakter in die storie nie.
  2. Verna Vels (skepper van die Liewe Heksie-verhale) het reeds in 1961 die eerste verhaal met Heksie en Blommie Kabouter as karakters op radio Die naam van dié eerste stories was Blommie Kabouter en die heks wat vergeet het.
  3. Vir die televisieprogram was Vels die stem vir Liewe Heksie, Mattewis en Blommie Kabouter. (Sy was ook die stem van Bennie Boekwurm in Wielie Walie). Jarelange nuusleser Riaan Cruywagen het die stemwerk vir Koning Rosekrans gedoen en is later opgevolg deur die skrywer en rolprentresensent, Leon van Nierop.
  4. Die eerste Liewe Heksie-boek het in 1965 verskyn terwyl die eerste Liewe Heksie-plaat in 1969 verskyn het. Die televisiereeks is die eerste keer in 1978 uitgesaai.
  5. Vels het gereken dat “’n goeie en effens dom, maar tog onskuldige heks” groot vermaak aan kinders sou verskaf.

Maar sy is ’n HEKS!

Sedert die eerste verhale oor Liewe Heksie en Blommie Kabouter op radio uitgesaai is, en later as televisieprogram en in kinderboeke verewig is, is daar al oor die “heks” in Liewe Heksie gegons. Ouers is dikwels ontstoke oor die gebruik van ’n heks as karakter in kinderverhale. Tog het B. van der Westhuizen in ’n interessante artikel getiteld “Brandpunte van omstredenheid in die Liewe Heksie-reeks van Verna Vels” wat in 1984 in die Literator-tydskrif verskyn het, getoon dat hierdie heks wel “lief” is.

Sy skryf onder meer: “Soos in die geval van die ander karakters is Liewe Heksie se naam deurgaans ’n weerspieëling van haar ware identiteit. Haar naam is nie net die sleutel tot haar karakter nie, maar suggereer ook ’n sekere verloop van verhaalgebeure. Die ikoniese kwaliteit van haar naam – Heksie – roep dadelik die beeld van ’n kinderheks voor die leser op. Te oordeel aan haar voorkoms, moet sy geklassifiseer word as heks – sy het ’n lang, swart jas, ’n swart punthoed waaronder haar lang toutjieshare altyd uithang, maar wat sy – tipiese dogtertjie – graag tooi in twee dun vlegseltjies met strikkies vir spesiale geleenthede. Die beeldende assosiasie van haar naam regverdig nog geen kriminele rekord nie. Word sy van nader bekyk as karakter-in-aksie, word dit duidelik waarom sy ook die onlosmaaklike beskrywende deel van haar naam – Liewe – verdien, en word Liewe Heksie vir die kinderleser ’n identifiseerbare en vir die volwasse leser ’n deerniswekkende figuur.”

Van der Westhuizen kom ook tot die slotsom dat Liewe Heksie nie volgens antropologiese, historiese of moderne benaderings “aan heksery skuldig bevind kan word nie”. Dit is goeie nuus vir alle liefhebbers van hierdie skaam en vergeetagtige karaktertjie.

Redakteursbrief

Deur Cilleste van Dyk Ons sal self. Hierdie drie woorde kan baie arrogant klink sonder die regte konteks. Solidariteit sê: Ons sal self, nie omdat ons dink dat ons dinge alleen of deur ons eie krag sal regkry nie, maar omdat dat daar geen ander opsie is vir ’n voorspoedige toekoms nie. Daarom sê ons […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close