Solidarteit Wêreld
2020 – Uitgawe 1 In Retrospek
Load shedding: Jou beurt, het jy krag?
Deur Michelle | 16 Maart 2020

Foto krediet:

Pick n Pay is ’n mengsel van kleur, klank en beweging – mense, geluide, kinders, trollies, rye ware op rakke. Dis Vrydagmiddag. Net toe ek my hand na die brood uitsteek, is dit skielik donker. ’n Kollektiewe “aaaah…” trek deur die winkel. Vir ’n sekonde of wat is dit doodstil en gitswart. Dan begin klein kolletjies selfoonliggies verskyn. Mense begin weer versigtig beweeg in afwagting op die kragopwekker om in te skop. Dis beurtkrag. Load shedding.

Beurtkrag het ’n mens aanvanklik onkant gevang. Jy is nog besig met jou huistakies wat noodsaaklik is vir die volgende dag om reg te begin as die donker jou skielik soos ’n swart kombers omvou. Jy voel-voel in die gang af, soek in die skoonmaakgoedkas na die kerse, soek die vuurhoutjies, vat die skoenpolitoer raak. Jy swets saggies as jy jou teen ’n tafelhoek kneus. Maar nou het ek ’n app waarop ek mooi kan sien wat elke dag gaan gebeur. Begin beurtkrag vanaf 5:00 moet ek sorg dat ek voor dan my hare was en blaas. Begin dit 19:00 moet ek sorg dat die kos voor dan gaar en die kinders gebad is. Voor die tyd maak ek seker dat die liggies en kerse binne bereik en die vuurhoutjies in een van die blakers lê. Dan, as die ligte uit is, die TV af, die rekenaar buite werking en die stoof en ketel nutteloos, is daar eintlik niks anders te doen as om die rustige stilte in die sagte kerslig te geniet en die reuk van warm kerswas in te adem nie.

Dis in die ligkringetjie van ’n nuut gekoopte kers waar ek nou die aand filosofies dink dat beurtkrag, ten spyte van al die ekonomiese en praktiese ellendes wat daarmee gepaard gaan, tog wel heelwat lesse vir ons te leer het. In die oor-bedrywige loopgange van die lewe skuur ons haastig verby mekaar soos in Pick n Pay, neem die mengelmoes van kleure en klanke halfhartig in terwyl ons voortbeur na die dag se doelwitte. Ons is oormoeg, oor-besig, gedurig half-kwaad of half-benoud.

’n Groot las versamel mettertyd op ons skouers, waaronder ons gebukkend voortsukkel. As ons Here Jesus se stem sag, maar dringend tot ons kom met die woorde: “Kom na my toe, almal wat uitgeput en oorlaai is … My juk is sag en my las is lig…” dan is ons antwoord: Nou-nou, Here. Baie dankie, maar ek is net gou hier besig … dalk vanaand vyf minute voor ek gaan slaap, hoor! Tot Hy dan, tot ons eie beswil, ons tot stilstand dwing met ’n donker kombers, ’n krisis wat ons tot stilstand dwing. Sodat ons ons load moet shed – ons swaar las moet neersit en voor Hom kniel.

Soos beurtkrag het ’n krisis dikwels ook ’n samebindende funksie. Die onwillekeurige en kollektiewe “aaaah…” wat die dag deur die pikdonker winkel getrek het, weerspieël ’n gemeenskaplike frustrasie. Jy kan op enige plek in Suid-Afrika ’n gesprek met enige volslae vreemdeling van enige ras, geslag of ouderdom begin deur beurtkrag te noem. Dis ’n ellende wat almal raak. Net so – eintlik baie meer so – bind ’n krisis mense weer saam wat voorheen miskien besig was om mekaar te verloor. Sibbe wat mekaar onlangs nie in die oë kon kyk nie, omhels mekaar weer om die sterfbed van ’n ouer. ’n Siekte wat jou tot stilstand ruk, laat jou besef dat jy besig was om jou naastes skromelik te verwaarloos en dat daar dinge is – mense – wat oneindig belangriker is as die volgende vergadering. ’n Mens leer vinnig om in die donker van ’n krisis jou prioriteite te herrangskik. In die donkerste tye is dit jou ware vriende wat jou teruglei na die Woord, wat soos die kers of die selfoonliggie ’n lig vir jou voet en ’n lamp vir jou pad is.

Beurtkrag hou ook darem ’n troos in: Dis net ’n beurt. Dit gaan verby. Dis beperk. In Pick n Pay was die donker episode gelukkig baie kort. Die kragopwekker het ingeskop, die musiek, lig, kleure en klanke was terug, mensestemme het weer opgeklink, kasregisters se liggies het aangegaan en almal het hulle trollies verder gestoot asof niks gebeur het nie. In ons huise duur dit ’n bietjie langer, miskien twee ure of so. ’n Lewenskrisis kan baie langer wees, selfs ’n paar jaar. Maar ons mag weet, dis beperk. Dit sal vir seker eindig, al is dit dan in die Nuwe Jerusalem. Ons genadige Vader beproef ons nooit bo ons kragte nie. Daar is altyd weer lig, weer vrolike stemme en musiek, weer normaliteit. Solank ons nie, soos in Pick n Pay, net weer voortgaan asof niks gebeur het nie. Jou beurt moet jou iets leer. Jy moet anders wees as voor die donker.

Anders is jou load nie ge-shed nie…

  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

Met die Covid-19-inperking steeds volstoom aan die gang, bring ons vir jou nóg ’n inperkingsuitgawe op jou rekenaarskerm, hierdie keer met gemak saamgestel asof dit al jare lank so gedoen word. Almal het die nuwe manier van doen se ritme nou reeds bemeester, met sommige wat intussen terug is by die werk terwyl ander nog […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close