Solidarteit Wêreld
2017 – Uitgawe 5 Nuuswaardig
Mynwerkersmoederhen
Deur Michelle | 29 September 2017

Sy sit trots maar rustig, soos elke ander dag, agter haar geordende lessenaar waar sy as Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging, se persoonlike assistent werk en sy gaste ontvang. Haar donker oë vriendelik en haar glimlag aansteeklik. Haar gesig helder dadelik op met die onverwagse besoek en sy antwoord met entoesiasme my vrae oor die tyd toe die vakbond Solidariteit nog jonk was, toe dit nog die Mynwerkersunie was. Die dae van tikmasjiene.

28 jaar terug het 'n doelgerigte en hardwerkende donkerkop, Melinda Janse van Rensburg, by die Mynwerkersunie (MWU) as tikster begin werk. Haar nostalgiese antwoorde oor die destydse vakbond breek dadelik die ys.

“Dit was net soos voor die Skepping, woes en leeg,” lag sy.

Daar was in daardie tyd 'n totaal van nege personeellede wat by die unie se hoofkantoor in Braamfontein gewerk het. “Jy kon wegkom met 'n dosyn koeksisters en 'n dosyn vleispasteitjies vir verjaarsdae,” skerts sy.

Melinda het ná matriek ingeskryf vir teleksopleiding. Sy het by 'n telegraafkantoor gewerk en baie intensiewe opleiding in tikwerk ondergaan. “Dit is te danke daaraan dat ek so vinnig kan tik,” vertel sy. Die tikwerk en uitstuur van boodskappe was destyds baie anders as vandag. Die telegramme en boodskappe was alles direkte kommunikasie – jy stuur dit soos jy tik. “As jy ’n ekstra nul op ’n ‘moneygram’ gesit het, sou jy die een wees wat moes inbetaal.”

Melinda vou haar arms gemaklik voor haar op die lessenaar en skuif haar reg in die lessenaarstoel terwyl sy begin gesels oor haar destydse aanstelling en die werk by die MWU.

Peet Ungerer, destydse hoofsekretaris van die MWU, was bekend daarvoor dat hy elke vakbondsent twee keer omgedraai het. Hy was boonop ‘n uitstekende onderhandelaar. Melinda glimlag ingedagte en herhaal wat hy gereeld aan die personeel gesê het: “Ons werk hier met trustgeld, mense, ons werk hier met trustgeld.”

Met dié kultuur van spaarsamigheid het die destydse mynpensioenfonds 'n advertensie in die plaaslike koerant geplaas vir 'n tiksterspos, soos sekretaresses destyds genoem is. Mnr. Ungerer het deur die mynpensioenfonds se menslikehulpbronnebeampte, mnr. Mitchel, met kandidate onderhandel. Sy vereiste was dat hy self eers ‘n geskikte kandidaat moet ontmoet voor ‘n aanstelling gemaak word. Hoewel Melinda die mynpensioenfonds se eerste keuse uit die finale kandidate was en hulle haar baie graag wou aanstel, was die ooreenkoms dat mnr. Ungerer haar eers moet ontmoet. Maar ná die ontmoeting is sy ook sommer ‘n aanbod gemaak.

Dit het nie veel van mnr. Ungerer, onderhandelaar wat hy was, geverg om Melinda se verwagte salaris met R30 af te stry nie, wat haar met ‘n totale salaris van R820 per maand gelaat het. “Die ure was lekker en ek het baie geleer in daardie tyd,” onthou Melinda met heimwee.

Daar was meer as genoeg werk by die MWU. Mev. Liebenberg, mnr. Ungerer se persoonlike assistent, het Melinda eendag ‘n kyk gegee en gesê: “Juffroutjie, ek kan sien jy is vaardig met die tikmasjien en baie vaardig met syferwerk. Kan jy nie ook sommer mnr. van Rensburg  se finansiële state tik nie?” As opgeleide tikster moes Melinda toe vinnig leer om balansstate en inkomstestate te tik vir die unie se rekenmeester – die man wat ook later haar skoonpa sou word. Met haar leergierigheid en doelgerigtheid het haar take by die dag vermeerder. Kort voor lank het sy ook die destydse pensioenboekies en polisboekies oorgeneem. Sy het lede-administrasie, voordeelondersoeke by beroepsbeserings, reëlings vir post mortem-ondersoeke ná mynsterftes, notulering van raadsvergaderings, skakelbordfunksies en die tik van regsstukke hanteer.  Die maandverslae van die bedryfshoofde en die uitstuur van fakture vir die MWU se advertensies was ook deel van haar verantwoordelikhede.

In 1993 het sy as sekretaresse by ’n ouditeursfirma gaan werk en daar rekenaaropleiding ontvang.  Toe Flip Buys teen die einde van 1993 moes aflos in mnr. Ungerer se pos, het hy vir Melinda gekontak om te vra of sy nie wil terugkom vakbond toe nie, juis omdat sy alles so goed geken het.  Sy het nie geskroom om die aanbod te aanvaar nie – dit was juis die omgee-kultuur van die vakbond waarna sy verlang het. “Dis lekker om 'n verskil in ander se lewens te maak!” sê sy.

Sedertdien stap sy en Flip die paadjie baie nou saam. Die kongresse, nasionale raad, beursaansoeke en die aansoeke vir Helpende Hand het onder Melinda ingeval.

“Ek was eintlik die stigter van elke afdeling,” lag sy skaam. “Ons het saam deur swaar finansiële tye in die vakbond gegaan met groot omwentelinge op byna alle terreine, maar Flip se omgee-hart en sy visie vir die toekoms het die uitdagings die moeite werd gemaak.”

Melinda sien die vakbond as 'n kind wat sy help grootmaak het. Sy is dankbaar dat sy, saam met die visie wat Flip en sy span na die vakbond gebring het, so ’n groot aandeel kon hê in die groei, die passie vir mense, hul swaarkry en hul nood. Gedurende haar tyd by die vakbond kon sy baie nuwelinge onder haar vlerk neem en talle personeellede troos en bystaan, veral toe sy ook die rol van menslikehulpbronnebeampte moes beklee en sekere personeel se verlof moes goedkeur. Sy het 'n moederlike rol ingeneem, amper soos 'n moederhen, onthou sy. Die moederhen van die MWU, as’t ware.

“Wat ek altyd van die vakbond sal koester, is die feit dat hy die kern van sy hart behou het terwyl hy ’n metamorfose ondergaan het – sy hart van omgee en sy hart vir mense. Ek kon dit by Flip ook sien. Dit is lekker om saam met hom in dié juk te trek.”

Melinda glimlag gelukkig terwyl sy uitbrei oor die jarelange werkverhouding tussen haar en Flip.  Melinda en Melanie, Flip se vrou, is eintlik goeie vriende, en sorg dat hulle altyd ’n tydjie afknyp om in mekaar se lief en leed te deel. “Ons ken mekaar se geskiedenis so goed,” sê sy. Sy is al so lank deel van die Buys-familie dat sy al amper soos 'n dogter voel.

Melinda sien die humor in alles raak. Sy lag uit haar maag, “anders gaan die lewe jou onderkry,” lag sy. Haar lewensfilosofie is om in moeilike tye haar sin vir humor te behou.

Sy sien haarself as 'n perfeksionis: Dinge moet reg loop en sy moet in beheer wees, hoewel sy weet eksterne faktore laat dit nie altyd toe nie. Sy het ook al geleer om kalm te bly in moeilike situasies, veral dié waarin sy nie beheer het nie. Sy glo ook daaraan om alle mense met respek te behandel. Sy skuif reg op haar stoel, amper asof sy standpunt wil inneem, en herhaal die woorde: “Hanteer alle mense met respek, net soos jy wil hê ander jou moet hanteer.”

Melinda probeer haarself altyd in ander mense se skoene plaas – dít het sy geleer met die oproepe van ontstelde lede en mense wat hul storie wil vertel. Sy het baie empatie en glo jy het ‘n beter begrip van iets sodra jy jou in daardie persoon se skoene plaas.

Beoonop is Melinda ’n leergierige mens wat daarvan hou om oplossings vind. In haar 27 jaar by die vakbond het sy nog nooit 'n werksessie of leergeleentheid geweier nie, sê sy. Sy skram allermins weg van nuwe uitdagings.

Daar is iets edel, rein en baie merkwaardig aan Melinda Janse van Rensburg – iets wat jy aanvoel en sien sodra jy by haar kantoor instap. Dis soos ’n sonstraal wat jou vir ‘n oomblik warm bak voor Flip uitstap om jou te ontvang.

“Ek was nog nie een dag spyt dat ek destyds ja gesê het om deel te wees van hierdie wonderwerk nie.”

  •  
  •  
  •  
  •  
Redakteursbrief

So staan nog ’n jaar einde se kant toe. Hoewel die laaste deel van 2018 steeds volgepak is met dinge om af te handel, kan ons reeds met tevredenheid terugkyk op die jaar se groei en sukses tot op hede. Hierdie is die 100ste uitgawe van Solidariteit Tydskrif en bied dus die perfekte geleentheid vir […]


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close